' 'n Kankerpasiënt moet déélneem'
Dr. Ivan Cohen het nie gedink hy gaan lewend wees wanneer sy boek verskyn nie.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Riller aan Noordkus verfilm
May 08 2008 04:45:36:447PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Jacques Liebenberg

Die Titanic-ster Billy Zane en die voormalige Idols-aanbieder Colin Moss is van die akteurs in ’n nuwe Suid-Afrikaanse fliek wat aan die KwaZulu-Natalse Noordkus geskiet word.

Die fliek wat in Suid-Afrika as Aswang! uitgereik gaan word, is ’n bonatuurlike riller en handel oor ’n TV-span wat in die Filippyne deur mensvreterwesens aangeval word. Dis die eerste fliek van die nuwe Suid-Afrikaanse fliekverspreider MFilms en word ook deels met Britse geld gemaak. Daar is onlangs met die verfilming begin en dit is verlede week afgehandel.

Nog bekendes in die rolverdeling is die Filippynse aktrise Natalie Mendoza (The Descent) en die Brit Christina Cole, wat in Casino Roya le en die komende Miss Pettigrew Lives for a Day te sien is, asook die voormalige Egoli-aktrise Louise Barnes. Die skrywer en regisseur is die Brit Terence Daw, ’n man met ’n TV-agtergrond wat sy rolprentdebuut met Aswang! maak.

Op ’n besoek aan die stel op die strand net noord van Shaka’s Rock is Moss en Mendoza besig met ’n klein toneel waarin hulle die gebeure op die eiland bespreek. Moss, laas in die rugbyfliek Number 10 op die kringloop te sien, vertolk die rol van Dexter Simms, ’n kameraman, en is lid van ’n TV-span wat riglyne vir oorlewing in die wildernis gee. Die ster is Seb Beazley (Zane), ’n oorlewingspesialis. Mendoza is Chill Reyes, ’n wetenskaplike en een van die span se Filippynse gidse.

Sy karakter is die siniese een, vertel ’n opgewekte, bebaarde Moss later. “Hy kom van Londen en het dalk reeds te veel van die wêreld gesien. Hy het altyd iets slim om te sê.”

Die bekkige een? Is hulle nie gewoonlik een van die eerste slagoffers nie?

Moss, wat bieg hy probeer opnuut branderplank ry, lag lekker. “Dit kan ek jou nie sê nie; jy sal moet wag vir die fliek. Ek kan wel sê Dex is later heroïes.”

Die fyngeboude Mendoza, wat binnekort met die vervolg van die grot-riller The Descent begin, sê in Aswang! is haar karakter minder van ’n rabbedoe. “Sy is aanvanklik ’n bleeksiel en nogal bang. Dis eers later wanneer sy tot by haar primitiewe breekpunt gedruk word dat sy tot aksie oorgaan.”

Mendoza, wat as danser opgelei is en in verhoogproduksies soos Les Miserables en Miss Saigon te sien was, vertel sy geniet nie net fisieke rolle nie, maar ook die intimiteit van die rolprentmedium. “Daardie soort intimiteit kry jy nie op die verhoog nie. In ’n fliek kan jy baie meer met jou oë doen; dis meer subtiel.”

Wat van daardie indrukwekkende strekoefening wat sy in ’n toneel in The Descent doen?

Dit was suiwer toeval, vertel Mendoza. “Dit was nie in die draaiboek nie. Ek het sommer as ’n grap my been gelig en tot teen my kop gelig. Die volgende oomblik skreeu die regisseur: ‘Perfek!’ Die tegniese mense het almal gelê soos hulle lag.”

Anton Ernst, ook vervaardiger van Number 10, is een van Aswang! se vervaardigers en hy werk weer saam met Moss. “Die produksiewaarde is baie hoër en die spel is fantasties. Ons doen die fliek op so ’n manier dat dit aangrypend én scary is. Ons posisioneer dit in lyn met wat die mark wil hê.”

Aswang! word na verwagting in Oktober uitgereik.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |