Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Uitnemende vrou, ‘superma’
Met net 24 uur in elke dag is sy 'n suksesvolle sakevrou, skrywer, eggenote en ma van twee. Marzanne van den Berg het met Chantell Ilbury gesels oor familie- en sakestrategie. Sy is nie ’n supervrou nie, sê Chantell Ilbury, maar haar seun, Mitchell (15), noem haar soms ’n superma. “Ek hou nogal daarvan,” sê die 47-jarige strateeg en fasiliteerder van Durban, wat ’n suksesvolle loopbaan en ’n gelukkige gesinslewe met haar man en twee kinders oënskynlik moeiteloos balanseer. En dan nog tyd inruim om saam met haar kollega Clem Sunter topverkoperboeke te skryf. Maar sy hou nie van die supervrou-etiket nie. “Ek is nie regtig een nie. Dit gaan oor prioriteite en balans. “Dit is miskien vir my makliker omdat my kinders bietjie ouer is en dalk nie hul ma soveel nodig het nie. “Maar aan die ander kant, hulle is tieners en het my dalk nou eintlik meer nodig.” Haar man, Daryl, is ’n omroeper en behartig die ontbytprogram op East Coast Radio. Hy is soggens omtrent 10:00 klaar gewerk en dit maak dit ook makliker dat hy die res van die dag beskikbaar is, sê Ilbury. “Wanneer ek by die huis is, is ek regtig by die huis. Ek bring nie graag werk huis toe nie. “Dan doen ek graag dinge saam met my kinders. Ek hou daarvan om kruideniersware te gaan koop. “Ek bring ook baie tyd op die gholfbaan deur.” Maar sy help jou vinnig reg as jy dink sy speel self. “Ek is ’n wonderlike joggie,” sê sy en verduidelik dat sy haar seun, wat beplan om ’n professionele gholfspeler te word, se gholfstokke dra. Haar dogter, Roxanne (18), het vanjaar begin studeer vir ’n B.A.-graad in kommunikasie en ekonomie – “so ’n kombinasie van haar ouers se rigtings”. Strategiese werk Wanneer Ilbury nie by die huis is nie, lei sy maatskappye en ander organisasies plaaslik en oor die wêreld in hul strategiese gesprekke oor die toekoms. Sy en Sunter fasiliteer al die afgelope agt jaar strategiese gesprekke en dit is hierdie proses van gesprekvoering wat hulle saamgevat het in Socrates and the fox: A strategic dialogue, hul derde boek, wat in November verlede jaar verskyn het. Die eerste boek, The mind of a fox: Scenario planning in action, het gegaan oor hoe ’n mens strategies dink, sê Ilbury. Die tweede, Games foxes play: Planning for extraordinary times, het gegaan oor hoe die spel lyk en wat die reëls is. Socrates and the fox bring dié aspekte bymekaar en gaan oor gesprekvoering en hoe om vrae te vra. “Sokrates het gesê die hoogste vorm van menslike uitnemendheid is om jouself en ander te bevraagteken. “Mense beweeg al hoe meer weg van die ontledende na gesprekvoering. Maar sakemense weet gewoonlik nie hoe om gesprekke te voer nie. “Dit is moeilik in ’n maatskappy om te gaan sit en ’n gesprek te voer. “Maar daar is ’n behoefte daaraan, want daar is toenemend verskillende mense met verskillende perspektiewe teenwoordig. “Die werk wat ons doen, is baie belangrik om raamwerke te skep vir gesprekvoering. Om mense sover te kry om betrokke te raak het jy raamwerke nodig. Ons bou raamwerke om mense toe te laat om vrae te vra sonder om bedreig te word.” Sy het Sunter ontmoet terwyl sy in 2000 besig was met haar M.B.A. (’n meestersgraad in sake-administrasie). Sy het na skool ’n B.Sc.-graad in chemie en ’n onderwysgraad verwerf en daarna ’n paar jaar lank skoolgegee. Die onderwys het vir haar baie deure oopgemaak en sy gebruik steeds haar onderwyservaring in fasiliteringsessies, sê sy. In 1995 het sy Scienceworks begin, wat opleiding en onderwys in wetenskap verskaf en ook wetenskap-stelle ontwerp en vervaardig het, wat hulle later uitgevoer het. Hoe werk strategie? Ilbury verduidelik strategiese denke gaan daaroor om verskillende scenario’s te ontwikkel en uit te speel. “Jy kyk eers na die omgewing waarin jy jou bevind. Daar is dinge wat seker is – dit is die reëls van die spel. Dan is daar onsekerhede, dinge wat jy nie weet hoe dit gaan uitwerk nie. “Jy identifiseer die sleutelonsekerhede en speel dit op verskillende maniere uit. Scenario’s is dus verskillende uitkomste van die spel gegrond op sleutelonsekerhede. “Daar is nooit net een toekoms nie, daar is verskeie moontlikhede. Dit is makliker om te besluit wat om te doen as jy na al die moontlikhede gekyk het. “Dit laat jou ook toe om jou oë oop te hou vir sekere vlae wat aandui dat een van die scenario’s aan die gebeur is. Dit gee jou ’n voorsprong, want jy weet watter toekoms behoort te volg op ’n sekere uitkoms van ’n onsekerheid.” Die relegasiesone Ilbury en Sunter het onlangs hul tweede stel scenario’s vir Suid-Afrika voltooi, waarin hulle die sokker-analogie gebruik dat Suid-Afrika in die relegasiesone van die Premierliga is en die gevaar loop om na die tweede divisie terug te skuif. ’n Land beland in die relegasiesone as hy mededingendheid verloor. “Suid-Afrika was ’n bietjie oorgerus. Daar is baie Afrika-lande, soos Angola, aan die bopunt van die tweede divisie wat ons plek in die Premierliga kan vat. “As ons na die tweede divisie skuif, loop ons die risiko dat baie mense sal waai om in die Premierliga te gaan speel, wat ons verdere mededingendheid kan kos. “Om ’n Premierliga-speler te wees, moet jy aan sekere kriteria voldoen. Ons sal kwessies rondom misdaad, veiligheid en eiendom moet aanspreek.” Ilbury sê Suid-Afrika sal moet besluit of hy ’n wêreldspeler wil wees en of hy daarop wil fokus om intern ongelykhede van die verlede te herstel. Met verwysing na die ANC-leierstryd sê sy: “Ons is al weer besig met interne stryd, terwyl ons ons wêreldposisie verloor.” Die land moet begin vorentoe kyk, sê sy. Sy meen Suid-Afrika kan homself posisioneer as die poort tot Afrika, soos Singapoer as poort tot die Ooste groot sukses behaal het. Maar Zimbabwe is een van die sleutels om Suid-Afrika as poort tot Afrika te vestig en daarom behoort Suid-Afrika meer aandag te gee aan die situasie in Zimbabwe. “Die een les wat geleer is uit die Afrika-perspektief, is dat daar ’n behoefte is aan gesprekvoering.” Bestel die boek by Kalahari.net deur hier te kliek.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|