' 'n Kankerpasiënt moet déélneem'
Dr. Ivan Cohen het nie gedink hy gaan lewend wees wanneer sy boek verskyn nie.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Bevry jou kind van TV-heroïen
Apr 20 2008 06:26:56:347PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Tienie Holtzhausen

'n Kind wat verknog is aan televisie, sy eie een in sy kamer het en boonop heeldag televisiespeletjies speel, het 'n groter kans om eendag nie net sosiaal wanaangepas te wees nie, maar ook 'n intellektuele agterstand te hê, skryf Tienie Holtzhausen.

Al hoe meer opvoedkundiges glo televisie is ’n verwoester van kinderlewens wat keer dat kinders hul eie pret-aktiwiteite skep. Hulle reken as die gemiddelde laerskoolkind gespeen kan word van televisie, sal sy verbeelding inskop en sal hy gou verras met kreatiewe denke en uitsonderlike prestasies.

Marie Winn se 1977-blitsverkoper, Television – the plug-in drug, het nie ’n revolusie in kinderopvoeding veroorsaak nie. Inteendeel, die skrywer glo miljoene kinders het sedertdien hul volwasse lewe met ’n sielkundige en verstandelike leemte betree, omdat hulle grootwordjare deur ’n televisieskerm oorheers is.

Winn se boek is opgevolg met nog ’n paar ander met ’n soortgelyke tema. In 2003 het The plug-in drug: television, computers & family life verskyn, ook uit Winn se pen. Daarin skryf sy dis hoog tyd dat ouers begin besef televisie beroof kinders van ’n wonderlike jongmenslewe.

Sy noem televisie dikwels die samelewing se elektroniese heroïen. Sy sê nes regte heroïen sy slagoffer die realiteit van die wêreld laat vryspring, gaan televisieverslaafde kinders ook op ’n soort bedwelmingsreis wat hulle van die realiteit laat ontsnap.

Dag ná dag.

TV ‘breinspoel’ kinders

“Dit raak ’n baie gerieflike manier om jou eie angstighede en die druk wat op jou geplaas word, nie te konfronteer en te verwerk nie,” sê sy.

“Sodoende verleer kinders ook gou hoe om vriendskapsbande te bou en te behou, konflik te hanteer en hulself in alledaagse geselskap te handhaaf en dit te geniet.”

Winn glo ook televisie ontneem ’n kind van die vermoë om innoverend te dink. Want, skryf sy, die subtiele breinspoeling wat selfs in kinderprogramme plaasvind, laat min plek vir individuele denke. “En dit konfronteer die jeugdige gedurig met ’n abnormale werklikheid, wat sy persepsie van sy hedendaagse realiteit verwring.”

Winn se sienings word wyd ondersteun. In 2000 het Cheryl Pawlowski in haar boek Glued to the tube: The threat of television addiction geskryf televisiebehepte kinders se waardestelsels en persepsies word tot so ’n mate beïnvloed en ondermyn dat hulle asosiaal raak en ondergemiddelde lewens lei. Hulle is ook selde nuuskierige mense, glo sy.

Kinders, TV en geweld

Iets wat baie moeilik is om wetenskaplik te bewys, maar wat navorsers vermoed, is dat kinders wat baie televisie kyk en dus noodwendig meer geweld op die skerm sien, meer gewelddadige volwassenes word.

Prof. Candace Kruttschnitt van die Universiteit van Minnesota, het die televisiekykpatrone van ’n klomp Amerikaanse gevangenes wat vir moord, roof en verkragting gevonnis is, nagegaan. Sy het bevind hulle is tydens hul jeugjare meer aan televisiegeweld blootgestel as hul nie-gewelddadige eweknieë buite die tronk.

In 1992 het sy in ’n akademiese joernaal geskryf “televisie is ’n tydbom wat ons eers sal verstaan as dit ontplof”. Programvervaardigers, beweer sy, verskuif hul grense gedurig om kinders net nog méér aan geweld bloot te stel. Sodoende word die samelewing geleidelik net al hoe gewelddadiger.

Kruttschnitt beweer die kassie is boonop ’n stille, maar magtige aanhitser van ’n ongesonde, materialistiese lewensuitkyk. Om nie te praat van die vermorsing van tyd wat andersins skeppend aangewend kon geword het nie.

Behalwe dat televisie ’n kind se kognitiewe ontwikkeling dikwels belemmer en die hoofoorsaak is van baie leerprobleme, benadeel dit ook kinders se gesondheid. Baie kinders ontwikkel skeletale probleme weens ’n gebrek aan fisieke aktiwiteite in ’n stadium wat hul groeiende bene dit besonder nodig het. Boonop sit geen kind regop en televisie kyk of speletjies speel nie.

TV en kitskos

Navorsers het al oor en oor bewys hoe meer ure kinders televisie kyk, hoe ongesonder is hul eetpatrone en hoe meer sukkel hulle met vetsug en diabetes.

Mnr. Mike Rogers, voorsitter van ’n massamedia-produksiemaatskappy die VSA en pa van vier, het sy jongste spruit totaal televisievry grootgemaak. Hy glo dit het ’n groot rol gespeel om die kind se besondere hoë intelligensie en lewenslustige geaardheid te help vorm. Hy voel baie ernstig daaroor dat televisie kinders leer om nie van boeke te hou nie.

“En deur die eeue is dit bewys dat leiers en denkers altyd groot lesers is. Hoe kan ons ons kinders voor televisies neerplak en hulle die genot van boeke ontsê? Of dink dat ons hulle ’n guns doen?”

Talle ouers vind dit ongelukkig baie nuttig om ’n televisie as ’n soort “kinderoppasser” te kan hê, sê Winn.

“Ouers moet begin besef geen televisieprogram, al is dit opvoedkundig, gaan hul kind ’n genoegsame agtergrond gee om die regte wêreld suksesvol aan te pak nie.”

¾

17 dinge wat TV aan kinders doen

Marie Winn glo televisie doen die volgende aan kinders:

  • Verswak hul vermoë om groepsdruk te weerstaan.

  • Verhoed hulle om aan georganiseerde sport deel te neem.

  • Verminder hul vermoë om inisiatief te toon en spontaan te wees.

  • Verminder hul vermoë om objektief te dink.

  • Verhinder kontak met die werklikheid en dus ook suksesvolle verhoudings.

  • Meng in met die kulturele waardes wat ouers hul kinders probeer leer.

  • Breinspoel kinders deur advertensies oor kwessies soos kos en modes.

  • Leer hulle dat geweld die oplossing vir probleme is.

  • Laat kinders maklik swak maniere aanleer.

  • Laat kinders dink om te vloek is normaal en oulik.

  • Verminder hul lees- en spelvermoë.

  • Maak hulle minder familievas.

  • Verminder hul redenasievermoë.

  • Maak hulle antisosiaal.

  • Verhinder dat kinders leierseienskappe ontwikkel.

  • Bring mee dat feesdae en familietradisies vir hulle onbelangrik is.

  • Maak hulle aan kitskos verslaaf.

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |