Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
'Dis nie wat my spieël sê nie'
‘As jy iemand wat liggaamdismorfiese sindroom het, wil verstaan, gaan staan voor ’n spieël. Vat dan al jou eienskappe waarmee jy nie gelukkig is nie, of wat jy graag sal wil verander. “Verbeel jouself dat dit só misvorm of vergroot is,’n dat die blote gedagte om voor ander mense te verskyn, jou met angs en vrees vul,” sê dr. Alfred le Clus, ’n psigiater van Kempton Park wat spesialiseer in angsafwykings. Liggaamdismorfiese sindroom (LDS) staan ook bekend as die “verbeelde lelikheidsindroom”, ’n toestand waarvan die lyers dikwels glo hulle het ’n fisieke afwyking in hul voorkoms. Dit veroorsaak angs, stres en vrees op so ’n vlak dat dit vir lyers moeilik is om normaal sosiaal te funksioneer. Altyd die lelike eendjie Sommige lyers aan die sindroom sal kla oor ’n spesifieke karaktertrek wat pla, soos ’n “vet lip” of ’n “knobbelrige neus”, maar hulle kan ook minder spesifiek wees oor die “probleem” deur te verwys na hul “asimmetriese gesig”. Lyers is dikwels so skaam oor hul “fisieke afwyking” dat hulle dit sal vermy om dit in detail te bespreek en eerder net daarna sal wys as hul “algemene lelike voorkoms”. Le Clus sê dit is nogal moeilik om die sindroom te diagnoseer omdat die simptome daarvan ooreenstem met toestande soos anorexia nervosa en obsessiewe kompulsiewe gedragsversteuring. Iemand wat aan LDS ly, sal byvoorbeeld heeltyd in die spieël kyk, aan hul hare of vel peuter of gedurig grimering aansit. “Daar is selfs sommige psigiaters wat glo dat LDS ’n simptoom is van kompulsiewe obsessiewe gedrag,” sê hy. Die toestand begin gewoonlik gedurende die tienerjare ontwikkel, maar kan jare ongediagnoseerd bly, veral as die lyer nie gretig is om daaroor te praat nie. ’n Slegte foto, swak beligting of ’n onvleiende refleksie vanuit ’n venster kan tot groot stres en angs lei . LDS-lyers sal ook maklik ure lank voor ’n spieël kan staan om hul “afwyking” te inspekteer. Sulke gedrag kan deur ’n buitestander gesien word as verwaandheid, terwyl dit eintlik presies die teenoorgestelde is. 5 miljoen wêreldwyd Daar word nie verniet na LDS verwys as “Looks that kill” nie. In navorsing wat in 2006 gedoen is, is daar bevind LDS-lyers is 45 keer meer geneig is om selfmoord te pleeg as die algemene bevolking. Dr. Katharine A. Philips, die studieleier en outeur van The broken mirror: understanding and treating body dysmorphic disorder, vertel in dié boek dat sommige LDS-lyers so erg geraak word deur die toestand dat hulle hulle heeltemal uit die samelewing onttrek. Luidens Philips se navorsing ly sowat 5 miljoen mense wêreldwyd aan LDS. Lyers wend hulle dikwels tot plastiese chirurgie in die hoop om hul “afwyking” te verbeter, maar is selde, indien ooit, tevrede met die eindresultaat. Hulle sal aanhou met operasies, selfs al sit hulle later met ’n neus wat glad nie meer eie is aan dit waarmee hulle geskape is nie. Le Clus sê ’n klassieke voorbeeld van so ’n mens is die popsanger Michael Jackson. Prof. Laurence Anthony Chait, ’n plastiese chirurg verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê dit is taamlik maklik om iemand met LDS te identifiseer wat vir ’n konsultasie by ’n plastiese chirurg aanklop. “Daar is egter ’n paar wat ons fop en dit regkry om deur te sluip! Hul versoeke is gewoonlik onredelik en as jy vir hulle die risiko’s van die operasie verduidelik, lyk dit asof dit by die een oor ingaan en by die ander oor uitgaan,” sê hy. “Dikwels skiet hulle ook plastiese chirurge af wat nie ’n prosedure op hulle wil uitvoer nie.” Volgens Chait is dit veral jong mans wat aan hul neus wil laat sny wat geneig is om aan LDS te ly. Chait sê dit is ’n chirurg se etiese plig om iemand wat aan LDS ly, na ’n psigiater of sielkundige te verwys. Plastiese chirurge verkies ook self om nie operasies op sulke mense uit te voer nie omdat hulle nooit tevrede is met die eindproduk nie. Daar is hulp Le Clus sê hoewel LDS nie ’n mak-like toestand is om te behandel nie, ontvang die lyers min of meerdieselfde soort behandeling as iemand wat aan obsessiewe kompulsiewe gedragsversteuring ly. Behandeling sluit in voorskrif-medisyne vir depressie, soos serotonien-heropname-inhibeerders en kognitiewe gedragsterapie. – Aanvullende bronne: Reuters; American psychiatric association’s diagnostic and statistical manual of mental disorders.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|