Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Agter die kamera
Ek het alles aan Sapa Reuter* te danke, skryf Nardus Nel, wat al van die Springbokke en glansmense tot kleurryke gewone mense in sy loopbaan as fotograaf afgeneem het. As skoollaaitie het ek al besluit ek wil eendag doen wat Sapa Reuter* doen. Ons het op Somerset-Oos smiddae Die Oosterlig gekry, wat ek van voor tot die sportblad verslind het. Dit was in die dae voor TV. Op die voorblad sou Sapa Reuter berig het oor Dr. Verwoerd se toespraak by die Gemenebes-konferensie in Londen, op bladsy twee oor veediefstal wat toeneem in Graaff-Reinet, dan iewers weggesteek in dieselfde uitgawe ’n storie oor hoe ’n koejawel per dag verkoue weghou en op die sportblad berig hy oor die Springbokke se Nieu-Seelandse toer en dat die Oostelike Provinsie se vroue-rolbalspan die Westelike Provinsie s’n ore aangesit het. “Wow!” Of ek sou in daardie tyd seker “goeiste!’’ gesê het. Dié man genaamd Sapa Reuter was orals. Ek wou eendag doen wat hy doen. Na my militêre diensplig in die lugmag was ek ’n bietjie rigtingloos (is dit eintlik nou nog volgens my vrou, Marina) en ek het werk gekry by die Ford-motormaatskappy in Port Elizabeth as ’n klerk. Toe sien ek ’n advertensie in Die Oosterlig vir ’n persfotograaf en weet: “dit is wat ek wil doen!” Daar was net een klein probleempie – ek het nie geweet hoe om foto’s te neem nie (weet eintlik nou nog nie volgens my seun Bernard). Ek maak toe ’n afspraak met die redakteur, trek my aanneempak (my enigste) aan en koop ’n pakkie Rembrandt van Rijn-sigarette vir ingeval hy rook en ek moet aanbied. Texan Plain, wat ek in daardie stadium gerook het, het net vir my te on-Afrikaans geklink om vir die baas van Die Oosterlig, mnr. Dirk van Zyl, aan te bied. Daar was sewentien aansoeke vir die pos en ek was al een wat nie geweet het hoe om foto’s te neem nie, lig mnr. Van Zyl (wat toe nie rook nie) my in, maar hy het gehou van my cheek. Hulle was die volgende dag, ’n vakansiedag, ’n fotograaf kort. Cradock Rovers se rugbyklub het sestig geword en ek moes vir die koerant gaan foto’s neem as ’n soort proeflopie. Nato Barnard, toe Oosterlig-fotograaf (en later my mentor) het vir my ’n uurlange crash course in fotografie gegee en my toegerus met ’n kamera, flits en lens en daar gaan ek Cradock toe – as persfotograaf! Ek onthou nog ek het van “kiekies neem” gepraat. Nato het gesê hy donner my as ek weer die woord gebruik: “Dis foto’s.” Die skrumskakel in die hoofwedstryd gewaar my. Daar is nie aldag ’n “koerantfotograaf” langs die veld op Cradock nie, en hy gee ’n duikaangee van omtrent twee meter hoog, wat mense soos dr. Danie Craven (wat die duikaangee uitgevind het) ’n slegte naam sou gee. Die foto maak die job myne vir ’n proeftydperk van drie maande. Tot vandag toe het niemand my nog ooit ingelig wanneer my proeftydperk oor is nie. En ek was te bang om ooit te vra. Na twee jaar by Die Oosterlig is ek na die grote Johannesburg om vir Die Vaderland en later The Citizen, Rapport en toe Media 24 (Huisgenoot, Sarie en ander) te kiek en te kiek. My plek agter die kamera maak my as’t ware die koerant en tydskrifleser se oog by nuusgebeure en -geleenthede. Dis my werk om met foto’s vir hulle te wys van die doen en late van glans-, gewone en interessante mense, dinge en gebeurtenisse. Ek blaai vandag deur my ou knipsels (aan die begin knip jy dit uit – later nie meer nie) en ek gaan bietjie deel wat ek raakblaai. Om foto’s te neem en op dieselfde veld te wees wanneer die Springbokke speel, voel of jy ook jou land verteenwoordig. Ek was ook bevoorreg om op die veld in Ellispark in 1994 te wees. Ek het Mej. Heelal in die middel van die Namib afgeneem. In- en uitgevlieg met ’n gehuurde vliegtuig vir Sarie! Ek het ’n foto geneem waar Leon Spinks soos ’n vrot vel deur die lug trek in Monte Carlo, met die komplimente van ons eie Gerrie Coetzee. Toe dr. Beyers Naudé ingeperk was en nie meer as twee mense op ’n slag in dieselfde vertrek saam met hom mag gehad het nie, het ek hom van buite deur die venster afgeneem. In die sewentigs het ek ’n man afgeneem wat van ’n gebou afspring het nadat die ongeduldige skare later “jump! jump! jump!” begin skreeu het. Ek het as getuie geteken toe Steve Hofmeyr en Natasha Sutherland op die eiland St. Thomas in die Karibiese See getrou het. Danksy Huisgenoot was ek ook vir ’n week saam met Joost van der Westhuizen op wittebrood op die weeldeskip Imagination. Later jare was ek weer vir ’n paar dae op Mauritius waar ek hom en Amor (toe sy toe verloofde) afgeneem het. Ek het Bles Bridges en sy meisie Marietjie in die Seychelles afgeneem. ’n Paar jaar later sou ek sy begrafnis met die 10 000 rooi rose afneem. Ek was ook in Lorient, Frankryk, vir die begrafnis van Henry Paul wat Prinses Diana se doodsmotor bestuur het. Ek het ook die miljoene blomme en kaartjies vir haar voor Kensington-paleis afgeneem. Het saam gehuil en gelag met Reik na ’n droom-kinders wanneer hulle die eerste keer die see of ’n olifant sien. Ek neem die skrywer Pieter Pieterse in ’n rivier in Venda af waarin hy in die oggende skeer en was. Later braai ons saam voor sy karavaan met hom, skrywer en vriend Dana Snyman en die Engelsman (Pieter se vrou Jenny). Ons maak ’n paar ordentlike knertse en praat grootmensgoed. Pieter pak die Huisgenoot-motor vol hardekool-bosveldhout wat hyself gekap het wanneer ons groet. Leon Schuster se Mr. Bones-fliekplakkaat was my foto, asook Theuns Jordaan se CD-omslag van Tjailatyd, Anton Goosen se plaat City/Stad. So blaai ek deur dertig jaar se brandhoutjies vir die oudag. Te veel om op te noem. Die onluste in Soweto, Hansie Cronje se troue. Dr. Eschel Rhoodie in Nice. Ek en Dana by Gary Player op sy plaas Rietfontein in Colesberg (toe die wêreld se mees berese persoon – hy gooi sy hande in die lug en sê dit is die mooiste plek op aarde!) Krieketspeler Tertius Bosch se lyk wat opgegrawe word by ’n begrafplaas in Durban. Die boer wat moeg gesukkel was en toe sy Massey Ferguson doodgeskiet het. Ek dink Sapa Reuter sou tevrede wees.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|