Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Asma’ net meer mense weet!
Asma is een van algemeenste chroniese siektes en raak meer as 300 miljoen mense wêreldwyd. Tussen 15 en 20% van Suid-Afrikaanse skoolkinders ly ook daaraan, skryf Liezel Joubert. Me. Madelaine van Vuuren, ’n boekhouer van Johannesburg, is ’n duikinstrukteur en ’n baie aktiewe mens. Dis die teenoorgestelde van wat sy sowat agt jaar gelede was. Want vandat sy kan onthou totdat sy bykans 28 jaar oud was, was sy die slagoffer van onbehandelde asma. “Vandat ek ’n kind was, was ek altyd kort van asem. Dit het my lewe in alle opsigte beïnvloed. Ek kon geen sport beoefen of aan enige buitemuurse aktiwiteite deelneem nie, want dan het my bors toegetrek.” Die dokters waarheen haar ouers haar destyds geneem het, het ook nie asma gediagnoseer nie. Hulle het dit afgemaak as ’n allergie en ’n “fase wat sy sou ontgroei”. Toe sy in haar laat 20’s deur tussen twee en drie verligtingspompies per dag gegaan het, het sy besef daar is fout. Deur ’n gemeenskaplike vriend het sy toe me. Lynne Zurnamer van Oz Healthcare ontmoet wat haar aangemoedig het om ’n spesialis te raadpleeg. “Hy het my op die regte medikasie gesit en my lewe het heeltemal verander. Ek kan nie onthou wanneer ek laas my verligtingspompie gebruik het nie en ek kan nou normaal lewe.” Van Vuuren vertel hoe sy voor haar behandeling gedurig uitasem en moeg was en dat sy geen sport of oefening kon doen sonder dat haar bors toegetrek het nie. “En ek het altyd belang gestel in duik, maar was te bang om dit te doen. Perdry was ook altyd ’n probleem omdat die perd se hare en stof ’n aanval kon veroorsaak.” Nou kan sy doen net wat sy wil. Sy gebruik haar voorkomingspompie nou twee maal per dag en sê sy is spyt sy het nie lankal haar asma begin beheer nie. Prof. Robin Green, hoof van die afdeling pediatriese pulmonologie aan die Universiteit van Pretoria, beaam dit. “Asma kan beheer word, maar sonder medikasie kan die gehalte van jou lewe aangetas word.” Behandeling Daar is twee soorte behandeling: voorkomingsbehandeling (controllers) en verligtingsbehandeling (relievers). “Voorkomingsbehandeling werk deur die swelling, slym en sametrekking van die spiere rondom die lugweë te verminder. Dit word elke dag gebruik, of jy siek voel of gesond voel. “Daarmee saam moet ’n mens ’n verligter kry wat in noodgevalle gebruik word om jou lugweë oop te maak wanneer hulle styftrek of toeër is as gewoonlik. Dit help jou om tydelik beter te voel, maar behandel nie die onderliggende inflammasie nie. “Om net op verligters staat te maak is ’n swak manier om simptome te probeer beheer. “Dit sal veroorsaak dat die simptome aanhou terugkom.” Hy sê die meeste asmalyers ontwikkel asma voor die ouderdom van vyf, maar dit kan op enige ouderdom begin. Volgens hom vorm asma deel van ’n groep allergiese toestande en is daar baie dinge wat vroeg in ’n kind se lewe kan gebeur wat hom meer vatbaar maak. “Daar is baie faktore wat dit kan veroorsaak, maar daar is bewyse dat die afwesigheid van normale kieme in ’n kind se omgewing allergieë kan meebring, ook bekend as die ‘higiëne-hipotese’.” Asma kan nie voorkom word nie, maar wel goed beheer word. Green sê oor oorsake: “In die asemhalingsbuisies (lugweë) van die longe ontstaan ’n proses wat inflammasie genoem word. Dit is wanneer die ‘voering’ van die lugweë geswel en beskadig raak, wat dit laat toetrek en die simptome veroorsaak.” Wanneer is asma buite beheer? “As jy op asma-medikasie is en steeds meer as twee of drie aanvalle per week kry, word jou asma nie optimaal beheer nie.” Suid-Afrikaanse riglyne vir die beheer van asma soos aangepas deur plaaslike kenners kan by www.asthma.co.za afgelaai word. Lidmaatskap van die Nasionale Asma-opvoedingsprogram (Naep) is gratis aan lede van die publiek en meer inligting kan ook op laasgenoemde webwerf verkry word. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan asthma@oz.co.za. Simptome Beheer die siekte só Bly weg hiervan Volgens prof. Robin Green word min asmatiese simptome deur voedselallergieë veroorsaak. “Sekere kinders is sensitief vir sekere kleur- en preserveermiddels, maar dit is nie ’n allergie nie.” Allergene word hoofsaaklik ingeasem en kan huismiet of stuifmeel wees, of van diere afkomstig wees. Asmalyers moet sigaretrook, sekere allergene en sterk parfuum vermy. “En moet nooit ophou oefen nie.”
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|