Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Candy se leë plekkie
Mar 28 2008 08:25:14:657PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Candy as jong hondjie saam met haar mensema Elsa Krüger.
Marga Ley

Haar naam was soet, maar sy was dit nie altyd nie. Maar sy het my liefgehad en ek vir haar. My vierbeen goue kind van tien jaar.

My geliefde spanjoel is vanoggend dood. Ons het die afgelope dae baie gepraat. Ek kon aanvoel iets is verkeerd. Sy het gisteraand lank met haar kop op my skoot gesit. Haar blinde oë vasgenael op die plek waar sy geweet het ek is. Sy het my hand aanhoudend gelek.

Vanoggend het sy inwendig begin bloei en die veearts het gesê dit is tyd om haar te laat slaap. Dit het my hart gebreek.

Sy het drie maande gelede heeltemal blind geraak en haar lewensgehalte het baie agteruitgegaan. Sy kon nie meer rondhardloop en voëltjies jaag nie.

Sy het gesukkel om die trappe na ons kamer te klim, maar vanoggend, toe sy in pyn was, het sy haar lyfie boontoe gesleep om my te kom roep.

Sy het haar laaste rit in die motor gehad. Haar geliefde plek. Dit het haar gereeld Hermanus toe geneem waar sy in die see kon swem. Sy het droomvelore geraak in die see. Die laaste oggend in Januarie wou sy nie uit die see kom nie. Toe ons wegstap, het sy vir oulaas met haar blinde oë teruggekyk. Ek weet nou sy het gegroet.

Nou groet ek jou, my goue kind:

Jy het my uitgekies toe ek jou optel. Jy het my hart kom heelmaak na ’n miskraam. Ons het ’n hele paar lewenslesse saam geleer.

Jy was ’n veeleisende hondjie, maar elke oggend het jy die trappe opgehardloop en my met jou pienk tong belek. Jy het my laat lag.

Joana het jou dadelik aanvaar en versorg as ek weg was, maar jy en Randal het nie klaargekom nie. Jy was ’n een-mens-hond. Hy is nie ’n hondemens nie, maar julle het mettertyd rustig geraak. Hy het jou held geword. Jou been-man. Jy het hom nie onder jou oë laat uitgaan as jy vermoed het hy het ’n happie vir jou nie. Dan het jy by sy voete geflirt tot jy jou sin kry.

Jy het geweet Randal is ’n liefdevolle versorger. Slim meisie. Ons het ’n familie geword.

Jy het eintlik gedink jy is ’n mens en kon jou elegante neus optrek vir rou vleis, maar het van mango, perske, mielies en druiwe gehou. Maar as jy ’n been gehad het, het jy ’n siedende wolf geraak.

Jy was trots en elegant. Jy het nooit ongelukkies in die huis gehad nie en jy het nie daarvan gehou as iemand jou dophou met jou private sake nie. Die laaste maande het jou waardigheid gestroop.

Jy het my alter ego geword. Ons het daardie besondere band tussen mens en dier gehad. As ek bang, kwaad of ontsteld was en my emosies onderdruk het, het jy dit uitgeleef. Ons het mekaar verstaan. Jou gunstelingplek was met jou kop op my bors met jou oë wat lank in myne staar. Dit was asof jy reguit in my siel kyk.

Jy was versot op ons ritte na Hermanus. By Overberg het jy al regop begin sit en blaf. Jy het oggende in Breakfast Bay geswem en op Grotto-strand gebaljaar. Jy kon nie wag dat ek en Randal vyfuur ons stapskoene aantrek nie.

Jy was ’n elegante dame, maar ook ’n humeurige feeks, maar jy was my meisie tot die einde.

Jy sal altyd deel van my wees. Ek dra jou letsels op my vel. Toe jy nog ’n baba was, het jou skerp tandjies my hand oop geruk en moes ek steke kry. Een Nuwejaarsaand, in jou vrees vir die vuurwerke, het jy my duim gebyt. Ek was hartseer en jy skaam.

Maar jy kon my met jou lewe verdedig. Ek was nooit bang as ons alleen was nie. Ek het geweet jy sal doodbyt vir my. Jy het selfs Randal en Ouma nie naby my toegelaat as ek bad of slaap nie.

Jy was ydel en beeldskoon. Jou weeklikse besoeke aan die honde- salon was jou hoogtepunte. Jy kon hoor as oom Elias se trokkie stilhou. Jy het altyd trots huis toe gekom. Jy was beeldskoon en het dit geweet.

Jy kon ’n slinkse bedelaar en ’n onbeskaamde tert wees as jy iets wou hê.

Jy het jou koddighede gehad. As die deurklokkie gelui het, het jy my nekkussing op die bed gaan uitsnuffel en die gaste met die “geskenk” begroet.

En hoewel jy nooit ’n kerel gehad het nie, het jy vurig liefde gemaak met die groen kussing by ons vakansiehuis in Vermont. Ons het dit histeries snaaks gevind, behalwe as jy dit voor gaste gedoen het. Jy het dit gehaat om geïgnoreer te word.

Joana het vanoggend saam met my veearts toe gegaan. Sy het elke traan en snik gedeel toe ons jou lewelose goue lyfie gegroet het. Ouma Nellie het kom kuier en Randal het gereeld uit Kaapstad gebel. Ons sal jou almal mis.

My hart is geskeur. Die huis is leeg sonder jou. Jy laat ’n groot leë plek, my baba.

Jy het geweet jy is op jou laaste. Jy het my probeer vertel.

Ek moet dit respekteer dat jy nie meer kon aangaan nie. Al is dit hoe moeilik. Jy het nie meer ’n goeie lewe gehad nie. Ek het belowe om jou te laat gaan as jou waaiende stertjie my die dag vertel jy het genoeg gehad.

Toe jy deur jou Terrible Two’s gegaan het, het ’n hondesielkundige my vertel mens kry nie slegte honde nie, net slegte honde-ouers. Ons het drie jaar klasse toe gegaan en jy het jou lesse bemeester. Ek het ’n goeie honde-ouer geword, dink ek. En jy ’n goeie hond.

Jou gunsteling les was “Play dead”. “Play dead Candy. Very dead.” Net die wit van jou oë was sigbaar en jou kort stertjie het onbeheersd gewaai as jy kamma dood was vir die wêreld. Net ’n “Good girl” was genoeg om jou weer te laat opspring en jou jou beloning te laat opeis.

Nou is “Play dead” werklik.

Ek het jou ogies toegemaak en jou op jou voorkop gesoen. Die veearts het die radio afgeskakel terwyl ek jou goue lyfie gestreel het.

Dankie vir die vreugde wat jy tien jaar besorg het. Dankie dat jy my so heelhartig en onvoorwaardelik liefgehad het. Dankie dat jy so dapper probeer uithou het ter wille van my.

Jy was beeldskoon. Jy het karakter en houding gehad.

Jou plek is leeg.

Lekker doedoe, my bokkie.

Vrae en antwoorde:

Sonja Wagener vra: Ek is raadop met my kat se toiletmaniere. Sy het eers begin om langs haar sandbak haar besigheid te doen en nou het sy 'n ander vertrek gekies en doen dit sommer op die teëls.

Sulke gedrag is gewoonlik as gevolg van 'n probleem met die sand self of algemene spanning. Probeer 'n ander soort sand - sommige katte verkies sagte ("clumpable") sand, of gewone riviersand of tuingrond. Dit kan ook wees dat die sand vuil was toe sy die eerste keer langs die sandbak gemors het. Maak daagliks die sandbak skoon deur vuil sand te verwyder en met nuwes te vervang, en vervang al die sand in die bak ten minste een keer per week. Maak ook seker dat die sandbak op 'n stil plek is, of oorweeg dit om 'n sandbak met 'n dakkie aan te skaf. Katte wil graag privaat voel wanneer hulle toilet toe gaan (net soos ons!). Skaf een of meer Feliway-verspreiders aan (dit stel 'n kat-feromoon vry wat katte laat ontspan en beter laat voel oor hulle omgewing) en sit een in die kamer waar die sandbak is. Moet glad nie met haar raas nie - dit sal net die probleem vererger. Raadpleeg 'n professionele gedragskenner as dit nie beter gaan nie. (Lees ook die antwoord op die volgende vraag.)

Rina Bruwer skryf: Ek het 3 katte wat almal gesteriliseer is. Nie een van hulle is meer jonk nie, die oudste is seker al 14 jaar oud. My probleem is dat hulle alles loop en merk. Ek moet heeldag agter hulle loop en skoonmaak. Dit is so erg dat ek hulle nie meer in my huis kan toelaat nie.

Kry soveel Feliway-verspreiders as wat jy kan bekostig - dit is 'n katferomoon wat katte laat ontspan en die behoefte om te merk verminder. Een so 'n verspreider dek 50 tot 70 m².

Voorsien ten minste nog een eetplek, nog 'n sandbak, meer krappale en meer uitgange na buite sodat geen kat ander kan intimideer rondom bronne (eetplekke, toilette, uitgange, ensovoorts) nie. Voorsien meer toe slaapplekke op verskillende vlakke om die illusie van meer spasie te skep. Maak skoon waar hulle gemors het met seep en daarna alkohol en moet glad nie met hulle raas nie - dit sal die probleem erger maak!

Charmaine Roos vra: Paris, die jack russel, is vreeslik bang as ons rillerrolprente kyk. Ons het aan die begin gedink dis net die klank wat haar bang maak, maar ons kan byvoorbeeld 'n ander fliek kyk met baie klank en sy sal nie bang wees nie. Maar sy is doodbang as ons 'n gru-fliek kyk. Sy hiperventileer, hardloop rond en haar tong hang uit. Kan dit wees dat sy aanvoel ons is gespanne of bang? Sy vertoon soortgelyke simptome met swaar donderweer.

Dis waarskynlik 'n kombinasie van die klanke en die mense se reaksie. As sy reeds 'n reaksie teen donderweer toon, is dit heeltemal moontlik dat soortgelyke klanke vir haar dan dieselfde vrees laat voel. Onthou dat Paris klanke baie fyn kan onderskei en waarskynlik baie maklik kan onderskei tussen rillers en ander flieks met hoë klankvlakke. Sy kan ook julle eie gevoelens aanvoel, en laastens kan dit ook wees dat haar reaksie mettertyd vererger omdat sy aandag kry daarvoor.

Ignoreer haar dus wanneer sy so reageer, maar probeer tog om minder rillers te kyk as sy by is! As sy nie angswerende medikasie kry nie, sal die vrees vir harde klanke mettertyd vererger.

Phillip Vos skryf: Ek het twee maine coons, nou tien jaar oud, waarvan die een se hare gereeld erg koek. Ek het hom gereeld geborsel, maar in die laaste paar jaar weier hy 'n borsel naby hom. Laasjaar moes ek hom na 'n salon neem om die koeke uit te borsel, maar daar word nie sagkens met hom gewerk nie en ek is oortuig daarvan dit is erg traumaties vir hom. Sy hare is nou weer vinnig besig om koeke te vorm en ek kry hom nie geborsel nie.

Die meeste veeartspraktyke sal so 'n kat opneem, met 'n veilige middel laat ontspan en dan die koeke netjies afskeer. Die meeste sedasiemiddels kan onmiddellik met 'n teenmiddel omgekeer word, dus kan die kat wawyd wakker en pragtig huis toe gaan.

  • Al die vrae is beantwoord deur dr. Quixi Sonntag, veearts en dieregedragskenner van Pretoria.

    Dierefeit

    Het jy al gedink jou hond kan jou gedagtes lees?

    Honde "lees" mense se lyftaal - daarom lyk dit soms of hulle alles voor die tyd weet. Dis omdat hulle jou manier van optree lees. So weet hulle as jy hartseer of bly is of hulle weet dis Saterdag omdat jy nie vroeg opstaan of "werk-toe-gaan-klere" aantrek nie. Hulle ken jou roetine en jou lyftaal.

    Dierewenk

    As jy rotte of muise aanhou, is dit beter om twee of meer te kry, want hulle is sosiale diere. Twee wyfies sal keer dat jy later 200 het. Moenie rotte en muise in dieselfde hok hou nie, want hulle sal mekaar seermaak. 'n Gesonde rot of muis se oë en neus blink, hy stel belang in wat om hom aangaan, sy agterlyf is droog en sy pels is skoon en gesond.

    Bron: Troeteldiere vir beginners deur Jaco Jacobs

    Stuur foto's en video's van jou troeteldier na troeteldier@beeld.com.

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |