Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Nóg ’n veertjie vir Maurice se hoed
May 12 2008 10:14:23:817PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Hy was al alles van Brakanjan en die sluwe jakkals in Nils Holgersson tot 'n ambisieuse middelafstand-atleet. Maurice Carpede het sy onlangse ATKV-Veertjie gekry vir net één rol: homself.Daniëlla du Plooy het gesels met dié omroeper, akteur en aanbieder. D

D ie kantore van Jakaranda 94.2 in Midrand is behóórlik gebrandmerk.

Die matte is pers. So ook die pilare, rusbanke, plakkate en kussings.

Maurice Carpede is ’n welkome verandering op dié tema. Want dié aanbieder wat onlangs met ’n ATKV-Veertjie as gunsteling-radiopersoonlikheid bekroon is, is ’n verkleurmannetjie. Radio, TV, rolprent, die verhoog . . . noem maar op, en Carpede het dit gedoen.

Oor sy Veertjie is hy besonder trots – veral omdat dit in die enigste kategorie is waar die publiek ook ’n sê gehad het.

“Ek het nie daarvoor ingeskryf nie en dit was dus ’n groot verrassing,” sê Carpede. “ ’n Mens voel ook jy verdien ’n prys veel meer as ander jou daarvoor benoem.

“As ek met die Veertjie onder my kussing kon slaap, sou ek!”

Van slaap het hy egter die afgelope tyd of wat maar min gesien: Hy het hom vir ’n paar dae lank ná sy laatoggend-tydgleuf (die Workzone) op Jakaranda gehaas na die Staatsteater waar die opnames van Sweepslag plaasgevind het. Carpede is aanbieder van dié musiekprogram wat onlangs op SABC2 begin wys het.

“Dit was een groot fees. Ons Afrikaanse sangers is sonder fieterjasies en baie professioneel.”

Hoewel hy deesdae ook heelwat TV-werk doen, was radio van jongs af Carpede se eerste liefde.

“Ek was in matriek in Bloemfontein toe ek die eerste keer ’n kasset hoor van hoe musiek gemeng is. Ek onthou dit so goed: die ou was DJ Shakes en dit is in Disco2000, ’n klub in Port Elizabeth, opgeneem.”

Later, as regstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, het hy by kampusradio betrokke geraak.

“Ek het die studie nooit voltooi nie, maar die omroepwerk het van krag tot krag gegaan.”

Hy is gewerf deur ’n gemeenskapsradiostasie, waar die destydse Radio Oranje (nou Ofm) hom “raakgehoor” het. Jakaranda het hom op hul beurt gevra om by dié stasie te kom werk en vir die eerste keer het die Vrystater hom in Gauteng kom vestig.

Hy was in Bloemfontein ook betrokke by Sukovs (die destydse Vrystaatse Raad vir Uitvoerende Kunste) en het kinderteater gedoen, waar hy onder meer die rol van Brakanjan vertolk het.

“Kinderteater is wonderlik,” sê Carpede. “Nêrens anders het ’n mens soveel interaksie met jou gehoor nie.”

In Gauteng het die TV-werk gevolg. Hoewel baie hom vandag herken vir sy werk as Kwêla-veldaanbieder, was sy eerste rol op die kassie as die 800 m-atleet Lukas Phiri in Voete van goud, teenoor Anrich Herbst.

“Hulle was op soek na ’n akteur wat ewe goed Afrikaans, Suid-Sotho én Engels kon praat en redelik atleties gebou was. Ek was omtrent al een wat aan dié beskrywing voldoen het!”

Dis nie aldag dat iemand so goed Afrikaans en Suid-Sotho praat nie en hy word gereeld daaroor uitgevra.

“My moedertaal is Afrikaans,” sê Carpede. “Hoewel my ouma Sotho was, het sy my gedwing om Afrikaans te praat omdat sy geweet het dit sou destyds vir my beter onderrig verseker.”

Die storie van sy Kreools-Franse van is aan hom oorvertel deur sy oupa.

“Hoe histories korrek dit is, weet ek nie. Maar blykbaar het twee Carpede-broers van Mauritius af gekom om hier te help bou aan die spoorlyn van Kaapstad na Durban. Hulle het in die land aangebly: een in Durban, en die ander het Vrystaat toe getrek.”

Hy bly lekker hier en is mal oor sy werk, sê Carpede. Maar is hy volkome gelukkig? Hy bly ’n oomblik stil.

“Ek werk daaraan, ek jaag dit na. Sowat twee jaar gelede is ek geskei en dit vat aan ’n mens. Maar dis mos nie net ek nie, almal het dinge om deur te werk.”

Hy leef nou vir die oomblik.

En wanneer hy die dag wél sleg voel, is die radio-ateljee al wat hy nodig het.

“Wanneer ek daar binne sit, is ek in ’n wêreld van my eie. Alles buite vervaag, dis net ek en my luisteraars.”

En húlle stem duidelik saam.

Want vanaand slaap Maurice Carpede dalk net met ’n Veertjie onder sy kussing.

Wat is jou slegste gewoonte?

"Niks, ek's 'n baie nice mens!" Hy lag. "As dit maar net waar was . . . Ek het nogal padwoede. Ek probeer om rustiger te raak in my voertuig."

Duurste aankoop?

Sedert ek so 'n jaar of wat gelede fotografie ernstig as stokperdjie begin doen het, het ek al baie op toerusting uitgegee. Die lense en goed is vrek duur! Ek is egter nog 'n amateur en voel baie simpel as ek die foute sien wat ek maak. Maar ek leer myself so tussen die skote deur.

Wie is jou rolmodel?

Niemand spesifiek nie. Ek wil nie soos iemand anders wees nie, dan verloor ek mos myself. Ek wil net Maurice wees. Ek het baie mentors gehad ? mense wat my gelei het en na wie ek op verskillende maniere opkyk.

Sal jy ooit oorsee wil gaan bly? Enige Hollywood-drome?

Nee wat. My wortels lê hier. Dit sal regtig vrek sleg moet gaan voor ek padgee. Dalk vir 'n ruk oorsee werk, maar my burgerskap opgee? Nooit! Hier doen ek elk geval wat al die big shots in Hollywood doen. Ja, dalk word ek minder betaal en ja, dalk doen ek dit met veel goedkoper toerusting. Maar ek en Charlize doen in wese dieselfde ding: ons act. Net op verskillende plekke.

Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |