Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Strandpad lei van meisie tot volwassene
Alle paaie lei deur die Strand deur Corlia Fourie. Lapa-uitgewers (sagteband, pp.164), R120. Corlia Fourie is ’n joernalis en is veral ook bekend vir haar kortverhale. Sy is ook die dogter van die welbekende eertydse skrywer Mikro. Hierdie is slegs haar tweede roman. Wat dit so besonders maak, is dat elke hoofstuk eintlik ’n kortverhaal is wat ook selfstandig kan staan. Sommige hoofstukke is inderdaad voorheen as kortverhale gepubliseer. Die roman word tot ’n eenheid saamgesnoer deur die see, in besonder die see by die Strand, en veral soos belewe vanaf haar ouma se huisie. Die dowwe buitebladfoto van ’n volwassene en ’n kind op ’n verlate strand gee reeds die tema van die kort roman weer. Die voorblad word binne herhaal, maar in swart-en-wit. Die dowwe beelde in hierdie illustrasies kan dui op die invloed van volwassene op kind, soos dit ook later in die verhaal blyk – veral die komplekse verhouding tussen die dogter en haar ma. In die eerste verhaal is die verteller ’n klein dogtertjie wat by haar godsdienstige tante moet bly terwyl haar ma vir haar “ ’n sussie in die hospitaal gaan haal”. Die dogtertjie huil omdat sy haar ma wil hê. Sy drink sommer ’n hele bottel hoesmedisyne uit. Hier is reeds talle pragtige beskrywings, soos van die babakamer in die hospitaal: “Daar is klein bedjies en in die klein bedjies is bultjies onder die kombersies en op die kussings is klein gesiggies.” Sy het nie besef dat haar ma vir haar só ’n klein sussie gaan haal het nie. In die tweede verhaal, “Pa word ’n reus”, is die dogtertjie al ’n bietjie groter en lê die baba al in ’n waentjie by die huis. Die vertellertjie kry slae en haar pa lyk vir haar soos ’n groot reus. Soos die verhale vorder, word die dogtertjie groter en ouer. Ouma Strand bly deurgaans ’n belangrike figuur. Reeds vroeg word die dogtertjie gekonfronteer met diskriminasie op grond van kleur. Haar ma betig haar: “Jy moenie weer by daardie huis van die aia praat nie!” Ouma Strand meen dat dit ’n goeie woord is wat “vanmelewe” ’n teken van respek was. Maar haar ma verduidelik: in hierdie geval het die mense nie ’n huishulp nie en die vrou in die kombuis is in werklikheid die man se ma wat eintlik weggesteek word vir gaste. Die ouma se wyse woorde bly die verteller en ook die leser by: “Ag, ons was maar altyd ’n bietjie deurmekaar.” Ouma Strand vertel dat wanneer haar ma uit die hospitaal kom, hulle na ’n nuwe huis in ’n nuwe dorp gaan trek waar haar pa werk gekry het. Terwyl haar ma in die hospitaal is, moet sy later ook by haar kinderlose oom en tante gaan bly waar die tandmuis nie geld bring nie, waar daar nie feetjies in die tuin is nie en waar die boeke nie prentjies in het nie. Die kind hoor dat “as die ergste gebeur” die oom aanbied dat hulle haar sal vat. Sy bid op kinderlike wyse dat haar ma nie moet doodgaan nie. ’n Liefde vir stories en boeke is ook ’n deurlopende draad in die roman. Sy wil graag leer lees “sodat ek self storieboeke kan deurlees”. Ook oor haar pa, Mikro, word heelwat vertel. Die dogtertjie verwys na haar pa “wat ’n skrywer is” en sê: “…net my pa staan halfvier op om te skryf” en “Pappa het hierdie boek geskryf”. Hy vergeet die kinders een dag en ry sonder hulle huis toe omdat hy in sy gedagtes versonke is. Sy studente noem hom “Meneer”. Sy dogtertjies is heimlik verlief op die studente-rugbyhelde, maar hulle word wreed ontnugter as een van die einste rugbyhelde dink die dogtertjie is “sillie” en wonder hoe “so ’n wonderlike man” soos haar pa so ’n verspotte dogter kon kry. Die kind wil nou liewers ’n man soos haar pa vir ’n kêrel hê. Reeds in daardie tyd was die problematiek van die hersaamgestelde gesin al aanwesig. Die kinders spot haar omdat sy ’n halfbroer het: “Haar halwebroer kom kuier. Kom sy kop of kom sy voete?” Sy is trots op haar “grootbroer” en wil graag met hom maats wees, maar hy dink ongelukkig ook sy is “sillie”. In latere verhale is die dogtertjie ’n jong meisie en ’n volwasse vrou met haar eie kinders. Talle mooi beskrywings boei die leser. Ouma Strand en die destydse kleredrag van ou mense word kostelik beskrywe. Die verhale word tot ’n eenheid gebind deur dieselfde karakters en deur die strand. Die verhale is in chronologiese volgorde gerangskik sodat die geheel ’n roman vorm. Teen die einde van die roman, ná p.120, is daar weer ’n foto van dieselfde twee mense op die strand. Dan kry hedendaagse problematiek in die Suid-Afrikaanse situasie aandag. ’n Paar bladsye verder is daar weer dieselfde foto in swart-en-wit en die inhoud van die boek verdiep verder. In die laaste hoofstuk, die titelverhaal, stap die hoofkarakter op die strand en die wydheid van die uitgestrekte sand en see tref haar: “En toe sy van die sand na die bewolkte lug wat smelt in die swaar loodgrys see aan die oorkant van die baai kyk, het sy geweet dat sy deel is van alles: die lug, die berge, die sand en die see. “Sy groet haar ma en weet dat dit vir die laaste keer is.” Sy dink na oor die problematiese verhouding tussen haar en haar ma. Die kind was altyd meer soos haar pa. En dít blyk ook duidelik uit die skryfster se uitsonderlike skryftalent. Veral vrouelesers in die ouderdomsgroep bo 50 sal met die hoofkarakter kan vereenselwig. Dié lesers sal in dié mooi roman oor die lewe van ’n vrou – van dogtertjie tot volwassene – saam met die hoofkarakter kan “groei”. En miskien selfs verdiepte insig in hul eie lewens en verhoudings verkry.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|