Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Boek begin uitstekend, maar word later kurkdroë leesstof
May 04 2008 02:43:42:130PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Jan-Jan Joubert

Alife in transition deur Alex Boraine. Zebra Press (hardeband, 322 pp.), R220.

Hierdie is ’n moeilike boek om te takseer omdat die uiters interessante en hoogs vervelige dele mekaar bykans arbitrêr opvolg.

Dr. Alex Boraine het bepaald ’n hoogs interessante lewe gelei, en sit trouens steeds sy werk ten behoewe van geregtigheid wêreldwyd voort.

Hy was die president van die Metodistekerk voor hy in 1974 die PFP se LV vir Pinelands geword het. In 1986 het hy uit die parlement bedank om die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief in Suid-Afrika (Idasa) saam met dr. Frederik Van Zyl Slabbert te stig.

Hy was aartsbiskop Desmond Tutu se adjunkvoorsitter by die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) en is tans voorsitter van die raad van die Internasionale Sentrum vir Oorgangsgeregtigheid, wat in New York gesetel is.

Waar Boraine vertel oor sy veelbewoë lewe is die boek heerlik en fassinerend. Sy rowwe kinderjare in die Kaapse voorstad Brooklyn is deurspek met vertellings wat jou laat grinnik. Des te meer die verhale uit sy sendelingdae in Transkei, met die hoogtepunt vir my die begrafnisdiens met ’n groot lyk wat maar net nie wou saamwerk nie.

Boraine se rol om die Metodistekerk meer nierassig te maak, is eweneens fassinerend, asook watter harde werk dit was om sy gesinslewe te laat vlot in samewerking met sy vrou, Jenny (wat ’n mens agterkom voorwaar hare op haar tande moes hê!).

Die dele oor sy dae as parlementslid is uitstekend. Dit laat mens weer besef watter groot rol die PFP as liberale opposisie gespeel het teen ’n honende opponent. Die liberale pad is nooit maklik nie en hierdie boek dra nogal by om die interne verdeeldheid van die PFP beter toe te lig.

Een van die hoogtepunte is hoe Boraine verduidelik watter pad hy geloop het in sy besluit om in 1986 uit die driekamer-parlement te bedank. Die wyse waarop Idasa tot stand gekom het en die risiko’s wat met die eerste ontmoetings geneem is, verdien ook boekstawing.

Die stukke oor die WVK is minder bevredigend, miskien omdat hy reeds daaroor ’n boek geskryf het, naamlik A country unmasked.

Bogenoemde opmerkings laat dit dalk klink asof A life in transition ’n uitstekende boek is. Dit is nie.

Dit sou gewees het as Boraine bly vertel het oor sy lewe, maar ’n groot deel van die boek gaan oor sy beskouings van geregtigheid, en dis kurkdroë leesstof.

Hy skryf in sy voorwoord dat hy die boek wou skryf oor oorgangsgeregtigheid – hoe om geregtigheid te laat geskied in voorheen kwaai verdeelde samelewings, dus dikwels met waarheidskommissies – maar dat sy uitgewer hom ontmoedig het om dit te doen.

Wat ’n jammerte die uitgewer het misluk. Dit mag so wees dat Boraine dit as sy plig en selfs sy roeping sien om sy huidige organisasie se bestaansrede te verwoord, en daar is sekerlik diegene wat genoegsaam belang stel om so ’n boek aan te skaf.

Om dit met jou lewensverhaal te vervleg, is egter nie om ’n outobiografie te skryf nie, en vir my was die dele oor hoe om geregtigheid struktureel te laat probeer geskied en die vele reise om sulke strukture aan te help, ontsettend vervelig.

Dit is ’n groot deel van die boek en dui op ongedissiplineerde redigering. Dis onpersoonlik en langdradig.

Gelukkig eindig die boek met ’n aangrypende kroniek van sy kankerbehandeling en ’n hoogs intelligente bestekopname van ons huidige politieke situasie.

Kortom bevat die boek wonderlike vertellings oor die sendingdae en die PFP, asook die breër Suid-Afrikaanse politiek in die 1970’s en 1980’s, waarvan sommige mededelings nuwe lig werp op die interpretasie van die tyd.

Diegene wat spesifiek in daardie tye belang stel, sal heelwat uit die eerste deel van die boek put.

Die hoogs vervelige dele oor oorgangsgeregtigheid bederf dit egter in so ’n mate dat die boek myns insiens nie waarde bied vir die omslagprys nie.

  • Joubert is politieke redakteur van Die Burger.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |