Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


R.E.M. word wakker uit sy narkose
May 06 2008 04:37:24:483PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

In Nick Hornby se baie vermaaklike boek oor boeke The Complete Polysyllabic Spree: The Diary of an Occasionally Exasperated But Ever Hopeful Reader sê hy in die voorwoord iets oor resensies wat elke resensent en leser eintlik weet, maar graag vergeet: Die resensent maak of hy die kunswerk, boek of CD onder bespreking waardeer het in ’n objektiewe klankdigte plek buite ruimte en tyd. Hy sê (byna) nooit dat hy iesegrimmig, lig beskonke, smoorverlief of op die rand van ’n egskeiding was toe hy gaan sit het om die resensie te skryf nie. Hy verraai niks van sy (dikwels onwrikbare) persoonlike voorkeure of die aanvallige bemarkingspersoon van die platemaatskappy wat hom dalk oor ’n verniet drankie die CD in die hand gedruk het nie. En al hierdie dinge beïnvloed natuurlik die hoeveelheid aandag en sterre wat die resensent bereid is om te gee.

Ter wille van regverdigheid behoort hierdie resensent dus eers iets van sy sterk gemengde gevoelens oor R.E.M. en geskiedenis met die groep te sê voor hy hul jongste “beoordeel”.

Ek het verlief geraak op R.E.M. in 1987 toe ek hulle Document-album in een van daardie massa-musiekgrafte, oftewel ’n winskopie-drom, in een of ander kettingwinkel uitgegrawe het. Vir popmusiekhistorici het R.E.M. met hul uitstekende debuut, Murmur (1983), die einde van post-punk en die begin van sogenaamde “alternative rock” ingelui.

Met Document, hul vyfde album, het hulle ’n groter gehoor bereik. Hulle was amper beroemd, maar nog alternatief genoeg om ’n 16-jarige rock-entoesias te laat voel dat hulle net aan hom en ’n paar goeie vriende behoort. The One I Love was ’n treffer, maar Document was nie net ’n kommersiële deurbraak nie, dit was enigmaties genoeg om die nag te kantel en die voorstedelike maan geheimsinnig te laat lyk.

Dit het boonop die onweerstaanbare It’s The End of the World As We Now It (And I Feel Fine) ingesluit – die eerste liedjie wat ek en my vriende in die kombi op pad na ons matriekvakansie geluister het.

Met die vertrek van hul tromspeler, Bill Berry, in 1997 was dit egter of die groep se mojo en inspirasie ook gegroet het. New Adventures in Hi-Fi (1996) was die laaste R.E.M.-album wat my werklik geraak het. Daarna het ’n dekade van lustelose, vergeetlike en veral heeltemal te lang albums gevolg.

Dit was of R.E.M. in ’n duur lugverkoelde motor met snelheidsbeheer op pad was na nêrens en alleen vasbeslote was om nie die snelheidsperk te oortree nie. Up (1998), Reveal (2001) en Around the Sun (2004) – veral laasgenoemde – het my laat wens dat die manne maar almal liewer hul nalatenskap wou huldig deur die vlag te stryk en soos Berry af te tree op ’n plaas.

Ek het die groep in 2005 in Johannesburg sien optree en die gehoor rondom my het my matriekvakansie na baie lank gelede laat voel. Terwyl een of ander besope Duitse kêrel met ’n bierboep langs my geskree het vir “Man On ze Moon”, “Man On ze Moon”, het dit gevoel of ek kyk na ’n groep wat besig was om hulle eie treffers vir baie geld te cover.

In die Coca-Cola Dome kon ek net nie die opruiende toordery hoor wat ek in 1987 vir ’n appel en ’n ei gekoop het nie. Die vertoning het my soos Gert Vlok Nel se Epitaph laat voel: “Die mooiste drome is verby.”

Maar ná ’n verjongingskuur en ’n geestelike Vitamien B-inspuiting is die manne op hul jongste duidelik terug met die voet in die supersoniese hoek. In plaas van maande in die ateljee met duur produksietruuks is Accele-rate binne nege weke opgeneem en die spontaneïteit is hoorbaar.

Wat enige huidige 16-jarige gaan voel en dink oor Accelerate kan ek nie raai nie, maar R.E.M. se jongste neem my terug na die laat 80’s en die bruisende energie en aweregse uitbundigheid van Document. En dis soos om ’n ou vriend wat jy tien jaar laas gesien het op ’n reünie raak te loop en agter te kom dat julle nog baie het om vir mekaar te sê. Dis ’n lekker warm, lewensbejaende gevoel en met oorwoë objektiewe kritiek het dit nie veel uit te waai nie.

Accelerate is nie nog ’n klassieke album soos die monumentale Automatic for the People nie en dis nie so grensverskuiwend soos hul beste opnames uit die 80’s nie, maar hel, dit skop weer!

Bill Rieflin, voorheen die lugdrukboor in die duister industriële rock van Ministry, gee die tromme ’n loesing en Peter Buck en Mike Mills se heerlike verbryselende garage-riffs word vergesel van aansteeklike harmonieë en Mi-chael Stipe se ontwykende lirieke. In 34 minute en 35 sekondes blaas R.E.M. die lewensmoeë wol uit jou kop en die was uit jou ore.

“Daar is nie ’n epiduraal vir ’n spirituele wedergeboorte nie,” sê ’n ou vriend van my graag en dit klink hier of R.E.M. gewelddadig wakker geskrik het uit die middeljarige narkose wat hulle deur die laaste drie albums laat slaapwandel het.

Ná die vertrek van Berry het Stipe verklaar: “ ’n Brak met drie bene is nog steeds ’n hond – hy moet net leer om anders te hardloop.”

Met die uitreiking van Accelerate is Stipe deur die Britse musiektydskrif Q gevra hoe hy nou oor die driebeenhond voel. “Daai brak het sopas geleer om agteroor bolmakiesie te slaan,” het hy gegryns.

En so ’n toertjie verdien applous.

“Death is pretty final / I’m collecting vinyl / I’m gonna DJ at the end of the world” jubel Stipe aan die einde van die album se rou rock ’n’ roll-blitzkrieg en dit klink of hy dit bedoel – dalk ook nie ’n slegte snit vir enig-iemand op pad na die see vir ’n matriekvakansie nie.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |