Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Moordende selfliefde
Toe die 14-jarige Marius Prinsloo van Brits verlede maand dood deur sy broer aangetref is waar hy met ’n serp aan ’n kasdeurknop gehang het, het hulle eers gedink dis selfmoord. Dit was eers nadat die broer van sy ma, mev. Hannie Prinsloo, met van sy kollegas oor die voorval gesels het, dat onraad vermoed is. Marius is dood as gevolg van ’n speletjie wat jaarliks bykans 1 000 lewens in die VSA eis en verantwoordelik is vir een uit elke drie gevalle waar adolessent-selfmoord vermoed word: die wurgspeletjie. Die speletjie, wetenskaplik bekend as outo-erotiese versmoring (AEA), is volgens dr. Pixie du Toit, forensiese kriminoloog en kenner van tienerselfmoorde, ’n parafilie (’n buitengewone liefde). “Dit verwys na ’n verskerpte seksuele stimulasie deur middel van selfversmoring tot ’n toestand van amperse bewusteloosheid. “Dit is ’n subkategorie in sado-masochisme en word gelys in die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders. Die sindroom word ook beskryf as ‘erotised repetitive hanging’.” Dié hoogs gevaarlike speletjie kom volgens Du Toit kenmerkend voor by jong seuns, soos Marius, in hul vroeë adolessente jare as gevolg van hormonale veranderinge. “Adolessente seuns gaan deur ’n outo-erotiese fase waartydens hulle oor seks fantaseer en derhalwe ook eksperimenteer met atipiese seksuele gedrag. Dit kom veral voor in die ouderdomsgroep tussen 12 en 25 jaar, maar gevalle so jonk as nege jaar het al voorgekom.” Sy vertel geskok dat sy ’n onlangse geval gehad het waar kleuterseuns mekaar gewurg het. “Ná verdere ondersoek het dit geblyk dat hulle hierdie gedrag by ’n ouer broer waargeneem en nageboots het.” Die speletjie is ook nie ’n nuwe een nie. Dr. Chris Schüler, ’n psigiater by die Denmar- spesialis-psigiatriese hospitaal in Pretoria, sê hy is bewus van gevalle waar die speletjie al ongeveer 30 jaar gelede gespeel is. In 2006 is die 15-jarige Jean-Pierre Aitchison ook dood in sy kamer aangetref waar hy aan ’n meter lange kabel aan ’n basketbal?hoepel in sy kamer gehang het. Volgens Schüler is daar nog geen formele studies waarvan hy bewus is om die oorsaak van die gedrag te bepaal nie, hoewel hy glo groepsdruk, nuuskierigheid oor versteurde bewussyn, ’n soeke na ’n euforiese gevoel en ’n verhoogde erotiese gevoel tydens masturbasie kan moontlike redes wees. “Kinders speel dikwels die spel op hul eie in hul kamers of in die badkamer, maar dit word ook op die speelterrein by skole beoefen,” sê hy. Die hoof van die Hoërskool Brits het glo aan Marius se ouers bevestig dat die speletjie by die skool in die omloop was, maar sy skool is beslis nie die enigste nie, meen Du Toit. “Die speletjie het reeds baie jare gelede op ons skoolterrein begin, waar kinders mekaar gewurg het totdat die kind flou word. “Wanneer die drukking op die nekare verslap word en die bloed na die brein stroom, veroorsaak dit ’n rush as die kind weer bykom. Dit het destyds as die ‘breath-controlling game’ bekend gestaan,” verduidelik sy. Sy sê sommige adolessente het dit egter ’n stappie verder geneem deur hulself in isolasie met ’n band te wurg terwyl hulle masturbeer en ook in die spieël kyk wat hulle doen of dit op hul selfone vaslê. “Outo-erotiese versmoring word meermale in rolprente uitgebeeld en dit het selfs al voorgekom in gewilde reekse soos CSI.” Volgens haar lyk dit asof die gewildheid van die spel toeneem en of al hoe jonger kinders daarby betrokke is. “Een van die moontlike redes is die wye publisiteit wat in die media daaraan gegee word. Die kinders is dan nuuskierig en wil dit probeer. Hulle doen dit meermale uit verveeldheid of omdat hulle avontuurlustig is.” Voorkoming van die spel is volgens Du Toit baie moeilik omdat ouers dikwels eers bewus is hul kinders is besig met die spel wanneer dit te laat is. “Tog is dit belangrik om nie naïef te wees nie en te besef dat daar tans in Suid-Afrika met die gedrag geëksperimenteer word. Indien jou kind dus ’n tiener of in sy vroeë adolessensie is, maak seker jy weet waarmee hy besig is. Sorg dat jy as ouer goed ingelig is oor die gedrag en dat jou kind oor die gevare ingelig word.” Sy sê ’n oop verhouding tussen ouers en kinders, waar die vrymoedigheid bestaan om openlik oor seksualiteit te gesels, is in vandag se moderne wêreld van kardinale belang. “Daar kan nie meer vandag ’n taboe wees met betrekking tot gesprekke met jou kinders oor seksualiteit nie.” Sy stel voor dat indien ’n ouer wel uitvind sy of haar kind eksperimenteer met die wurgspeletjie, dit beter sal wees as professionele hulp ingeroep word. “Gewoonlik wil die kinders nie na hul ouers luister nie, maar is meer geneig om na ’n ander volwassene te luister. Wat ouers moet besef, is dat hierdie gedrag, indien daarmee volgehou word, op die ou end tot jou kind se dood sal lei.” Die gevolge Volgens dr. Du Toit is daar verskeie ernstige gevolge behalwe dood: Kyk vir dié waarskuwingstekens Dr. Schüler sê jy moet jou oë oophou vir hierdie tekens by jou tiener: Dr. Du Toit verduidelik: "Wanneer die suurstoftoevoer na die brein ingeperk is as gevolg van versmoring, kan die beoefenaar begin hallusineer, net soos met die gebruik van sekere dwelmmiddels. Vir sommige mense is dit eufories. Wanneer die drukking op die nek verslap en bloed weer na die brein vloei, word endorfiene (die goed-voelhormone) vrygelaat wat die seksuele sensasie versterk."
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|