Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Worsies is hondjies wat aanhou blaf
Marga Ley Worshonde is in Duitsland geteel om veral ratels en vosse te jag in hul ondergrondse gange. Hulle is dus geteel om te jag en te blaf, sê mev. Babsie Pieters, een van Suid-Afrika se bekendste telers. So ja, jou worshond gaan tien teen een kef. Raad daarvoor word in die vrae-en-antwoorde-kolom hier regs gegee. “Worshonde ly almal aan die kleinmannetjiesindroom,” sê Pieters. Hulle dink hulle kan alles beter doen as ander honde. Hulle is bang vir niks en sal selfs die grootste hond aanval. Maar hulle is nie mensbyters nie. Tog moet ’n mens oppas vir ’n worshond, want hul dierbare geaardhede gaan tot gevolg hê dat hulle jou heeltemal gaan oorneem as jy hulle nie ferm dissiplineer nie! “Ek sien dit as nuwe eienaars hier uitstap: dis in die arms, in die kar, in die bed, in die hart en in die yskas. Moenie jou worshond van die tafel af voer nie, hulle hoef nie vet te wees nie. Te veel liefde en ’n geneigdheid om die hond soos ’n kind te hanteer en te verwen, maak hulle dood,” se Pieters “As jy nie lus is om jou worshond op te lei en te dissiplineer nie, kry ’n kat. Hulle maak in elk geval wat hulle wil,” is haar raad. Die grootste probleem met worshonde weet almal: hul rûe. Pieters sê die lengte van die rug en die lengte van die bene pas net nie. Die kort bene het geen absorpsievermoë vir wanneer die hond van ’n bank of stoel afspring nie. Die probleme begin ook al vroeg wanneer kinders honde aan die maag (rug) optel en soms in hul kinderlike onskuld klein hondjies rof neergooi. Pieters verkoop geen honde aan mense wat kinders het wat jonger as agt is nie. Sy beveel aan dat jy ’n lekker groot sagte kussing vir jou hond kry waarop hy by jou voete kan lê. Of as hulle hul eie stoel het, sit ’n voetstoeltjie voor die stoel dat hulle kan op- en afklim en nie spring nie. Leer hom om nie te spring nie. ’n Veearts se mening oor die rugprobleme sal volgende week bespreek word. Die kleure waarin opreggeteelde worshonde voorkom, is rooi (nie bruin nie!), swart en bruin, roomkleur (nie in Suid-Afrika nie), sjokolade en bruin met ’n bruin neus, swart en bruin met silwer kolle (dapple in Engels) en sjokolade met kolle. Die variasies is by standaard- en miniatuur-worshonde. Daar is worshonde met gladde hare, lang hare en steekhare. Goeie telers meng nie hare en groottes nie. Ster van 2010 Mariette van Vuuren skryf: Jessie (Jessica) is nou sowat 18 maande oud en is ’n klein skootsittertjie. Sy weier om alleen op die grond te sit of buite te slaap. Sy slaap altyd onder die komberse. Ons moet haar elke keer net keer om nie saam my dogtertjie in die bad te spring nie. Sy is baie lief daarvoor in die bad te spring as jy bad. Sy speel graag sokker met haar pienk bal. Ek dink sy maak reg vir 2010! Shrek die ondier Antoinette Ackermann skryf: Ek is die trotse eienaar van Shrek, ’n drie-jarige pug. Hy is net een groot bondeltjie plesier. Hy is vreeslik liefdevol en wil nooit alleen wees nie en sal altyd bo-op of teen jou kom lê. Hy sal jou soos ’n skaduwee volg oral waar jy gaan. As die wiele rol is Shrek natuurlik eerste in die kar. Shrek word ook gereeld geskou en hy is altyd gretig om nuwe maatjies daar te ontmoet. Die maatjies is nie altyd mal oor Shrek nie – hy haal maar hard asem en dit mag moontlik vir hulle klink na ’n ondier. Shrek is baie lief vir water en geniet dit om in die see te swem. Sy lewe draai om kos en hy wil altyd saam eet – wat jy ook al eet. Hoenderpote is sy gunsteling-peuselhappie. Liewe, bang wolfhond Amanda van der Walt skryf: Oubaas is, ons vier jaar oue kruis-wolfhond. Ons weet nie met wat hy gekruis is nie, maar is nog nie een dag spyt dat ons hom het nie. Hy is geduldig en ’n absolute ster met kinders. Hy swem saam met hulle. As hulle koppe onder die water verdwyn, kan hy baie benoud raak en hulle sommer vinnig aan die arm uit die water trek. Hy is geduldig met alles en almal, maar is ontsaglik bang en sal eerder wegkruip as om gesien te word. Dierefeit Budjies is die gewildste troetelvoëls ter wêreld. Hulle kom oorspronklik van Australië waar wilde budjies in groot swerms leef. Hulle is almal groen en geel. Al die ander kleure het ontstaan as gevolg van teling. Budjies is ’n goeie keuse as jy nog nooit voorheen kouvoëls aangehou het nie. Hulle word maklik mak en is goedkoop om aan te hou. Hulle verg ook relatief min moeite. Wenk Los klein diertjies tot op 8 weke by die ma, want dit is tussen 6 en 8 weke dat sy hulle dieremaniere leer. As ’n ma-hond byvoorbeeld haar kleintjies dissiplineer, grom sy vir hulle. Hulle weet dus laer tone is dissipline. Maar veral vroue gil dikwels op die diere. En hulle? Hoe harder en skriller die gille is, hoe meer beskou die hond dit as aanhitsing pleks van dissiplinering. Praat rustig en ferm met die hond as jy hom wil dissiplineer. Lesers vra raad Riaan Cruywagen van Johannesburg vra: Die behandeling hang af van die oorsaak vir die geraas. Worshonde as ’n ras is geneig tot skeidingsangs – ’n toestand wat lei tot erge paniek as hulle alleen gelaat word. Baie van dié hondjies blaf of huil aanhoudend wanneer hulle van hul eienaar geskei is. Hondjies wat vroeg in hul lewe nie baie liefde gekry het nie, is geneig om meer aan skeidingsangs te ly. ’n Veearts kan deur ’n kombinasie van medikasie en opleiding die hondjies help sodat hulle nie paniekerig raak as hul nie by jou is nie – en sorg dat jou bure nie kla nie! Dit hang af waarom hy blaf. As dit is omdat hy paniekerig of bang is en sy stembande word geknip, kan dit sy vrees vererger, omdat dit die manier is waarop hy sy probleem hanteer en dan word dit van hom weggeneem. Sulke honde sal definitief negatief geraak word. Die knip van stembande is ’n delikate operasie en nie elke veearts voel gemaklik om dit te doen nie. Die meeste gedragsveeartse raai die operasie sterk af. (Mev. Babsie Pieters, ’n worshond-teler, sê al haar honde is “ontblaf”, maar nie “ontstem” nie. Hulle kan steeds hees blaf.) Elizma van der Merwe van Pretoria skryf: My Dobermann-Rottweiler- kruising verwoes als. My spogtuin is geskiedenis. Hy kou als. Hy ontlas ook reg voor die deur op die plaveisel, ondanks ’n groot tuin. Help asseblief. Hy sit ook voor die deur en huil. Dobermanns en Rottweilers is albei energieke rasse wat geteel is om groot gebiede te patroleer. Hulle is geteel om elke dag lang afstande te loop. Op stadserwe is hulle geneig om oorskot- energie te hê en raak daarvan ontslae deur te raas, te kou of te grawe. Tussen vier en agt maande is honde geneig om te kou omdat hul tande kry. As jy te besig is om tyd aan jou hond te gee, vra ’n hoërskoolkind in die straat om met die hond te stap, draf of sommer om bal te speel. Dis perfek vir die hond en sakgeld vir die kind. Wanneer ’n hond op ongewensde plekke ontlas, beloon hom wanneer hy dit op die regte plek doen. Neem hom ná ete of nadat hy geslaap het na die plek in die tuin waar hy mag ontlas. Wanneer hy dit hier doen, prys hom of gee hom ’n lekkernytjie. As hy dit op die plaveisel doen, tel dit op en vat dit na die toegelate deel toe en ignoreer hom. Hy sal vinnig leer. Venetia Maletzky van Walvisbaai vra: Ek het ’n staffie wat soms mense (en ander honde) aanval as hy reken een van sy gesin word bedreig. Hoe leer ek hom om dit nie te doen nie? Doen die opleiding onder die toesig van ’n gekwalifiseerde gedragskundige. Die doel is om jou Staffie te leer om jou leiding te volg. Jy sal dus vir hom aandui wanneer die mense vriendelik is, en wanneer jy ongemaklik voel naby ’n vreemdeling. Wessel Scheepers van Mtatha vra: My boerboel van vier maande urineer as hy bly is, as hy skrik en so meer. Ek wil graag hê hy moet in die huis inkom. Hoe kan ek hom dit afleer? Jong hondjies doen dit nogal baie. Om te urineer is ’n teken van onderdanigheid wat jong honde gebruik om groter honde wat hulle moontlik wil aanval, te wys dat hulle nie gevaarlik is nie. Dis ook algemeen dat hulle urineer as hul opgewonde is. Albei kom vanself reg met ouderdom en selfvertroue. Ignoreer hom as hy bang is en laat hom net in die huis inkom as hy nie opgewonde is nie. Hy sal die probleem later ontgroei. Beeld is van nou af jou en jou troeteldier se plekkie. Die doel van hierdie weeklikse rubriek is onder meer om uit te vind: Ons sal met telers, veeartse, diereafrigters, dieresielkundiges en almal praat wat ons kan help om beter eienaars vir ons troeteldiere te wees. Elke week bespreek ons ’n spesifieke soort troeteldier. Dit kan wees ’n honde-ras, kat-ras, voëlsoort, rotte, muise, slangsoort, perde, varke, konyne of wat ook al mense wil troetel. Ons sê ook elke week oor watter troeteldier ons die volgende week gaan skryf, sodat troeteldiereienaars ’n hele week het om vir ons foto’s van hul diere te stuur en ietsie oor hulle te vertel (in sowat 150 woorde). Stuur dit na troeteldier@beeld.com. Dié foto’s word dan gepubliseer of op hierdie blad en op www.beeld.com. Kliek op troeteldiere in die regterkolom. Jy kan ook vrae oor die spesifieke ras vra, of wenke stuur oor probleme wat jy opgelos het. Jy kan ook ’n video maak van jou troeteldier se oulike toertjies of stoutighede of speletjies of eienaardige gedrag en stuur dit met ’n geselsie oor hom ook na troeteldier@beeld. As jy nie toegang tot e-pos het nie, stuur ’n SMS aan 083 708 3366. Voorstelle welkom.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|