Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Lorette se ‘vyand’ toe haar vriend
Superintendent Lorette Mostert was die deelnemer wat deur TV-kykers gekies is om dinge te gaan uitsweet op 'n eiland in Maleisië vir Survivor South Africa: Malaysia. Met haar oë nog bloedrooi van min slaap, het sy vir Amanda de Lange vertel hoe dit voel om 'n miljoen rand ryker te wees. “Baai-baai miljoen.” Dís wat deur Lorette Mostert, Suid-Afrika se tweede Survivor-wenner, se kop gegaan het toe sy sien Angie Bennet se stem was die beslissende een om die wenner te bepaal. “Ek en Angie was soos water en olie op die eiland. Toe ek sien dis haar stem wat die wenner bepaal, was ek seker dit sal na Grant toe gaan. Maar dis nou presies soos Angie is – sy sal ’n plan maak om die trein te laat ontspoor. En vandag is ek baie dankbaar dat sy so wisselvallig was,” het Mostert gister gesê. En hoewel sy en Bennett glad nie op die eiland oor die weg gekom het nie, is daar geen blywende kwade gevoelens nie. “In die spel op die eiland het Angie al my verkeerde knoppies gedruk en ons het nie goed oor die weg gekom nie. Maar nou, buite die spel, het ek agtergekom sy is ’n baie aangename mens. Ek hou baie van haar. Al 16 deelnemers was eintlik mense met aangename persoonlikhede. Daar was niemand daar met wie ek nie, nou, weg van die eiland af, oor die weg sou kon kom nie.” Sy het die sagste plekkie in haar hart vir Hein, Mandla en Irshaad. “Irshaad het my na aan die hart gelê. As ’n mens kyk na hoe hy grootgeword het en hoe hy sy lewe verander het, het hy baie vermag. Ek het ’n baie sagte plek vir hom.” Toe die wengeld van R1 miljoen ter sprake kom, lag sy net. Enigiemand wat gedink het dié polisievrou en ma van twee gaan haar werk bedank en die miljoen blaas, het die pot lelik misgesit. “Ek doen nie polisiewerk vir ’n salaris nie, ek doen dit vir die liefde daarvan. En ek sal nie nou daarmee ophou nie,” het sy gister vertel. Planne met die geld is daar nog glad nie. Deels omdat dit nog nie werklik ingesink het dat ’n bedrag met ses nulle in haar bankrekening gaan verskyn nie en deels omdat sy gelukkig is met haar lewe soos dit is. “Ek weet nie eens hoe so ’n klomp nulle in ’n mens se rekening lyk nie!” lag sy. “Ek sal die bestuurder moet gaan vra of hy seker is dit is my rekening.” Sy het nie aan Survivor deelgeneem met die doel om die geld te wen nie, vertel Mostert. Dit het om die ervaring gegaan. En om in die top-twee te beland, was die “alfa en omega”. “Ek het geen idee wat ek met die geld gaan doen nie. Ek verdien nie ’n groot salaris nie, maar ons lewe lekker. Ons is gelukkig. Ons het geen planne nie. Nie ’n nuwe kar nie, nie ’n groter huis nie, nie ’n vakansie nie. “Ons het eintlik nog nie eens kans gehad om oor die geld te praat nie. Gisteraand (Woensdag) was só ’n harwar. Die partytjie ná die program was absoluut mal! Toe ons later in ons hotelkamer kom, het ons eintlik sommer net oor algemene dinge gesels.” Wanneer sy terugdink aan die tyd op die eiland is dit met goeie herinneringe – al was daar hoogtepunte én laagtepunte. Die hoogtepunte, vertel Mostert, was die fisieke uitdagings. “Dit was vir my verskriklik lekker om dit te doen. Ek het elke dag daarna uitgesien.” Die laagtepunt dan? “My tranedal op nasionale televisie,” kom dit sonder skroom. “Dit was pure frustrasie, dink ek. Die omstandighede was redelik stresvol. Tuis het ek ook baie stres, maar ek gaan draf elke dag om daarvan ontslae te raak. Op die eiland kon ek nie net elke middag verdwyn om te gaan draf sodat ek van my stres ontslae kon raak nie.” En draf, dié sal sy aanhou doen. So ook haar werk as midaadbestryder. Hierdie groot sak vol geld gaan Lorette Mostert nie verander nie.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|