Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Sydney se sjiek styl nie meer ’n grap
Toe in die vroeë 90’s voorgestel is dat ’n modeweek in Australië, die land van speedo’s en plakkies, gehou word, is dit met ’n gelag begroet. Vandag, ná afhandeling van die 13de Australiese modeweek, is Sydney vasberade om die wêreld se vyfde modehoofstad te word. Organiseerders van die geleentheid sê dit het vrugte afgewerp om diegene te ignoreer wat die idee van ’n Austra- liese modeweek afgelag het. Die 13de Australiese modeweek het begin met meer as 100 ontwerpers, 100 mode-aankopers van meer as 15 lande en ’n hele string A-lysglansmense in die voorste rye langs die loopplank. Mnr. Simon Lock het die modeweek in 1995 begin en dit toe in 2005 aan die New Yorkse sport-, leefstyl- en bemarkingsmaatskappy IMG verkoop. Lock sê hy glo Sydney maak sy merk as die vyfde modehoofstad, naas Londen, Parys, New York en Milaan. “Dit is nie ’n speletjie waarin ons kyk wie bo-aan die leer eindig nie, maar ons speel beslis in die topliga en dit is belangrik vir ons reputasie,” sê Lock. “Ons het deel van die topliga geword danksy die wêreldwye persepsie wat mense van Sydney het, en die modeweek se grootte. “Ons het reeds meer vertonings op ons program as die Londen-modeweek en ook meer ontwerpers.” Maar Sydney is nie die enigste stad wat probeer om met die voorste modehoofstede saam te praat nie. Lock skat sowat 50 modeweke word jaarliks wêreldwyd gehou. Die byeenkomste, wat voorheen net oop was vir aankopers in die modebedryf, is nou oop vir bywoning deur die media, vermaaklikheidsterre en lede van die publiek. Lock, wat steeds aan die hoof van Australië se modeweek staan, sê dit help Sydney dat IMG sterk bande het met belangrike winkels en die organisasie is wat internasionale modelle se loopbane bestuur. Een van die positiewe gevolge van die Australiese modeweek is dat sowat 60 van die land se modehandelsmerke nou na Asië, Europa en die VSA uitgevoer word. Blink mense Namate die modeweek in statuur gegroei het met die deelname van ontwerpers soos Alex Perry, Lisa Ho, Zimmerman en Sass & Bide het die gastelys ook ál blinker geword. Van die vermaaklikheidsterre wat by vanjaar se modeweek in die voorste sitplekke opgemerk is, sluit in die sangeres Dannii Minogue (Kylie se kleinsus) en die aktrise Miranda Otto (Eowyn in die Lord of the rings-trilogie). Miranda Kerr, ’n topmodel en die eerste Australiër wat in ’n Victoria’s Secret-vertoning op die loopplank verskyn, het ook haar opwagting by die modeweek gemaak . . . met Orlando Bloom, haar kêrel, kort op haar hakke. “Ontwerpers trek aandag na hul vertonings deur diegene wat daar in die voorste ry sit. “Dit is so relevant hier in Sydney as by enige modevertoning ter wêreld,” sê Lock. Die modeweek, wat twee keer per jaar (in Mei en weer in September) gehou word, het vanjaar omstrede begin met planne om die Poolse model Monika Jagaciak (14) op die loopplank te gebruik. Kritiek is teen dié plan uitgespreek omdat die model “nog ’n kind” is. Dit het gelei tot ’n nuwe reël wat bepaal dat modelle nie jonger as 16 jaar mag wees nie. “Ons het besluit op ’n ouderdomsbeperking en ek dink die res van die modebedryf wêreldwyd sal spoedig ons voorbeeld volg,” sê Lock. Hy meen Australië het beslis ’n unieke modestyl, maar dit is moeilik om dit vas te pen. “In die algemeen kan ’n mens sê Milaan het nog altyd gegaan oor die kuns van kleremaak, Londen oor die eklektiese en avant-garde, New York oor vaartbelynde sportdrag en Parys oor die toppunt van couture. “Australië is dan seker in ’n groot mate oor ontspanne sjiek, maar dit is moeilik om te veralgemeen.” – Reuters Life!
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|