Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Iron Man
UIP Jacques Liebenberg Hy’s uiteindelik hier! Iron Man, oftewel die miljardêr-uitvinder Tony Stark, maak sy buiging op die silwerdoek ná jare van afwagting en bespiegeling. Iron Man is op ’n manier Marvel (dié is Marvel-flieks se eerste onafhanklike prent) se weergawe van DC Comics se Batman, as ’n mens in ag neem hulle is superhelde danksy hul uitvindsels. Aanhangers was aanvanklik maar suur toe hulle hoor dat die akteur Jon Favreau, wat as regisseur flieks soos Zathura gemaak het, aan die stuur is en dat Robert Downey jr. Stark gaan speel. Maar sedert Favreau-hulle verlede jaar op ’n groot strokieboek-saamtrek met aanhangers gepraat en dele van die fliek gewys het, het dié wantroue in afwagting verander. Dit het verder toegeneem toe dit bekend word Adi Granov, skepper van Iron Man se Extremis-reeks, ontwerp die fliek se Iron Man-pak. En dit kan nou onomwonde gestel word: Downey jr. én die pak werk 100%, terwyl kwessies soos die ysterpak wat Stark in aanhouding bou en sy verhouding met Pepper Pots (Gwyneth Paltrow), sy assistent, ook getrou aan die boeke is. Die fliek Iron Man werk ámper 100% en word net heel aan die einde deur ’n verbasend generiese ontknoping gepootjie. Maar, neem ’n mens in ag dié fliek moet die konsessie vestig, is dit seker ook verstaanbaar dat dit meer oor die held se vorming en vestiging as oor een groot geveg gaan. Stark word op ’n wapendemontrasiebesoek in die Midde-Ooste gevange geneem en gedwing om sy dodelike nuwe missiel vir die rebelle te bou. Maar in plaas daarvan bou hy ’n ysterpak met ’n arsenaal en ’n vliegvermoë waarmee hy ontsnap. Terug in die VSA wil hy nie meer wapens maak nie, want hy’t gesien wat kan gebeur wanneer dit in die verkeerde hande beland. In plaas daarvan ontwerp hy ’n nog beter ysterpak, terwyl Obadiah Stane (Jeff Bridges), sy regterhand, die vure moet doodslaan. Die fliek het heelwat snaakse oomblikke danksy Downey jr. se eiesoortige benadering as die rokjagter Stark en die manier waarop Favreau-hulle die tegniese kwessies uitbeeld. Die rekenaareffekte is soomloos en dié tonele waarin Stark sy nuwe pak bou en die daaropvolgende vlieg- en gevegtonele slaan ’n mens se asem weg. Daarby is daar heelwat weggooi-tonele, soos Stark se wisselwerking met sy robotte en rekenaars, wat komiese waarde toevoeg. Maar die fliek is ook hiper-realisties en veral die aanval op Stark se konvooi aan die begin herinner meer aan aksieflieks soos The Kingdom as byvoorbeeld die Spider-Man-trilogie. Iron Man is groot pret en ’n mens sien uit na die onvermydelike vervolgprente. Dis ’n fantasiefliek vir ’n volwasse gehoor en is vir die grootste deel daarvan baie vermaaklik. Hou Marvel by dié resep vir sy ander projekte soos Captain America en Thor, voorspel dit net goeie dinge vir fliekvlooie. ) Hoofspelers: Robert Downey jr., Gwyneth Paltrow, Jeff Bridges en Terrence Howard. Ouderdomsperk: 13G. Tydsduur: 122 min. ) Hulk (2003) ) Superman Returns (2006) Ysterfeite Iron Man het sy buiging in April 1963 in Marvel se Tales of Suspense gemaak. Stan Lee, een van sy skeppers, sê Tony Stark is deels gegrond op Howard Hughes. “Ek wou iets anders as die gewone superheld doen. In 1963 was Iron Man al dié dinge waaroor jong mense nié wou lees nie. Hy was ’n nyweraar en skepper van oorlogmasjiene. “Ek het vir myself gesê ek sal die kinders van hom laat hou deur Tony Stark ryk, aantreklik en interessant te maak. “Ek het hom ook ’n swak hart gegee sodat hy nie volmaak is nie en om die lesers iets te gee waaroor hulle hul kan kwel. “Die reaksie was ongelooflik. Van al die Marvel-karakters het Iron Man van veral vrouelesers die meeste briewe gekry.” Wen! Wen! Wen! Vyf Plus-lesers kan elk ’n Iron Man-geskenkpak van UIP wen. Dit bestaan uit ’n webkamera, ’n T-hemp en ’n pet. SMS die woord Beeldplus, die antwoord op die onderstaande vraag en jou voornaam en van na 33724. Dit moet ons voor 20:00 vandag bereik. ’n SMS kos R1,50. Vraag: Robert Downey jr. vertolk die hoofrol in Iron Man. In watter 1994 romantiese komedie het hy teenoor Marisa Tomei gespeel?
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|