Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Duitse Herdershond, wolfhond op Afrikaans en Alsatian op Engels
Ons begin met die Duitse Herdershond, wolfhond op Afrikaans en Alsatian op Engels. Tyd, liefde vir wolfhond Marga Ley Nie enigiemand kan 'n wolfhondeienaar wees nie. Die sterk karaktereienskappe van die hond vereis genoeg aandag van die eienaar om die meeste uit die hond te haal - gelukkig stel hulle nooit daardie moeite teleur nie. Veral die intellek en die behoefte om te beskerm, word hoog aangeprys deur mense wat die ras beskryf. Vreesloos dapper, gretig om te leer, lojaal, selfversekerd, sterk, opgeruimd, energiek en mensliewend is van die eienskappe wat met die wolfhond verbind word. Kies 'n teler met 'n bewese reputasie dat hy honde met goeie temperament en gesondheid teel. Jy soek 'n goeie hond, selfs al wil jy hom nie na hondeskoue neem nie. Die ras het sekere oorerflike siektes wat hulle vroeër kan laat doodgaan as die verwagte leeftyd van so 13 jaar. Baie daarvan is reeds weer uit die ras geteel, soos die heup- en elmboogverskuiwingsprobleem. Pas ook op vir spysverteringsprobleme (veral by senuweeagtige honde), ekseem, ontsteking van die kornea en vlooiallergieë. Jou belangrikste inset tot 'n hond wat jou net plesier sal gee, is om te sorg dat hy gesosialiseer en opgelei is. Wolfhonde reageer entoesiasties op ferm, maar liefdevolle opleiding. Daar is minder sukses met geforseerde en kwaai opleiding. Hoewel 'n wolfhond baie oefening nodig het, kan hy selfs in 'n woonstel aangehou word - op voorwaarde dat hy daagliks uitgeneem word vir genoeg oefening. Wolfhonde het mense nodig. Hulle is erg beskermend, daarom is dit nodig om hulle met 'n sagte, streng hand te regeer. Hulle blaf net as dit nodig is. Hulle verloor nogal baie hare en as dit jou pla, borsel die hond vinnig so een maal per dag. Hulle moenie dikwels gebad word nie, op die meeste een of twee keer 'n jaar om hul natuurlike velolies te behou. Onthou egter: Hierdie wonderlike eienskappe word verwater of verdwyn selfs met kruisteling met ander rasse. My hond Ché Jan de Lange Ek was 'n staffie-man - sedert my kinderjare en lank voordat Jock of the Bushveld 'n bekende rolprent geword het. Hulle is slaafs lojaal en taai soos staalspykers. Hulle is ook onberispelik gehoorsaam as hulle eers iets geleer het. Maar daar is een probleem: hulle leer nie so maklik nie. Dit was tyd vir 'n verandering. My nuwe keuse was 'n wolfhond - en vandag is daar vir my net een honderas wat die dubbele rol van troeteldier en waghond ewe goed volstaan: die Duitse herdershond Ché was 'n sagte, wollerige speelding wat onmiddellik harte gesteel het. Dit het Ché minder as 'n week geneem om te leer sit en wag vir sy kos. Hy is tuis in die huis, maar dit kos net een opdrag om hom uit te stuur. Hy't nog nooit - ja, nog nooit - 'n ongelukkie in die huis gehad nie. Aan die ander kant: terwyl hy klein is, verniel hy alles wat hy in die bek kan kry: tuinslange, die grasperk, potplante. 'n Kreepy Krauly kan hy nie weerstaan nie. Hy is lief vir die ander huismense, maar ek is sy baas en ons deel 'n anderster, hegter verhouding. Om 'n wolfhond regtig te verstaan en alles uit hom te kry waartoe hy in staat is, moet jy by 'n klub aansluit waar 'n kenner jou en jou hond kan leer. Verkieslik voor hy vyftien maande oud is. My hond Thabo Marga Ley Thabo was die gwar van die werpsel - verpiep en bang het my man hom by die huis aangebring en ek wou nog vies wees dat hy nie die held van die werpsel gekies het nie. Ek het die bondeltjie verwese Duitse Herdershond in my arms geneem en besluit hy gaan die grootste en mooiste en selfversekerdste hond word en besluit om hom daarmee te help deur hom 'n berg te noem. Thaba beteken berg - weens 'n ou klein onnosel foutjie aan my kant het ek gedink Thabo is berg! Thabo beteken toe "hy wat wat gelukkig is" en dit was Thabo gewis. Op 1 jaar oud het hy steeds op my skoot gesit - bang vir niks meer nie behalwe vir donderweer! Sy liefde en lojaliteit aan my was eindeloos. . .dit het gestraal uit sy oe, sy lyftaal en hy het my gewoontes en maniere beter geken as selfs my vriende. Hy het my op die hakskene gevolg en toegelaat dat ek my gang kan gaan - maar ek moes nie vyf minute oor sy staptyd, eettyd, ens. gaan sonder om dit met hom te "bespreek" nie en te belowe "nounou". Die woord het hy goed geken. Ook "ekskuus" as hy in my pad lê. Die woord "stap" was taboe in ons huis want dan was Thabo histeries van opgewondenheid. Ook "ganjysam" want dan ry hy saam in die kar! Thabo het 'n ernstige rugprobleem ontwikkel. 'n duur operasie het hom nog vier jaar aan die gang gehou, maar op 9 jaar toe hy begin sere kry soos sy agterlyf sleep, het ons hom met liefde vir altyd aan die slaap laat maak. Diere-feit Katte spin nie net as hulle gelukkig of lief vir jou is nie, maar ook as hulle bang is, geboorte skenk, siek is, en selfs terwyl hulle doodgaan. Katte spin willekeurig, dus net wanneer hulle wil. Die geluid word gemaak deur die vibrasie van die stembande deur die sametrekking van die spiere in die larinks. Die diafragma pomp die lug met elke in- en uitaseming oor die stembande. Die geluid wat dit maak, is by alle katte tussen 20 en 200 Hz. Binne hierdie Hz-wydte val al die frekwensies wat deur navorsing gevind is terapeuties blyk te wees vir pynverligting, beengroei en -heling, gesond word van ontsteking, en verligting van benoudheid. Wenk As jy of jou kinders vir Kersfees 'n dierbare bondeltjie lewe as verrassingsgeskenk gekry het, vra jouself nóú af of jy kans sien om die talle verantwoordelikhede ten opsigte van dié diertjie na te kom. Indien nie, soek dadelik vir hom 'n ander huis. Moenie wag tot hy aandagloos grootgeword het en reeds lastig is nie. Bronne: http://science.howstuffworks.com
Kyk na twee video's...Net twee hasies... en Skillie wil 'walkies'. Troeteldier-rubriek Beeld is van nou af jou en jou troeteldier se plekkie. Die doel van hierdie weeklikse rubriek is onder meer om uit te vind: Ons sal met telers, veeartse, diereafrigters, dieresielkundiges en almal praat wat ons kan help om beter eienaars vir ons troeteldiere te wees. Elke week bespreek ons ’n spesifieke soort troeteldier. Dit kan wees ’n honde-ras, kat-ras, voëlsoort, rotte, muise, slangsoort, perde, varke, konyne of wat ook al mense wil troetel. Ons sê ook elke week oor watter troeteldier ons die volgende week gaan skryf, sodat troeteldiereienaars ’n hele week het om vir ons foto’s van hul diere te stuur en ietsie oor hulle te vertel (in sowat 150 woorde). Stuur dit na troeteldier@beeld.com. Dié foto’s word dan gepubliseer of op hierdie blad en op www.beeld.com. Kliek op troeteldiere in die regterkolom. Jy kan ook vrae oor die spesifieke ras vra, of wenke stuur oor probleme wat jy opgelos het. Jy kan ook ’n video maak van jou troeteldier se oulike toertjies of stoutighede of speletjies of eienaardige gedrag en stuur dit met ’n geselsie oor hom ook na troeteldier@beeld. As jy nie toegang tot e-pos het nie, stuur ’n SMS aan 083 708 3366. Voorstelle welkom.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|