Madiba in Orania
Op 15 Augustus 1995 het Madiba Orania besoek. Dana was daar.
Beeld
Drienasies-rugbyreeks van 2008
Die bepalings, uitslae en puntestand.
  • Statistieke van Curriebeker-reeks
  • Statistieke van die Super14-reeks
  • Jou wêreld, Jou koerant
    Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
    Vennote


    Universele wysheid vir gesonder lewe
    May 12 2008 10:14:25:897PM  - (SA)  

     Druk artikel
     E-pos storie aan 'n vriend
    Kobus Burger


    ‘Byna niemand kan deesdae vir lank aandag gee nie. Tot ’n mate ly ons almal in die moderne wêreld aan aandagafleibaarheid.”

    Aan die woord is dr. Jon Kabat-Zinn, wat al die afgelope 40 jaar die genesingskrag van indagtigheid (mindfulness) met die wêreld deel.

    Kabat-Zinn, skrywer van boeke soos Full Catastrophe Living en Coming to our Senses, is tans in Suid-Afrika om sy boodskap aan ’n nóg groter gehoor bekend te stel.

    Aanstaande jaar sal dit presies 30 jaar gelede wees dat sy Mindfulness Based Stress Reduction-program (MBSR) bekend gestel is en sedertdien meer as 17 000 pasiënte gehelp het om gesond te word.

    Tans is daar meer as 200 mediese instellings wêreldwyd wat MBSR aanbied en vir hul pasiënte leer.

    Al klink indagtigheid na iets wat in ’n mens se kop plaasvind, is dit allermins daar gesetel. “Die eerste element is die liggaam; om aandag te gee aan jou liggaam. Die liggaam is besonder belangrik: jou gevoelens, jou persepsies, jou sintuie. Jou sintuie anker jou in die nó?.

    “Dit is tog interessant dat in al die Asiatiese tale die woord vir brein (mind) presies dieselfde is as vir hart.

    “ ’n Goeie definisie vir indagtigheid sal wees die bewustheid wat ontstaan wanneer jy doelbewus aandag gee aan hierdie oomblik, sonder om dit te veroordeel. Dit sê nie waaraan jy hoef aandag te gee nie. Jy kan aan enigiets aandag gee. En die liggaam is waar jy begin.

    “Dit titel van my boek Coming to our Senses was letterlik én metafories. Die enigste manier waarop jy jou ervaring kan ken en verstaan, is om dit deur jou sintuie te ervaar, want jy kan eet, maar nie proe nie. Jy kan luister, maar nie hoor nie. Jy kan kyk, maar nie sien nie . . .”

    Een van die vernaamste redes hoekom Kabat-Zinn deur die Institute for Mindfulness South Africa en die Universiteit van Kaapstad se Graduate School of Business hierheen genooi is, is omdat daar reeds verskeie mediese dokters in Suid-Afrika is wat sy beginsels toepas.

    Kabat-Zinn voeg gou by dat ’n mens nie sy werk hoef te adverteer nie, want mense stroom spontaan na sy praatjies en slypskole.

    “Mense se lewens verloop nie so goed nie. Daar is verskeie vlakke van stres wat hulle ervaar; mense word oud en siek, daar is die moontlikheid van dood asook die pyn wat met baie siektes gepaard gaan. Dan is daar natuurlik die werklike beperkings van wat die mediese wêreld vir jou kan doen.”

    Dit is hier waar MBSR – ’n mengsel van indagtigheid, meditasie en joga – vir derduisende as ’t ware ’n nuwe en gesonder lewe bied.

    Volgens Kabat-Zinn bied talle maatskappye regoor die wêreld nou programme vir hul werknemers aan om hulle met stres te help. “Google bied MBSR in hul hoofkantoor aan en dan is daar verskeie Fortune 100- en 500-maatskappye wat dit ook doen. Die rede is die snel pas waarteen die sake-omgewing verander. Om innoverend te wees, moet jy ’n goeie luisteraar kan wees.

    “Maar ek moet byvoeg, om in die nó? te wees is glad nie maklik nie. As jy begin waarneem wat jou gedagtes aanvang, sal jy besef dit is meesal in die verlede of die toekoms.”

    Dikwels, as hulle begin deur aandag te gee of te mediteer, sê mense dat hulle skielik pyn ervaar wat nie voorheen daar was nie. Of dat hul koppe “raas”.

    “Ja, en dan sê hulle: ‘Ek doen iets verkeerd, want dit werk nie.’ Mense het dikwels die verkeerde verwagtings. Daar is soveel verkeerde inligting oor meditasie. Mense dink as hulle stil word, gaan iets spesiaals met hulle gebeur of al hul gedagtes gaan verdwyn.

    “Soveel mense is in hul koppe en gedagtes vasgevang. Hulle glo hul eie gedagtes. Byvoorbeeld: ‘Ek is té oud. Ek is té lelik. Ek kan dit nie doen nie.’ Ensovoorts.

    “Meditasie is om bevriend te raak met jou innerlike en uiterlike ervaring; of jy nou daarvan hou of nie.

    “Ons is nie op skool geleer hoe om bewustheid te gebruik nie. Ons hele lewe is reaktief.

    “As jy kan kalmeer en in jou eie bewustheid ’n rusplek kan vind, het jy skielik ’n honderd nuwe opsies om dinge in jou lewe te verander.”

    Baie van die tegnieke is al eeue oud. Hoekom doen ons dit nie almal natuurlik nie?

    “Soos alles is dit vir lank geheim gehou. Van die tegnieke kom uit die Boeddhisme, maar dit is nie eintlik Boeddhisme nie. Indagtigheid is universele wysheid.”

    Tog is daar mense met godsdiens-tige oortuigings wat reken iets soos joga druis teen hul geestelike beginsels in.

    “Ja, daar is Christelike groeperings wat sê dit is die werk van die duiwel. Of dat enige oefening wat jou stil laat word, gevaarlik is. Maar meditatiewe oefening kom in ál die groot en klein geestelike tradisies voor. Dit is egter ’n klein groepie fundamentaliste wat probleme met dié tegnieke het en dus nie goeie kandidate daarvoor is nie.”

    Enige raad aan die vreesvoos Suid-Afrika?

    “Ek dink nie Amerikaners kan vir Suid-Afrika sê wat om te doen nie. Maar, hoe meer indagtig politici kan wees en minder vasgevang in hul eie ego of magsbeheptheid, hoe beter. Ware leiers soos Mandela, Tutu en Martin Luther King is deeglik bewus van wie hulle is. Hulle kon met hul eie vrese saamleef en dit verwerk.

    “Ek kry tog die indruk dat julle bo-op ’n dinamietkoek leef. Almal hier ly aan post-traumiese stres, nes ons ná 9/11 daaraan gely het.

    “Pleks daarvan om dit weg te druk of ’n muur rondom dit te bou, moet jy oopmaak daarvoor en daarheen draai maar nié probeer voorgee dat dit nie gebeur nie.

    “Ek sê nie indagtigheid is maklik nie. Ja, dit is moeilik, maar dit is moontlik. En soms is indagtigheid so eenvoudig soos om ’n goeie luisteraar te wees.”

    ) kburger@beeld.com


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

    vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |