Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Evokatiewe uitbeelding van grootwordjare in Suid-Afrika
May 11 2008 04:07:10:113PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Ronel Nel


Stealing water deur Tim Ecott. Sceptre-uitgewers (sagteband, 304 pp.) R184,95.

Bestel die boek by Kalahari.net deur hier te kliek.

Elkeen se storie oor grootword in Suid-Afrika verskil.

John van de Ruit se skreeusnaakse Spud het vertel van sy soms bisarre tyd in die ou SA, en Richard de Nooy se Six fangs and a tetanus shot had weer ’n ander invalshoek: dié van ’n Hollandse Suid-Afrikaner en sy dubbel-uitgeslotenheid in die destydse slegs-wit-werklikheid.

En nou, met Stealing water, ontdek ons die dualiteit van Tim Ecott – deels Ier, deels Suid-Afrikaner. Teësinniglik so.

Ecott se verhaling van sy tienerjare in Johannesburg in die sewentigs is een van die mees evokatiewe vertellings in ’n lang tyd – trouens, die boek se memoir-styl word vergelyk met Rian? Malan se My traitor’s heart.

Die twee boeke is dalk in gehalte pasmaats, maar tematies verskil dit reëlreguit.

Die skrywer se pa was ’n Britse militêre man en die gesin is destyds in verskeie lande geplaas “in diens van die kroon”. Daar word vlugtig verwys na die ander, meer eksotiese lande, maar Ecott se narratief fokus grootliks op sy belewenisse in Ierland en Suid-Afrika.

Hy vleg deur tyd en omgewing, geensins chronologies nie, en stel sy grootwordjare in die groen mistigheid van Ierland teenoor sy tienerjare in die grimmige meedoënloosheid van Hillbrow, Johannesburg.

Sy ontdekkingsreis van tipiese Suid-Afrikaanshede dien as ’n sielvolle blik op ’n tyd wat finaal verby is. Enigeen wat Hillbrow – en Yeoville en Rockeystraat – in die laat sewentigs en tagtigs beleef het, sal die reuke, tekstuur en die krag van die destydse “miniatuur-New York” herken. Die Village Market – waar sy ma ’n snuisterywinkel, WhatNot, gehad het – Vintage Vinyl, Estoril Books, Cafe Wien, die Mini Cine.

Ou vriende, almal daar, soos waargeneem vanuit die groeiende ongeloof en waardering van dié misplaaste tiener.

Selfs op intiemer vlak is die lewe dig herkenbaar. Aande wat omgespeel word deur Mastermind of Monopoly, min of geen televisie – Dallas was ’n hoogtepunt – en tuisflieks wat nog op filmrolle na ’n wit laken geprojekteer is.

Ecott se Hillbrow-karakters – en daar is baie in hul ondergrondse werklikheid – word sintuiglik en uiters lewendig geteken; hulle het deel uitgemaak van Die Ander wat ons destyds vanuit ons beskermde Afrikaanse enklave aanskou het. Die buitelanders: Die Hillbrovniks (Russe), Libanese, Jode en Duitsers. Vandag vervang deur Nigeriërs, Mosambiekers en Zimbabwiërs. En deurentyd is sy pragtige Ierse ma, Pamela, die kernfiguur, “Timmy” se baken.

Stealing water is egter nié net nog ’n kwaad-verhaal van opgroei in ’n land waar die protagonis nie eintlik tuis voel nie.

’n Land – of ’n stad – wat hy intiem leer ken as sy enigste werklikheid, mét die gepaardgaande aardige oomblikke en liefderyke omgang met die omgewing.

Dit is eerder ’n verhaal van hoe een so ’n “buitelander” ’n nuwe, meestal ongemaklike, afgesonderde kontrei leer ken. Een waarvoor hy dan, ten spyte van die onversoenbare werklikheid van hul situasie vis-à-vis die land s’n, onlosmaaklik lief word.

Benewens ’n paar kleinere geheue-vergissings – meestal as dit kom by die spelling van Afrikaanse woorde – is die boek ’n heldere, klinkklare saluut aan, en afskeid van, ’n getekstureerde era in wit Suid-Afrika.

Soos gesien vanaf die ander kant.

  • Nel is ’n vryskut-resensent.

    Bestel die boek by Kalahari.net deur hier te kliek.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |