' 'n Kankerpasiënt moet déélneem'
Dr. Ivan Cohen het nie gedink hy gaan lewend wees wanneer sy boek verskyn nie.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Leer praat maat se liefdestaal
May 01 2008 05:08:36:390PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Liezel Joubert

Die kanse is goed dat die manier waarop jy en jou lewensmaat liefde ervaar, verskil. Dit kan selfs so erg wees as om 'n ander taal, soos Chinees, te probeer verstaan, skryf Liezel Joubert.

Hy koop vir jou blomme, maar jy wil eintlik hê hy moet aanbied om die inkopies te doen.

Jy maak vir hom ’n spesiale ete, maar eintlik wil hy hê jy moet hom bed toe sleep om onder die lakens te vroetel.

Hy dink sy is ondankbaar omdat sy nie die blomme waardeer nie en sy voel hy sien nie haar moeite raak nie . . . en het net een ding op die brein.

Probleme? Beslis. Hoekom? Omdat dié paartjie nie dieselfde “liefdestaal” praat nie en hulle, soos baie ander paartjies, nie van beter weet nie.

In sy boek, die blitsverkoper The five love languages (2004), vertel dr. Gary Chapman hoe elke mens sy eie liefdestaal het. Volgens hom is daar vyf liefdestale, waarvan ons elkeen ’n voorkeur het.

In die meeste gevalle verskil jou liefdestaal van jou maat s’n. Dit is volgens Chapman uiters voordelig om die tweede “liefdestaal” aan te leer.

Hy verduidelik dit in sy boek aan die hand van linguistiek.

“Die meeste van ons leer ons ouers se taal aan soos ons grootword en dit word ons moedertaal. Later leer ons dalk ander tale aan, maar met meer moeite. Hoe meer jy egter ’n sekondêre taal praat, hoe makliker raak dit.

“As jy net jou primêre taal kan praat en te doen het met iemand wat net s? primêre taal kan praat, is kommunikasie beperk. As dit by liefde kom, is dit ’n soortgelyke situasie. Jou emosionele liefdestaal en dié van jou eggenoot kan so verskillend soos Chinees en Engels wees.

“ ’n Mens moet dus gewillig wees om jou eggenoot se primêre liefdestaal aan te leer sodat julle doeltreffend kan kommunikeer.”

Chapman meen verder motors het brandstoftenks, terwyl mense liefdestenks het. Deur jou maat se tenk te vul met die regte soort liefdestaal, sal dit nie leegloop nie.

“Ek is oortuig daarvan dat die volhou van die emosionele liefdestenk so belangrik is vir ’n huwelik is as wat die regte olievlak vir jou motor is. Om jou huwelik op ’n leë liefdestenk te probeer bestuur, mag jou dalk net meer kos as om jou motor sonder olie te bestuur.”

Die Australiër Alison Osborne, skrywer van Gesprekke ná baba: Wat nuwe ouers vir mekaar moet sê, het ook Chapman se boek nageslaan en vir verskeie mans en vroue gevra wat hulle maats kan doen om hul liefde vir mekaar te betuig. Hier volg haar interpretasie van Chapman se vyf liefdestale en verduidelikings uit Chapman se boek:

Bekragtigende woorde

Mense wie se primêre liefdestaal bekragtigende woorde is, vertolk liefde as “woorde van waardering”, “uitgesproke komplimente” en “bemoedigende woorde”. Sonder dié bekragtigings voel die individue nie gelief nie, ongeag van hoeveel hemde sy maat vir hom stryk of hoeveel gloeilampe hy vervang.

“Die doel van die liefde is nie om iets te kry wat jy wil hê nie, maar om iets te doen vir die welstand van die mens wat jy liefhet. Wanneer ons bekragtigende woorde ontvang, is ons meer geneig om gemotiveerd te wees om dit uit te deel,” sê Chapman.

Deur dus vir jou maat te sê hy is ’n goeie pa, dat jy trots is op hom en jou waardering uitspreek oor alledaagse takies, wys jy vir hom jy is lief vir hom en sal hy tien teen een dieselfde doen.

Gehaltetyd

Gehaltetyd beteken jy verwag om onverdeelde aandag van jou maat te ontvang. Jy verwag “gehalte-gesprekke” waartydens julle ongesteurd en in goeie gees ervarings, gedagtes, gevoelens en begeertes kan uitruil. Om die koerant te lees of na die televisie te kyk terwyl ’n gesprek gevoer word, tel nie. Dit kan net tot ’n bakleiery lei.

Volgens Chapman is saamwees ’n sentrale aspek van gehaltetyd.

“Dit beteken nie nabyheid nie. Saamwees het te doen met gefokusde aandag.”

Gehaltetyd sluit ook gehalte-aktiwiteite in. As jou liefdestaal gehaltetyd is, sal jy dit byvoorbeeld waardeer as jou geliefde vrywillig saam met jou opera toe gaan, oor die naweek ’n tydjie afknyp om saam met jou te gaan piekniek of te gaan uiteet.

Geskenke

Sommige mense ervaar liefde as hulle geskenke ontvang en vertolk dit as ’n sigbare bewys daarvan.

Die gawe van jou maat se teenwoordigheid tydens ’n krisis is ook een van die grootste geskenke wat jy kan ontvang.

“Dit is een van die maklikste liefdestale om te leer,” sê Chapman. Vroue met dié liefdestaal sal onder meer ’n blom uit die tuin of ’n spesiale verrassing elke nou en dan waardeer. Mans sal weer van iets soos kaartjies vir ’n sportbyeenkoms hou.

Diensbetoon

As jou primêre liefdestaal diensbetoon is, vertolk jy die dinge wat jou maat vir jou doen – soos kos maak, skottelgoed was, vullis uitgooi of grassny – as liefdesblyke. Dit verg egter nadenke, beplanning, tyd, moeite en energie en as dit in ’n positiewe gees gedoen word, is dit inderdaad ’n uitdrukking van liefde.

“Om dié liefdestaal aan te leer, sal van julle vereis om die man en die vrou se stereotipiese rolle te herevalueer,” sê Chapman.

Dit beteken dat mans bereid moet wees om te help in die kombuis of met die baba as dit sy vrou se primêre liefdestaal is. As dit jou man se liefdestaal is, sal jy weer uit liefde uit vir hom aandete maak, sy klere was en hom toelaat om laat te slaap.

Fisieke aanraking

Hier smag jy na jou maat se vingers deur jou hare, hande vashou, dat hy jou rug vryf of om intiem te verkeer. Volgens Chapman kan fisieke aanraking ’n verhouding maak of breek.

“Elke huwelik gaan deur krisisse. In dié gevalle is fisieke aanraking baie belangrik. In ’n krisis kan ’n drukkie ontsaglike liefde vir die ander mens kommunikeer.”

“Baie dele van ons liggaam is sensitief vir stimulasie.

“Dit is belangrik om uit te vind hoe jou maat fisiek én sielkundig op sekere aanrakings reageer.”

  • Bronne: The five love languages deur Gary Chapman; Gesprekke ná baba: Wat nuwe ouers vir mekaar moet sê deur Alison Osborne; www.fivelovelanguages.com (besoek ook die webwerf vir meer inligting).

    Liefde is 'n keuse

    Die "verliefde" gevoel is 'n euforiese gevoel. Wanneer jy verlief is, het jy die illusie dat die ander mens volmaak is.

    Die verliefde gevoel moenie verwar word met liefde nie.

    Verliefdheid verg min inspanning en geen dissipline van jou nie.

    Liefde, daarteenoor, is 'n keuse. Dit beteken jy het die kapasiteit om lief te wees vir die ander mens selfs ná die verliefdheidsfase (wat volgens wetenskaplikes tot twee jaar kan duur). As jy kies om lief te wees, sal jy 'n toepaslike manier vind om dié besluit uit te druk.

    Liefde sê "ek is lief vir jou en ek kies om jou belange op die hart te dra".

    Om te kan vergewe is ook 'n keuse. Dit is 'n uitdrukking van jou liefde vir die ander mens omdat nie een van julle volmaak is nie.

  • Bron: The Five Love Languages deur Gary Chapman

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |