' 'n Kankerpasiënt moet déélneem'
Dr. Ivan Cohen het nie gedink hy gaan lewend wees wanneer sy boek verskyn nie.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Veg vir jou vygies se reg
Apr 30 2008 07:36:38:910PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Dié blombedding in Montreal is die resultaat van guerrilla-tuiniers: groen aktiviste wat onbewerkte grond beplant met die doel om die omgewing te verfraai.Foto: On Guerrilla Gardening, Richard Reynolds

Londen. – Hulle werk in die middernagtelike ure, gewapen met “saadbomme”, chemiese “wapens” en spitvurke.

Hulle taktiek is anargisties, hul houding revolusionêr. Hulle doel: om mooi te maak.

’n Weermag guerrilla-tuiniers is wêreldwyd aan die groei. Hulle veg om vaal stedelike gebiede te transformeer na lowergroen hawens. Om hul oorwinnings op die slagveld te vier en te dokumenteer, het een van die beweging se top-generaals pas ’n handboek gepubliseer.

On guerrilla gardening deur Richard Reynolds definieer dié aktiwiteit as “die onwettige verbouing van iemand anders se grond”.

“Ons grootste vyande is verwaarlosing en ’n skaarsheid aan grond,” sê Reynolds (30), ’n voormalige werknemer in die advertensiebedryf.

Hy het die boek geskryf ná guerrillagardening.org, sy webwerf, ’n bymekaarkomplek geword het vir aspirant-groen vinger-aktiviste.

“Grond is ’n beperkte hulpbron, en tog is daar gebiede wat glad nie gebruik word nie. Dit lyk vir my gek,” sê Reynolds.

“En as die owerhede in dié logika se pad wil staan, sal ons hulle beveg – vreedsaam – deur vir hulle te wys wat bereik kan word met plante.”

Terwyl Reynolds die onderhoud toestaan, is hy en verskeie ander troepe wat in Londen gebaseer is geesdriftig besig om ’n verwaarloosde stuk grond om te spit buite ’n kantoorblok in die suidooste van die Britse hoofstad.

Hulle trotseer die donker en loop die risiko om in hegtenis geneem te word vir saakbeskadiging, maar hulle hou vol met hul “aanval”. Die taktiek: werk ’n groot hoop kunsmis in die grond in en plant laventel en madeliefies om ’n spatsel kleur en geur in die grys stad te skep.

Plantwapens

Duisende “troepe” wêreldwyd het reeds aangeteken by Reynolds se webwerf.

Elkeen het sy eie magsnommer, en op die webwerf publiseer hulle verslae en foto’s van hul veldslagte.

Vir diegene wat in die groen troepe se spore wil volg, het Reynolds spesiaal in sy boek riglyne neergepen: dit sluit in wat die mees geskikte klere is om tydens ’n veldslag te dra, watter soort beligting die beste werk en watter soos kommunikasietoerusting gebruik moet word om ’n “saadbomaanval” uit te voer.

“Die strooi van sade is die maklikste manier om ’n guerrilla-tuinier te wees,” skryf hy.

“Jy het nie eens nodig om stil te staan om dit te doen nie. GT (guerrilla-tuinier) 830 Tony het hande vol papawersaad gestrooi terwyl hy langs die M60-snelweg gery het.”

Reynolds sê hy is geïnspireer om die boek te skryf ná sy eerste middernagtelike tuinmaakervaring buite die woonstelblok in Londen waar hy bly. Hy het toe besef hy is deel van ’n grootliks geheime dog wêreldwye beweging.

“Ek het begin daarmee omdat ek na ’n woonstelblok verhuis het en nie meer ’n tuin gehad het nie. Tog was daar oral rondom my stukkies grond wat niemand bewerk het nie, so ek het my eie tuin daarmee geskep. Maar dis ’n tuin waarin almal kan deel en waarby almal betrokke kan raak.

“Ek het begin om grond te verbou waar ek ook al wou. Die missie was om die miserabele openbare blombeddings in my eie woonbuurt te beveg.”

Die boek dokumenteer die “revolusionêre geskiedenis” van ’n beweging wat in die sewentigs in New York ontstaan het. Die beweging het stadsjapies regoor die wêreld geïnspireer om owerhede teen te gaan en verwaarloosde openbare ruimtes te verfraai.

GT 3516 Greg, in Zürich in Switserland, vertel hoe hy op ’n Saterdagnag ’n verkeersirkel bygekom het, terwyl GT 158 Luc, in Montreal, Kanada, skryf oor ’n “sypaadjietuin” wat hy reeds vier jaar versorg.

GT 013 Julia, een van die beweging se staatmakers, het foto’s en verslae na die webwerf gestuur met beduidende oorwinnings in Berlyn, waar die Rosa Rose-tuin in die ooste van die stad geblom het op ’n stuk grond wat eens toe was onder gemors en vuilgoed.

GT 1168 David, en GT Michael 1169, grafiese ontwerpers van Tokio, sê hul motivering om deel te word van die beweging was hul passie om hul eie kos te groei.

Luidens Reynolds se boek het die twee in 2005 begin deur “pampoensaad op ’n leë stuk grond naby David se huis” in die stad te gooi. Hulle was só opgewonde oor die pampoene se vordering dat hulle ’n klein “guerrilla-plaas” op ’n verlate stuk grond in die stad begin het.

“Dit gaan daaroor om in ’n eetbare oerwoud te bly,” vertel David in die boek. Hy plant ook broccoli en radyse op ’n stuk grond wat aan Tokio se stadsvaders behoort. “Groente is die beste as hulle vars is, so ek het gedink hulle moet plaaslik verbou word,” is sy verduideliking.

’n Wen-wen oorlog

Guerrilla-tuinmaak is ’n misdaad in Brittanje.

Wanneer jy grond wat nie aan jou behoort nie omspit, word dit beskou as “misdadige beskadiging”, maar Reynolds hou vol dat dit ’n slagofferlose misdaad is.

Hy steur hom dus nie te veel aan die polisie nie.

“Ja, volgens die wet is dit misdadige beskadiging, maar jou gesonde verstand sal jou wys dit is eintlik presies die teenoorgestelde,” sê hy.

Reynolds vertel van ’n onlangse middernagtelike spitsessie op ’n groot stuk grond in sentraal-Londen, waarheen dosyne polisiebeamptes opgeruk het en hom en sy medetuiniers beveel het om hul tuingereedskap neer te lê of in hegtenis geneem te word.

“Ons het huiwerig onttrek,” erken Reynolds. Maar, voeg hy met ’n glimlag by, die groep het ná ’n uur, toe dit veilig was, weer teruggekeer na die stuk grond en hul liefdestaak voltooi.

So belangrik het sy betrokkenheid by guerrilla-tuinmaak geword, dat Reynolds bedank het uit sy pos in die advertensiewese.

Hy bestee nou al sy tyd daaraan om sy webwerf in stand te hou, om te skryf oor guerrilla-tuinmaak en om die “groen woord” te versprei.

Hoewel hy die aktiwiteit as ’n “veldslag” beskryf en die taal van oorlog gebruik, hou hy vol dat daar in dié “geveg” geen verloorders is nie.

“Hierdie is ’n wen-wen oorlog,” skryf hy. “Neem ’n openbare plek van gemorste geleenthede en omskep dit in ’n tuin. Oor ’n tydperk sal dit duidelik word vir almal. En boonop geurig ook!”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |