Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Spoed en dierbaarheid
Marga Ley Aan die een kant is hy 'n masjien met 'n ingebore dryfkrag om te hardloop en op volspoed 'n toonbeeld van prag. Aan die anderkant is hy 'n troeteldier met 'n ongewone dierbaarheid en sagtheid. 'n Windhond kan vinniger as 70 km/h hardloop en is gebou vir spoed met 'n sterk, gespierde, simmetriese lyf, 'n lang kop en nek en kragtige agterbene. Met sy stamina, spoed en uithouvermoë het hy baie oefening nodig. Wanneer hy nie hardloop nie, is hy baie rustig en 'n aangename troeteldier. Sy geaardheid is gelykmatig, liefdevol, sagmoedig, wakker, kalm en goedgeaard - maar hy sal alles jaag wat hy sien en moet dus goed dopgehou word wanneer hy vir oefening geneem word. Hulle is tevrede met 'n paar goeie hardloopsessies per week en sal die res van die tyd op jou rusbank lê. Die windhond, ook bekend as die Engelse windhond, is een van die oudste honderasse. Daar word gemeen hy stam af van die Tesem, 'n antieke Egiptiese hond wat in tekeninge in die grafte van die Farao's te sien is. Die ras het via Griekeland na Engeland en Europa gekom. Een van die variasies van waar die Engelse naam vir die ras, greyhound, vandaan kom, is dat dit 'n vervorming van "Greek hound" is. Windhonde is vir lank geassosieer met koninklikes. Van die 11de tot die 14de eeu was dit in Engeland verbode vir "gewone mense" om die honde te besit. Oortreding van dié wet was strafbaar met die dood. Bronne: Die Royal Canin Hond-ensiklopedie; South Africa's Dog Directory 2008 en www.canismajor.com/dog/ghound.html Vrae Mandy skryf: Ek het 'n Husky, Rambo. Ons het hom gekry toe hy reeds so 'n jaar oud was. My probleem is dat hy vreeslik bang en jammerig voorkom en dan grawe hy gate vir die eerste span. Hy is ook vreeslik aggressief by tye, veral as iemand naby my kom of aan hom wil vat. Ek kan ook nie met hom gaan stap nie, dan wil hy elke ander hond wat hy in die straat kry, verskeur. Ek is raadop. Dr. Quixi Sonntag antwoord: Honde leer alles oor die wêreld in die eerste vier maande van hulle lewe. As hulle nie in daardie tyd (die sosialiseringstydperk) voldoende blootstelling kry aan alles waarmee hulle in hulle lewe te doen gaan kry nie, word hulle maklik vreesbevange sodra iets bietjie vreemd is. Dit is dus moontlik dat Rambo nooit ordentlik gesosialiseer was nie en nou bang is vir alles en almal. Vrees kan baie maklik as aggressie manifesteer en dit is wat hy nou doen. Hy moet hulp kry om sy selfvertroue op te bou, en moet gedesensitiseer word vir mense wat aan hom vat, ander honde ens. Intussen moet mense liewers nie aan hom vat nie en moet hy nie blootgestel word aan die dinge wat hom aggressief of bang maak nie. Die proses van desensitisering sal hom mettertyd aan hierdie dinge gewoond maak. Dit is 'n geleidelike blootstellingsproses wat gepaard met aangename assosiasies (bv. lekkernye) moet gaan sodat sy negatiewe gevoelens in positiewe emosies omskep word. Dit vat baie geduld maar is die moeite werd! Nader 'n gedragskundige om jou te wys hoe om hierdie desensitisering toe te pas. Wendy Hattingh skryf: Ek wil graag raad kry vir my Jack Russell wat se hare so uitval. Is daar iets wat ons kan gebruik om dié probleem op te los? Ons het haar al gereeld gekam en olie vir die hare oor die kos gegooi en niks werk nie. Ons is baie lief vir die woefie en sy is altyd by ons in die arms en op die meubels. Dit raak nou ongemaklik met al die hare. Dr. Adriaan Kitshoff antwoord: Daar moet eerstens onderskei word tussen hare wat uitval en hare wat uitgetrek/uitgekrap/uitgebyt word. Daar is baie kondisies en siektetoestande wat haarverlies kan veroorsaak. Van die kondisies mag as normaal beskou word, terwyl ander as gevolg van siektetoestande mag wees. Allergieë, myte, fungi, oorerflike kondisies en hormonale probleme is maar net 'n paar. 'n Gebalanseerde dieet met kos van 'n goeie gehalte vir die hond is ook belangrik. Deurlopende matige haarverlies is normaal. Die pels se dikte wissel met die seisoene en honde mag meer hare verloor aan die begin van die warmer maande. Daar is geen kitsoplossings nie en die oorsaak moet gevind word voordat die probleem aangespreek kan word. Volgende week: Persiese katte. Stuur foto's en video's van jou troeteldier na troeteldier@beeld.com.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|