Sorg só vir die aarde én jou gesin
Om eko-vriendelik te wees is lankal reeds mode skryf Liezel Joubert.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Vele kante aan Van Loggenberg
May 09 2008 02:58:39:867PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Liezel Joubert Hy is gebore in Benoni en is nou nog spyt hy het Charlize deur sy vingers laat glip. Maar daar skuil meer agter die glimlag en snaaksighede van die Kwêla-veldaanbieder Morné van Loggenberg as wat die kamera wys.

Liezel Joubert het met hom gesels. Om huistoegaantyd op 'n Maandagmiddag is min mense lus om gepeper te word met vrae. Die gewone mens smag al na die glasie wyn wat saam met sepie-plesier wag of 'n goeie gimsessie om van die dag se frustrasies ontslae te raak na 'n gebroei in die verkeer. Herinnering aan die afgelope naweek maak dit sommer ekstra-swaar in die kantoor en na vyf is dit moeilik om nog grappies te maak en vrolik te wees.

Dis nou behalwe as jy Morné van Loggenberg is. Met 'n voldag se werk agter die blad en warm van sy motorfiets af na hy die verkeer tussen Pretoria en Johannesburg aangedurf het, glimlag hy van oor tot oor, vreeslik jammer oor hy laat is vir die onderhoud. Met só 'n gesig is dit moeilik om vir die lang, donker man kwaad te bly.

Hy kom pas terug van Amerika waar hy vir sy (voltydse) werkgewer 'n projek gaan doen het. Want Van Loggenberg is slegs vryskut by Kwêla, met sy "regte werk" as 'n opleidingskonsultant wat dit vir hom moontlik maak om ook dié passie uit te leef.

Wat baie kykers dalk nie weet nie, is dat hy 'n meestersgraad in rekenaarwetenskap en 'n graad in sielkunde het. Beslis nie net 'n mooi gesiggie nie! Hy het "per toeval" by Kwêla beland toe iemand wat gehelp het by 'n kerkproduksie waarby hy betrokke was, hom laat weet het Kwêla hou oudisies.

"Ek het in Augustus 2005 vir die oudisie gegaan en eers in Januarie 2006 gehoor ek het die werk," vertel hy.

Dit was vir lank vir Van Loggenberg net 'n droom om by televisiewerk betrokke te raak omdat dit vir hom altyd lekker gelyk het om na allerhande vreemde plekke gestuur te word en nuwe mense te ontmoet.

Nou moet hy mooi praat by albei sy base om almal gelukkig te hou.

"Albei verstaan darem dat die ander werk ook belangrik is vir my," vertel hy.

Maar sy talente hou nie daar op nie...Hy is besig om 'n CD op te neem saam met sy band Under White Flag en beskryf dit as een van sy mikpunte om eendag 'n musiekvideo op MTV te hê. Hy wil ook eendag in 'n aksiefliek wees waarin hy goed opblaas en vir die Springbokke uitdraf.

'n Rugbyspeler?

Nee, sê hy, hy trek my been. Maar hy speel wel in 'n raakrugbyliga wat hy baie geniet.

"Ek dink 'n mens sien net 'n sekere aspek van 'n mens as jy op televisie na hulle kyk, maar almal het meer as een dimensie," verduidelik hy die vraagteken wat op my voorkop groei oor alles wat hy doen.

Hy sê hy dink mense sal byvoorbeeld nogal verbaas wees as hulle sy musiek hoor omdat dit ernstiger is as sy televisiepersona.

"Ek was erg skaam op skool, maar ek het dit altyd in my hart gekoester om mense te vermaak," spot hy.

"So ek geniet 'n grappie, want ek hou daarvan om mense te laat lag. Maar as jy na my musiek luister, sal jy die ander aspek sien waarin ek geniet om te delf - om 'n bietjie ernstiger te wees en moeilike vrae vir myself en oor die lewe te vra."

Oor homself gaan hy ook binnekort baie meer wys raak.

Op 2 Julie vertrek hy en 'n vriend op 'n driemaande-tog van Kaapstad tot Londen met 'n handkamera en planne om dalk 'n paar mense se lewens op hulle pad te verander.

"Daar is 'n liefdadigheidsaspek daaraan gekoppel. Ek en my vriend was al van unversiteitsdae af betrokke by kinderbediening, so ons gaan probeer om op ons roete te kyk waar ons kan hand bysit by kinderhuise - dalk deur fisieke arbeid of om hulle net vir 'n rit op die motorfiets te vat. Ons wil eintlik net kyk of ons 'n klein verskil kan maak op die pad en sien wat ons kan leer by mense én toevoeg tot hulle lewens."

Jy kan sy liefde vir mense aanvoel in die deernis waarmee hy praat, en erken hy dat dié liefde sy grootste is.

"Dit was nie altyd so nie, dit was 'n geleidelike proses. Ek het eendag net besef ons het almal die gereedskap om mekaar lief te hê. Van toe af was daar ietsie mooi in elke persoon om te geniet. Ek wil nie prekerig klink nie, maar dit was 'n spirituele skuif."

Voor Van Loggenberg weer sy valhelm opsit, gee hy 'n vriendelike drukkie, sy persoonlikheid so warm soos sy passie vir mense.

As titels soos "TV-ster", "rekenaar-boffin", "rockster" of "avonturier" voor hom uitgepak gelê het, vermoed ek hy sou eerder dié van "filantroop" kies.

Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |