Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Wit, werklose Pottie bied meer as wat verwag is
Die jongste aflewering oor die lewe van die treurige Pottie Potgieter het Gauteng met grootskaalse verwagtings bereik. Tydens dié solostuk se debuut-speelvak in Oudtshoorn is dit reeds beskryf as protesteater “soos wat jy in die goeie ou dae in die Mark gekry het”. Uiteindelik, het ’n mens gehoop, is daar teater wat eietydse kwessies onbeskaamd en met gebalde vuiste in Afrikaans takel. Wyk 14 volg op Die uwe, Pottie Potgieter – die eerste verhoogteks uit die pen van die rubriekskrywer Dana Snyman. Gehore het Pottie, vertolk deur Frank Opperman, leer ken as ’n soort Boetman-karakter wat wit, werkloos en Afrikaans is en tog vol deursettingsvermoë. Wie sal nou opdaag vir 142 werkonderhoude en nie al veel vroeër sy eie onderneming begin bedryf het nie? Pottie is steeds werkloos in Wyk 14, maar die gehoor besef dat hulle saam met sy bure, familie en ander dorpsbewoners vir sy verkiesingstoespraak opgedaag het. Pottie in die politiek? Wel, hy het besluit om die munisipale wyksverkiesing as ’n onafhanklike kandidaat aan te durf. ’n Bra senuagtige Pottie betree die verhoog, maar oorgehaal om iedereen van sy edele bedoelings en planne vir sy buurt te oortuig. Wyk 14 is ’n lang toespraak wat sommer wegval met ’n spul snaakse bedankings. In dié opsig – Opperman agter ’n kateder – herinner Wyk 14 aan die solostuk Meneer de Beer. Om die verveling in dié lang monoloog hok te slaan, word Pottie se heel nostalgiese herinneringe gedramatiseer. Daar is byvoorbeeld sy pa en oom Apie by die kombuistafel met die bekendmaking van die verkiesingsuitslae en ’n gesprek oor die Natte en die Sappe. Of sy vrou, wat deesdae in Saoedi-Arabië as ’n verpleegster werk, wat betraand praat oor die situasie in Suid-Afrika op die vooraand van haar vertrek. Wat dié 80 minute lange toespraak met anekdotes verteerbaar maak, is Opperman se spel én die sekure regie deur Nicky Rebelo. Dit is reeds vroeg in die vertoning duidelik dat Opperman se spelgrense verskuif is en dat hy hier aangrypende karakterwerk lewer. Dit blyk dat Rebelo vir Pottie ’n heel nuwe dimensie gegee het. Daar is ewe skielik verskeie nuanses en kleurvolle mense wat driedimensioneel lewe kry danksy Opperman se vertolkings. Snyman se teks loop ’n lang ompad om by ’n interessante ontknoping uit te kom waar Pottie bely dat hy ’n “Afrikaan” is. Pottie besluit om hier te bly, betrokke te raak en soos sy voorvaders – Hendrik en Sarel Potgieter – as ’t ware geskiedenis te maak. ’n Mens voel wel Snyman kon nog verder aan sy teks geskaaf het. So byvoorbeeld sal Pottie by herhaling sê “400 000 plus 60 000 plus 3 000”, maar hy is ’n voormalige boekhouer. Beteken dit dat hy nie ’n basiese optelsom kan doen nie? In een van die dramatiserings verjaag hy die Chinese winkeliers, maar later spreek hy hulle weer aan asof hulle nooit die saal verlaat het soos hy vroeër te kenne gegee het nie. Sulke teenstrydighede of ondeurdagtheid kan uitgeskakel word om die werk meer oemf te gee. Of Wyk 14 protesteater is, is ’n debat op sy eie. Dat dit die Boetman-is-die-bliksem-in-debat ’n nuwe wending gee en die ry-of-bly-kopkrapper op sy kop draai, is ’n welkome wending. In dié opsig kry ’n mens dus veel meer as wat verwag is. ) Op Vrydag en Saterdag 22 en 23 Mei is Wyk 14 in die Ettienne Rousseau-teater in Sasolburg. Dit begin om 19:30. Bespreek kaartjies by 0 082 354 4422.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|