Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
More than just a game
Sokker se samebindende kragte is welbekend en die emosie en passie wat die jaag van die ronde bal opwek, het al selfs oorloë tussen nasies aangevuur. Kreatiwiteit ontbreek ook nie om die bal enige plek te kan dribbel nie. Selfs agter hoë tralies, in tronkklere en op ’n eiland weg uit die beskawing soos dié plaaslike dokumentêre drama wys. Dit vertel die ware verhaal van ’n groep politieke gevangenes wat destyds op Robbeneiland eiehandig ’n volwaardige sokkerliga begin het. Dis Suid-Afrika in die 1960’s en vyf jong mans, party nog tieners, uit verskillende agtergronde en politieke affiliasies se drome om die gewraakte politieke bestel te verander, lei tot hulle arrestasies en verbanning na “Afrika se Alcatraz”. Anthony Suze (Wright Ngubeni) is ’n ekstroverte sportman, soos die stewige Lizo Sitoto (Tshepo Maseko) wat in die Oos-Kaap rugby gespeel het. Daarteenoor is Mark Shinners (Tsotsi se Presley Chweneyagae) ’n introverte aktivis. Die bommakende onderwyser Sedrick Isaacs (Az Abrahams) en die guerrillavegter Marcus Solomons (Merlin Balie) voltooi die vyfmanskap. Met ’n gedeelde liefde vir sport, smee die comrades mettertyd ’n band en dribbel as ’n uitlaatklep vir hul ingehokte emosies kort voor lank ’n sokkerbal gemaak uit saamgeperste papier en karton in die selle rond. Hulle versoek vir ’n regte sokkerbal val telkens op dowe ore, maar hulle volhard totdat die wit tronkowerheid toegee. Só word die Makana Football Association gebore, kompleet met sy eie grondwet en streng volgens Fifa-reëls om te verseker reg word geskied aan die spel en administrasie daarvan. Die sokkergees vat ook pos onder van die tronkwagte en weldra kan die gevangenes hul eie sokkerveld uitrol en die doelhokke bou. In die volgende dekade groei die klub se spelers (en ondersteuners) vinnig en later spook hulle dit in regte sokkerklere uit vir die kroon van Robbeneiland se kampioenspan. Wanneer die baanbrekers teen 1976 die eiland groet, laat hulle ’n trotse tradisie vir die inkomende jeug om op voort te bou. Dié merkwaardige verhaal oor die menslike gees wat oor taai uitdagings triomfeer, is ’n interessante struggle-anekdote wat breër blootstelling verdien. Want soos die eiland se mees gevierde gevangene, Madiba, het dié jong stryders se durf ook ’n lig uitgestraal wat onblusbaar was. Dis goed buitelanders het nie die stukkie Africana gekaap nie, en dit vertel word deur Suid-Afrikaners met die bekroonde en bedrywige Anant Singh (Yesterday) as medevervaardiger. Die internasionale regte van die fliek is aan Sony verkoop. Die Durbaniet Juniad Ahmed maak ’n verdienstelike regisseursdebuut vir ’n vollengte-rolprent, wat hy ook help skryf het. Sy span jong spelers blaas begeesterd asem in ’n stuk geskiedenis wat byna oorgesien is. In ’n slim skuif word die regte vyf vaandeldraers betrek soos die storie ontvou. Hulle sigbaarheid en deurlopende kommentaar gee geloofwaardigheid. Moeite word ook gedoen om balans te gee aan die verhouding tussen die gevangenes en die wit tronkbewaarders en dit maak ’n interessante substorie. Met die opbou na sokker se grootste skouspel hier in 2010 wat nou begin opvlam, is dié onderhoudende ode aan ’n brawe bydrae tot ons demokrasie tydig. Sokker agter tralies Die Makana Football Association (MFA) is in 1966 gestig en het tot die sluiting van Robbeneiland as 'n gevangenis in 1991 voortbestaan. Die liga het drie afdelings gehad, gegrond op spelers se vaardighede met afrigters, bestuurders en skeidsregters uit die tronkbevolking van soms meer as 3 000. Dis volgens FIFA-reëls bedryf en verskeie staande komitees moes oor sake soos dissipline en onderhoud besluit. Al die vergaderings is genotuleer. Oefeningsessies is in die selle se gemeenskaplike badkamers gehou om nie ander gevangenes te steur nie. Die wedstryde is vir twee ure op Saterdae vir nege maande van die jaar gespeel. Later het wenners klein trofeë en sertifikate gekry, wat ná die oorhandiging gekonfiskeer is. Baie van die prominente politici in Suid-Afrika het sokker op Robbeneiland gespeel, insluitende mnre. Jacob Zuma en "Terror" Lekota, asook Tokyo Sexwale en regter Dikgang Moseneke wat op 16-jarige ouderdom die MFA se eerste voorsitter was. Comrade-leiers soos Nelson Mandela en Walter Sisulu is in isolasie aangehou en verbied om ook te speel of wedstryde by te woon. Toe uitgevind is hulle word deur geheime kanale op hoogte gehou, is 'n muur tussen hulle en die ander gevangenes gebou om dit te keer.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|