Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Met wie flankeer jou kind op MXit?
Was dit nie vir MXit nie, was die 15-jarige Chantellyn Janse van Rensburg heel moontlik nie nou in ’n plek van veiligheid in Gauteng nie, maar by haar pa in Orania in die Noord-Kaap. Op 6 April vanjaar het sy weggeloop na twee Oosterlinge wat sy op MXit – ’n kitsboodskapdiens vir selfone en rekenaars – ontmoet het. Toe sy haar pa, mnr. Koos Janse van Rensburg, op 18 April bel en vra om haar te kom haal, het die polisie ingegryp. Hulle ondersoek nou moontlike misdaadklagte teen die Oosterlinge terwyl Chantellyn op ’n onbekende plek in Gauteng woon. Tegnologie soos die internet en selfone gee kinders toegang tot ’n wyer netwerk van vriende en idees en kan daarom die geleentheid vir wegloop vergroot, sê me. Tessa Dooms, ’n sosioloog by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. “Internet- en selfoonkommunikasie skep ’n nuwe gemeenskap en gevoel van behoort. Dié virtuele werklikheid gee ’n valse gevoel van veiligheid omdat jy die ander persoon nie so goed kan leer ken as jou vriend/vriendin wat jy gereeld sien en met wie jy ook ander belangstellings deel nie. “Dis byvoorbeeld baie makliker om virtueel te flankeer as van aangesig tot aangesig en daarom word virtuele verhoudings dikwels deur seksuele ondertone gekenmerk. Maar eintlik is dit ’n gevaarlike, oppervlakkige verhouding.” Mense met bose motiewe wat kinders wil lok of ontvoer, kan dit ook makliker in dié gesigs?lose virtuele wêreld doen. Dooms sê waar ouers vóór die bestaan van allerlei tegnolo?giese kommunikasiemiddele hul kinders se vriende meestal geken, geweet het waar hulle woon en wie hulle is, weet ouers deesdae dikwels nie meer wie hul kinders se internet- en selfoonvriende is of waar hulle woon nie. Dít bemoeilik die soektog na ’n wegloopkind aansienlik, want volgens dir. Govindsamy Mariemuthoo, die Gautengse polisie se kommunikasiehoof, is die eerste stap nadat jy jou kind as vermis by die polisie aangemeld het, om te begin soek by vriende en plekke waar die kind gewoonlik tyd deurbring soos die skool en kuierplekke. “Ken jou kind se vriende, maar as hy wegraak, gaan soek ook op sy rekenaar na onbekende vriende.” Mariemuthoo sê daar is geen wagperiode om jou kind as vermis aan te meld nie – gaan dadelik na jou naaste polisiekantoor met ’n onlangse foto van jou kind, want hou gouer die polisie begin soek, hoe beter die kans dat hulle jou kind vinnig gaan kry. “Let altyd op watter klere jou kind aan het sodat jy dit kan beskryf. Kyk ook in jou kind se dagboek vir leidrade.” Ernstige én minder ernstige huislike probleme kan ’n kind motiveer om weg te loop, sê prof. Esmé van Rensburg, kindersielkundige en dosent by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus. “Konflik met hul ouers kan kinders laat loop, al is dit nie baie erg nie. Tieners van so 12, 13 jaar is baie vatbaar om weg te loop, omdat tieners tipies impulsief en egosentries is en nie altyd in staat is om die gevolge van hul gedrag te voorspel nie. Hulle is ingestel op onmiddellike behoeftebevrediging. “As die tiener byvoorbeeld oor ’n lang tydperk voel hy word onregverdig behandel, kan die volgende keer dat hy verbied word om na ’n partytjie te gaan, ’n sneller vir wegloop wees.” Waar dié soort wegloop gewoonlik van korte duur is en dikwels ’n poging om die ouer te straf, sê Van Rensburg langdurige gesinskonflik of -patologie kan veroorsaak dat ’n kind wegloop om te “ontsnap” van langdurige emosionele pyn. Huweliksprobleme, alkoholmisbruik, egskeiding, ’n problematiese nuwe huwelik, kindermishandeling en -molestering kan almal snellers vir dié soort wegloop wees. Soms kan ’n kind ook wegloop weens druk van hul portuurgroep – seuns loop dikwels met ’n maat weg en meisies met ’n kêrel. Van Rensburg meen jy kán voorkom dat jou kind wegloop deur voortdurend ingestel te wees op sy/haar leefwêreld. As daar probleme in die gesin of verhouding tussen ouers en kinders is, moet dit vroegtydig raakgesien en bestuur word. “Ouers moet te alle tye weet waar hul kind is, wat hy daar gaan doen, saam met wie en hoe laat hy gaan terug wees.” Wanneer die kind terug is, is die versoeking natuurlik groot om te raas, maar Van Rensburg maan dis die verkeerde reaksie. “Sê jy is nie kwaad nie en bly jou kind is veilig, maar dat jy besef daar is iets wat hom/haar geweldig pla – in so ’n mate dat hy/sy nie met jou daaroor kon praat nie en dat jy die probleem graag wil oplos. “Kry dan hulp by ’n sielkundige wat jou, jou kind en jul gesin kan help om die probleem op te los. Moet dit nie afmaak as net ’n nuk nie – dis ’n duidelike simptoom dat iets pla. Soek dít wat pla en los dit op.” Organisasies soos Missing Children help die polisie ook om vermiste kinders te soek. Mnr. Pieter Boshoff van dié organisasie sê 94% van kinders wat as vermis by hulle aangemeld word, word vinnig gevind. Tans is daar sowat 920 vermiste kinders in Suid-Afrika. “Party mense dink dis nie ernstig as ’n kind wegloop nie, maar kinders word op straat blootgestel aan gevaarlike elemente en weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie,” waarsku Boshoff. Hoe bepaal die polisie of ’n kind weggeloop het of ontvoer is? Mariemuthoo sê die polisie kyk fyn na die omstandighede waaronder ’n kind weggeraak het en kan dan gewoonlik aflei of dit ’n wegloop- of ontvoersituasie is. Missing Children werk ook nou saam met ander organisasies soos eBblockwatch, Bambanani en buurtwagte. Boshoff sê ouers moet uitkyk vir gevaartekens voordat ’n kind wegloop – byvoorbeeld as hulle teruggetrokke raak en goed begin wegsteek. Nog tekens, sê Van Rensburg, is depressie, gedragsprobleme, aggressie, swak skoolprestasie, stokkiesdraai en apatie. Enigiemand wat dink hulle sien ’n vermiste kind êrens, kan 0 08600 10111 skakel. Besoek www.missingchildren.co.za en www.eblockwatch.co.za vir meer inligting oor wat jou te doen staan as jou kind wegraak of -loop.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|