Gaan Mbeki by buurtwag aansluit?
Daar's eintlik vrek baie ooreenkomste tussen pannekoek bak by 'n basaar en kinders grootmaak...
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Stephen word toe oornag ‘Die Skrywer’
May 04 2008 02:43:45:927PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Sedert die toekenning van die Hertzogprys vir Sewe dae by die Silbersteins aangekondig is, het Etienne Leroux, onder sy vriende bekend as Stephen, min rus gekry.

Kunstenaars, vriende en onbekendes van oor die hele land het gebel of gelukwensinge per pos gestuur. Joernaliste het sy huis op die plaas Janee naby Koffiefontein oorval en was beïndruk met sy vrou, Renée, se skepping: die patio’s, die fassinerende klipwerk, die ruwe tekstuur van die mure, die klipvloere en haar skilderye.

Met die bekroning en die gedoentes orals in die pers was Stephen oornag ’n beroemde man op Koffiefontein. Wanneer hy vir sy daaglikse bier by die hotel opdaag, word dit stil in die kroeg.

“Baie geluk, mnr. Le Roux,” sê een van die boere, terwyl hy hom ’n handdruk gee.

Aan die skrywer en medikus Petronella van Heerden skryf hy sy grootste kampvegter is Louw van Louw se Kafee:

Hy verkoop ’n pakkie Lexington aan Swart Piet Jacobs wat die boek gekoop en die eerste twee bladsye gelees het.

“En ek sê vir julle, as julle vuilheid soek, sal julle dit in die boek kry. En as julle vuilheid soek, sal julle dit kry in die slette van Koffiefontein.” (Hy wys na ’n meisie wat oor die markplein stap.)

“Vuilheid is waar julle dit soek. Stephen sê dinge soos hy dit sien… in sy boek.”

Stephen voeg by: “Mnr. Louw is baie na aan my hart omdat hy glo dat ek oor ‘vuil’ dinge skryf en die reg het om vuil te skryf.”

Ná die toekenning bekend gemaak is en nadat hy weer op besoek aan Kaapstad was en vriendelik deur die personeel van Human & Rousseau ontvang is, skryf Stephen aan sy uitgewer, Koos Human:

“Dit gaan maar dol in die huis van die koning. Fotograwe, koerantmanne en skurke oorval ons bykans elke dag. ’n Stoet motors wag my in as ek gaan inkopies doen. ’n Geroep van Vry-sta-a-a-at! vergesel my wandelings deur Bloemfontein. Vriende doen kniebuigings. ’n Vervreemding tussen my en ou kennisse vind alreeds plaas.

“ ’n Sekere mate van hooghartigheid, ydelheid, selfbelangrikheid, verwaandheid, is te bespeur. Die verbode vrug is gepluk en verorber. Lucifer het soos ’n ster geval. Ek kan slegs hoop dat ou vriende, as hulle die verworde koning sien, sal terugdink aan die jong prins. […] Dra my dank oor aan jou personeel vir die telegram wat gestuur is – aan die liggaam as sulks of afsonderlik aan die ledemate, net soos jy verkies. Sê vir hulle dat ek dit baie waardeer.”

Aan D.J. Opperman skryf Stephen op 4 Junie 1964 nadat hy die aand van die hoorbeeld oor die geskiedenis van die Hertzogprys “so dramaties via die radio” bekroon is:

“Renée sê ook baie dankie aangesien sy voel dat sy met reg aanspraak kan maak op daardie besondere bydrae wat vrouens van skrywers volgens legende lewer. […]

“Ek het oornag in Koffiefontein en omgewing tot my ontsteltenis bekend geword as DIE SKRYWER. Ek was byvoorbeeld vanmôre op ’n beesvendusie in Perdeberg (daar waar die Engelse Cronjé vasgekeer het). ’n Boer het skaars sy skape van ’n vragmotor afgelaai toe hy my sien en vir ’n ander boer skreeu: ‘Maar dis mos Etienne Leroux, DIE SKRYWER!’

“Die afslaer van Rodericks het my gelukgewens en vertroulik aan my meegedeel dat hy heelwat staaltjies tot my beskikking het indien ek hulle wil gebruik in my BOEKE. Ons plaaslike winkelier wil hê dat ek sy winkel in een van my volgende romans moet beskryf.

“My krediet by die bank is op die oomblik uitstekend. Die mense groet net links en regs. Ek sê vir hulle dat dit eintlik ’n eer vir Koffiefontein is en ek het heelwat sukses daarmee.

“Te danke aan Die Volksblad se rare koerantskrywers leef daar op die oomblik in die gemoedere van die Suidwes-Vrystaters iemand wat BOER en SKRYWER is; iemand wat bedags op die lande werk en snags skryf; iemand wat op ‘jeugdige’ leeftyd die hoogste sport bereik het.

“Daar is talle wat iets verdags in die hele toekenning sien, wat in my die tekens van die tyd gewaar: die triomferende pornograaf.

“Daar is iets heerliks vaag omtrent die affêre – die R2 000, die berigte in die koerante, die geheimsinnige tikmasjien; jy word ’n soort tycoon van die gees; jy ‘bereik’ iets; dis die vrug op jou arbeid. En ek weet nie van ’n enkele een wat nog my boek gelees het nie.

“Trouens, daar is weinig wat verder as die eerste paar bladsye sal kom. Maar dit skep ’n newelagtige atmosfeer van sukses en tot die volgende vendusie, wanneer belangriker dinge op die voorgrond sal kom, is ek so beroemd as wat Van Wyk, die moordenaar-van-vier, berug was. (Sy broer was onderwyser op Koffiefontein.)

“Vanaf my dorp op Olympus groet ek jou dus en sê nogmaals baie dankie vir alles.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |