Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Ek snaaks? Twak, ek's pure liefde
Feb 29 2008 11:35:47:980AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Sonder hare is dit maar koud. . .nes mense ook voel. Annerie Ferreira het een van haar sfinkse afgeneem.

Marga Ley

Hulle mag miskien eienaardig lyk, maar hulle is geweldig mensgeoriënteerd, kruip graag onder jou komberse in en wil deel wees van als wat jy doen.

Só vertel mnr. Ernie Bester, 'n teler van sfinks-katte.

"Sfinkse voel 'n bietjie soos 'n seemsleerlappie (chamois).

"Hulle is warm en is nie regtig haarloos nie, hul lywe is bedek met baie fyn dons. Hulle voel amper soos 'n perske," sê Bester van die Chaterley's-kattelery in die Kaap.

"Hulle kry koud net soos en wanneer ons koud kry. So as dit vir jou nodig is om 'n trui aan te trek, gaan jou sfinks ook begin koud kry."

"Hulle hou nie van stilsit en mooi lyk nie, hulle wil deel van die huishouding wees. Sfinkse hou baie van water en 'n mens hoor van hulle wat nie net met kinders speel nie, maar saam bad en slaap ook."

Bester sê hulle keur voornemende kopers streng, want dis nie almal wat 'n goeie eienaar vir 'n sfinks kan wees nie. "Hulle verg tyd en aandag. Hulle is nie buitekatte nie en kan brand in die son. Omdat hulle baie sosiaal is, kan hulle nie die hele dag alleen bly nie. Hulle het nie hare wat natuurlike olies beheer nie, en moet daarom gereeld gebad word (of sommer met 'n waslap afgespons word)."

Hul voorkoms kan mense laat dink hulle is fyn katjies en pieperig, maar onder daai vel is daar 'n goed gespierde lyf wat baie stewig is, sê Bester.

Sfinkse is redelik skaars, volgens die kat-ensiklopedie van Royal Canin. Hulle skryf: "Sfinkse is lewendig, ondeund, spelerig en onafhanklik. Hulle is vriendelik teenoor ander katte en honde en is nooit aggressief nie."

Net soos ander katte, kan sfinkse enige kleur wees. Anders as ander kat-rasse, sweet hulle soos mense deur hul velle.

Volgende week:

'n Bladsy net vol raad en lesersfoto's! Vra oor julle probleme met jul troeteldiere en hou aan om die wonderlike foto's te stuur.

Raad aan lesers

Dr. Quixi Sonntag, veearts en dieregedragskenner, antwoord lesers se vrae.

Naomi Grobler van Ellisras: Ek het onlangs 'n basset toegevoeg tot ons troeteldiergesin, en ek wonder of ek my huiswerk deeglik genoeg gedoen het. Dit lyk asof hy geen dissipline het nie en wil ook nie nuwe dinge aanleer nie. Hy is nou 5 maande en mors steeds in die huis, spring teen almal op, kou alles en vergryp hom aan kos asof hy nooit iets te ete kry nie.

Bassets is geteel om reuke te volg, dus is hulle nie baie gefokus op wat mense wil hê nie! Nietemin het elke basset 'n brein en kan baie beslis 'n paar basiese goeie maniere aanleer.

Die probleem is eintlik nie die hond nie, maar die feit dat ons mense se kommunikasievermoë nie baie goed is nie en met 'n reuksintuig-beheerde hond moet ons baie duidelik kan kommunikeer voordat hulle sal verstaan! Jy kan solank met die volgende begin, maar moontlik het jy professionele hulp nodig:

  • Hou heeltemal op met raas en/of straf. Honde verstaan dit nie - hulle dink jy baklei met hulle en probeer dan om die konflik te vermy, en sien glad nie dat jy iets vir hulle probeer leer nie.

  • Fokus op goeie gedrag - jy is nou al so geïrriteerd met die hond dat die meerderheid van interaksies tussen julle nou negatief is. Jy sien nie meer die kort tydjies tussen die stout-wees waar hy eintlik niks verkeerd doen raak nie. Probeer jouself dwing om vir 'n paar dae net die positiewe raak te sien en beloon dit dadelik terwyl hy soet is met klein lekkernytjies.

  • Leer hom sit vir sy kos, lekkernye, of aandag voor hy dit kry. As hy nie sit nie, draai net om en stap weg.

  • Ignoreer lastige gedrag soos spring - kyk weg, bly stil, vou die arms en draai jou rug op hom sodra hy begin spring. Beloon hom dadelik met 'n lekkernytjie as hy toevallig nie spring nie. Sorg dat alle ander mense ook so reageer! Binne 'n paar dae van konsekwente ignorering sal hy ophou spring.

  • Neem hom gereeld uit gras toe sonder om te speel, veral ná ete, ná slaap en ná speel en wag dat hy sy besigheid doen. Speel dan 'n bietjie met hom of gee 'n lekkerny. Moenie raas as hy binne mors nie, maak dit net dadelik baie deeglik skoon (nie terwyl hy toekyk nie) met seep (sonder ammonium) en dan met alkohol.

    Penny Willemse: Ek het 'n spanjoel van 2 jaar oud wat baie liefde en aandag kry. Sy het min selfvertroue en is bang vir alles sedert sy op 9 maande saam met ons jack russell inbrekers uit die huis gejaag het. Nou het sy twee keer in een maand op my dogter se bed geurineer. Die jack russell slaap by my dogter in die kamer en die spanjoel in my kamer.

    Jou spanjoel het nou sosiale volwassenheid bereik en voel angstig oor haar plek in die hierargie. Sy merk nou 'n plek van hoë waarde deur daar te urineer. Selfs al kom die twee honde goed oor die weg, is daar waarskynlik 'n klein bietjie spanning oor wie in beheer is. As die spanjoel duideliker leierskap van die mense in die huishouding kry, sal sy waarskynlik baie beter voel. Dit beteken dat albei honde se voorregte bietjie minder gemaak moet word! Hulle moet byvoorbeeld van beddens, banke, meubels afgehou word. Gee ook minder aandag as hulle daarvoor vra en gee liewers goeie kwaliteit een-tot-een aandag wanneer hulle nie daarop aandring nie. So is daar minder kompetisie oor toegang tot waardevolle dinge (mense, meubels) en dus minder spanning.

    Elsabe, Pretoria: Ons het 'n labradorteef van 8 jaar wat die liefdevolste dier is. Ons het so paar maande gelede 'n jack russell (ook 'n tefie) by vriende gekry nadat hulle nie met haar kon huishou nie. By ons kry die jack russell baie liefde en aandag, maar sy is ongelooflik jaloers op die labrador. Sy wil ons glad nie toelaat om die labrador enige aandag te gee nie, dan byt sy haar sommer aan haar keel! Dit raak selfs so erg dat sy binne die labrador se kosbak urineer.

    Lees ook die antwoord hierbo. Onthou om altyd beheer te neem en minder kwantiteit en meer kwaliteit aandag te gee aan albei - maar gee maar steeds 'n bietjie meer aan die jack russell wat jy sê die aandagvraat is. Honde is nie demokrate nie en moet nie noodwending gelyke regte ontvang nie (moet dus nie te jammer voel vir die labrador nie). Gee die labrador aandag wanneer die ander een nie by is nie. Wanneer die jack russell inmeng, bly doodstil en staan op en loop weg (moenie met die jack russell raas nie). Hou die kleintjie besig met speletjie deur een familielid terwyl 'n ander een met die labrador interaksie het. Moet nie vir die jack russell aandag gee as sy daarop aandring nie - net wanneer sy rustig is. Andersins draai die rug op haar en loop weg.

    Anél Smit: Ek het twee worskinders. Al twee is 3 jaar oue reuntjies, Droopy en Levi. Droopy het baie maklik geleer om sindelik te wees. Hy is baie senuweeagtig, so erg dat sy voetjies sweet onder en dat hy nat spoortjies trap. Hy wil saamry in die kar, maar dis 'n nagmerrie vir ons. Behalwe die sweetvoetjies, loop hy ook en merk sy teenwoordigheid met uriene oral. Droopy is ook jaoers. Levi is gekastreer.

    Laat Droopy kastreer en bespreek dan sommer die kalmeermiddel met die veearts. Daar is 'n goeie kans dat kastrasie die uriene-merkery sal verminder. Die beste kalmeermiddel vir hom is alprazolam (dis die naam van die aktiewe bestanddeel). As jy dit kan bekostig, is DAP (dog appeasing pheromone) ook 'n uitstekende opsie - dit is 'n spuitmiddel in 'n kannetjie wat jy op 'n lappie spuit en die lappie om sy nek vasmaak. Dit kalmeer honde en die effek is so 2 tot 4 uur. Dieselfde DAP is ook verkrygbaar in 'n formaat wat jy by die muurprop kan inprop en sal beslis help met die piepie-probleem.

    Prop dit in in die kamer waar hy die meeste mors, of op verskeie plekke (een apparaatjie dek 50 tot 70 m²) en los dit aan.

    Een botteltjie hou sowat 'n maand en kan by veeartse gekoop word.

    Wenk

    Sorg dat jy in jou huishouding die alpha-hond is. Dit word nie gedoen deur aggressie en intimidasie nie. Só kan jy die alpha-hond word: Beheer die hond(e) se speletjies, sy kos en voedingstye, sy slaapgebied en die sosiale kontak tussen jou en jou hond.

    Dierefeit

    Slange kan nie leer nie, omdat hulle nie vergrote breinlobbe het nie en dus geen sentrum het vir leer of dink nie. Hulle is doof en het deursigtige skubbe waardeur hulle sien en wat hul oë beskerm. Hulle kan nie hul oë knip of toemaak nie.

    Kyk na foto's van lesers se troeteldiere

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |