Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Sukses vir dromerige Dempsey
Raak jou knieë lam elke keer wanneer dr. Derek “McDreamy” Shepherd op die kassie verskyn in die trefferreeks Grey’s Anatomy? Indien wel is daar goeie nuus: Patrick Dempsey, die akteur wat dié rol vertolk, is ook in die regte lewe ’n “droomman”. “Kan ek vir jou ’n koppie tee of koffie maak?” vra hy dadelik wanneer ’n mens hom ontmoet in ’n Beverly Hills-hotelsuite om oor sy nuwe romantiese komedie, Made of Honor, te gesels. Dempsey straal ’n ouwêreldse sjarme en selfvertroue uit wat maak dat jy nie anders kan as om hom met George Clooney of Tom Hanks te vergelyk nie. Dié eienskappe kom boonop alles na vore in die fliek, wat ook ’n mylpaal vir Dempsey is: hy word die eerste keer, sedert ’n paar tienerflieks twee dekades gelede, bemark as die “ster” van die fliek. “Dis goed om ’n vasbyter te wees en iets van alles te kon ervaar,” sê die 42-jarige akteur. In Made of Honour speel hy die rol van Tom, ’n rokjagter-sakeman. Die enigste stabiele deel van Tom se lewe is sy beste vriendin Hannah, vertolk deur Michelle Monaghan. Wanneer sy egter vir ses weke Skotland toe gaan, kom hy tot die besef sy lewe is leeg sonder haar en maak ’n voorneme om sy liefde te verklaar sodra sy terugkeer. Hannah keer egter terug mét ’n verloofde aan haar sy en vra Tom om haar “bruidsmeisie” (maid of honour) te wees – ’n versoek wat Tom teësinning toestaan, maar ook net sodat hy die verhouding kan saboteer en Hannah se hart kan wen. “Dit was gróót,” erken Dempsey oor die eerste keer dat hy sy naam bokant die titel op die fliekplakkate gesien het. “Dit plaas baie druk op ’n mens, maar voel ook goed om te weet ek het daardie stap geneem en kan die gehoor hopelik saam met my neem op die reis.” Dempsey is nederig, maar kan nie help om opgewonde te raak wanneer hy praat oor die fliek nie. “Dis ’n prettige, outydse romantiese komedie en was die ideale geleentheid vir my om iets anders te doen en terselfdertyd ’n romantiese karakter te vertolk.” Die veelsydige akteur kan ook een van sy meer versteekte personas ten toon stel in die komiese oomblikke. In een toneel arriveer hy by ’n restaurant met blomme om Hannah te ontmoet nadat sy van Skotland af terugkeer. Hy is senuagtig oor hoe sy gaan reageer op sy liefdesverklaring, maar voordat hy dit kan doen stel sy haar Skotse liefde voor. Hy tree instinktief terug en dit het ’n reuse-ongeluk met ’n kelner tot gevolg. “Hy het ’n heel ander kant van sy persoonlikheid,” verklap medester Michelle Monaghan. “Ek het geweet hy kan drama doen, maar was baie beïndruk deur hoe goed hy is met komedie – en toe vind ek uit hy het mimiek en wiggelary studeer en wou eens op ’n tyd ’n nar wees!” Selfs Dempsey vind dit moeilik om te dink dit is al 20 jaar sedert hy oornag ’n ster geword het met twee flieks wat dadelik klassieke tiener-kykstof geword het: Can’t Buy Me Love, met Amanda Petersen, en Loverboy, waarin Kirstie Alley een van die “ouer vroue” speel wat die pizza-afleweraar verlei. Dit is moeilik om te glo dié aantreklike en charismatiese akteur kon vir jare ná die aanvanklike sukses nie weer ’n groot rol losslaan nie, en moes met swak TV-flieks of klein ondersteunende rolle tevrede wees. Ná twee rolle in die trefferreekse Will & Grace (as Will se kêrel) en Once & Again (waarvoor hy vir ’n Emmy benoem is) was Dempsey op die regte pad. Nadat hy die rol van dr. Gregory House aan Hugh Laurie moes afstaan, het hy eindelik ’n droomrol gekry in Grey’s Anatomy: dit het ’n wêreldwye fenomeen geword en hy is vir twee Golden Globes benoem. “Dié reeks het alles verander en die afgelope jaar was ongelooflik en besig,” sê Dempsey. “Ek was by Grey’s, het die fliek Enchanted verfilm, is terug na Grey’s en het toe aan Made of Honor kom werk. ” Dit lyk dalk baie glansryk, maar Dempsey bewys graag die teendeel. “My tipiese dag bestaan uit nie veel slaap nie, aangesien my dogter gewoonlik by ons bed inkruip. Ons is douvoordag op, want ek of my vrou moet haar skool toe neem. Die seuntjies word dan wakker, so hulle moet kos kry. Daarna oefen ek en lees draaiboeke. Later kom almal weer huis toe, dis die aandroetine en ons gaan slaap vroeg!” Daar is darem glansryke oomblikke, erken hy. “Ek kry geleenthede om te reis en flieks te bemark en wanneer ek werk aan Grey’s kan ek vir Ellen Pompeo (Meredith) soen!” Hy is nie bekommerd dat mense net aan hom kan dink in die rol van McDreamy nie. “Ek het daardie karakter in my lewe, en sal mense saam met my moet neem op die reis om nuwe areas te ontdek. Oor die toekoms sê hy: “Ek is ’n paar interessante rolle aangebied wat iets heeltemal nuut is, ek sal graag dié kanse wil aangryp.” – Sony Pictures
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|