Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Shine a light
Regisseur Martin Scorsese se jongste musiekprojek, waarin hy ’n optrede van die Rolling Stones op rekord plaas, is meer konsertfliek as dokumentêr. Die wêreld van musiek is natuurlik niks vreemd vir hom nie. Behalwe vir die gefokusde gebruik van die régte liedjies in sy klankbane, kom hy ’n lang pad met die afneem van albei konserte en die skep van dokumentêre. Hy was, per slot van rekening, reeds toeka se tyd mederegisseur en -redigeerder van Woodstock. Daarna het onder meer gevolg No Direction Home (sy briljante dokkie oor Bob Dylan) en Martin Scorsese Presents: The Blues (’n dokumentêre reeks waarvan hy die vervaardiger was, asook regisseur van een van die episodes). En dan is daar The Last Waltz, waarin hy die laaste konsert van The Band vasgevang en wat ’n standaard gestel het waaraan konsertflieks steeds gemeet word. In The Last Waltz (The Director’s Cut) kan jy sien hoe noukeurig Scorsese elke skoot beplan volgens elke liedjie en beweging op die verhoog. Shine A Light begin soortgelyk X met skote agter die skerms en ’n blik op sy beplanning voor ’n New Yorkse konsert wat deel was van die Stones se A Bigger Bang-toer in 2005. Die beplanningskote word in swart-wit gewys, maar wanneer Keith Richards die eerste kitaar-riff laat weerklink, verander die fliek. In volkleur en met oorwegend nabyskote plaas Scorsese jou óp die verhoog. Sy beplanning is aanvanklik ook verniet, omdat Mick Jagger weier om vir hom die konsert se speellys te gee. Dié kry hy eers wanneer die groep reeds op die verhoog is en Scorsese probeer sy senuwees vooraf prewelend kalmeer met ’n nuwe mantra: “It’s only rock ’n roll. It’s only rock ’n roll.” Dít is tekenend van Jagger se rol, wat die groep soos sy persoonlike peloton beheer. Die regisseur gebruik ook kort snitte uit ou onderhoude met die Stones, wat hy tussenin sny X vir afwisseling en om meer lig op die ou toppies se geskiedenis te werp. Maar die doel is steeds nie om ’n dokumentêr te skep nie; hy gee jou só eerder ’n kykie in die wisselwerking tussen die lede van een van rock se grootste groepe tot nog toe, wat ondanks terugslae nou al in hul vyfde dekade saam is. Shine A Light wys jou hoe hulle kommunikeer en is vol klein vignettes van hul sonderlinge verhouding met mekaar. Soos wanneer Jagger die tromspeler, Charlie Watts, se kraag vir hom regtrek, sommer daar op die verhoog en onbeplan. Die ou beelde laat jou ook weer besef dat Jagger tereg een van die seksgode van sy tyd was. En wanneer hy in 2005 op die verhoog lostrek, sy meer as 60 jaar ten spyt, sien jy hy het nog niks van daardie aantrekkingskrag verloor nie. Soos ’n hiperaktiewe hotnotsgot spring hy rond, dans, sing en swaai sy heupe. En die kyker sit aan sy voete op die verhoog. Die klank-mengwerk verdien ook vermelding. Sodra die kamera op iemand fokus, word sy spesifieke bydrae in die hele klankmengsel harder. Die gevolg is dat jy nie hul menigte treffers beleef op dieselfde manier as die gehoor nie, maar dat die klank om jou warrel; dreig om jou te verswelg. Jy hoor hoe dit op die verhoog klink wanneer hulle speel. Shine A Light probeer nie om ’n nuwe The Last Waltz te wees nie, maar is ’n uitstaande konsertfliek in eie reg. Dit lyk of Scorsese homself gate uit geniet het en ’n mens stap met dieselfde gevoel uit die teater. Teen die tyd dat die Rolling Stones in die laat 60's na hulself as die wêreld se grootste rock-groep begin verwys het, het hulle reeds 'n indrukwekkende kleim op dié titel afgesteek. Die Stones, wat hulle as die selfbewuste, gevaarlike alternatief vir die Beatles gestel het, was pioniers van die blues-gegronde rock wat harde rock omskryf het. Mick Jagger het die tipiese rock-voorsanger geword, terwyl Keith Richards en Brian Jones die bloudruk vir ritmekitaar-kombinasies geskryf het. Dit is aangevul deur die subtiele baskitaarklank van Bill Wyman en die tromspeler Charlie Watts en hulle het komtemporêre Britse blues-groepe soos die Animals en Them oorskadu. Die Stones het deur hul loopbaan nooit hul blues-agtergrond vergeet nie, maar die oomblik toe hulle sukses in Brittanje behaal het, het hulle begin eksperimenteer en die popklank van groepe soos die Beatles, Kinks en Who gebruik. Maar dit was nie net maanskyn en rose nie. Kort nadat hy die trekpas gekry het, is Jones dood in 'n swembad gekry en in 1969, by 'n konsert in Altamont, is een konsertganger wreed vermoor. Sulke voorvalle het die Stones nooit van stryk gebring nie en hulle het oor die volgende 30 jaar hul ding gedoen.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|