Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
88 Minutes
Sonnette Lombaard In die rolprent–uitspansel het Al Pacino en sy grou stem ’n rysige gestalte. Die akteur, wat pas 68 geword het, se werk is al telkemale met die hoogste eerbewyse bekroon. Hoe hy hom dus so kon misgis met dié misbaksel vir ’n misdaadriller, is ’n raaisel. Hy speel Jack Gramm, ’n professor in forensiese sielkunde in Seattle met ook ’n private praktyk, wat gereeld die FBI uithelp. Die ouer-wordende Gramm met sy woeste haredos en spoggerige sportmotor is nog gesog onder die vrouegeslag. Sy klas sit ook vol skone Evas, maar hy glo nie daaraan om saam met sy studente of pasiënte te slaap nie. Gramm se riller-getuienis het juis gehelp dat die gevreedse reeksmoordenaar van vroue, Jon Forster (Neil McDonough), agter tralies sit. Maar met Forster nou ure weg van sy teregstelling, word copy cat-moorde in die stad gepleeg. Boonop voer al wat TV-stasie is onderhoude met Forster wat beweer Gramm het gehelp om die verkeerde man na sy dood te stuur. Terselfdertyd kry Gramm ’n selfoonoproep waarin hy meegedeel word hy het net 88 minute oor voordat hy ook sal sterf. Vanaf hierdie punt is die prent glo presies 88 min. lank tot aan die einde van die titelrolle. Ongelukkig gemorsde tyd, want soveel bollie sien ’n mens nie aldag nie. Gramm moet al sy vernuf en kennis inspan om die “Tick Tock, Doc”-stem agter die selfoon-boodskappe, wat hom gereeld herinner hoeveel tyd hy nog oor het, betyds op te spoor. En natuurlik is almal in sy omtrek met elke oproep aan hom besig op hul selfone. Gebrandmerk as ’n rokjagter, is daar verskeie vroulike verdagtes waarmee Gramm moet rekening hou. Die sexy rooikop, Kim Cummings (Alicia Witt, The Last Holiday), is ’n oudstudent en nou sy assistent in die klas met ook ’n ogie op hom. Sy lesbiese en lojale praktyk-assistent, Shelly Barnes (Judging Amy se Amy Brenneman), doen haar bes om haar baas te beskerm. In sy klas is daar die slim student Lauren Douglas (Leelee Sobieski) en die oorywerige een Mike Stempt (Benjamin McKenzie, Junebug). Boonop deel die departementshoof Carol Lynn Johnson (Deborah Kara Unger) ook ’n verlede met Gramm. Regisseur John Avnet, wat al sy slag gewys het met flieks soos Fried Green Tomatoes en Up Close & Personal, slaan hier die bal sierlik mis. Dis ’n oorbesige prent teen ’n hoë spoed waarin kommunikasie grootliks per selfoon geskied. Gedagtig aan sy stomende spel saam met die vuurwarm Ellen Barkin 20 jaar gelede in nog ’n misdaad-riller See of Love, kan Pacino nie hier in die doodgebore draaiboek asem blaas nie. Dis ’n laagtepunt in sy roemryke loopbaan en net sy vroulike kollegas Brenneman en Unger tree met eer uit die stryd. 88 Minutes is ’n fliek sonder ruggraat wat oorsee gou na die DVD-rak verban is.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|