Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
In volle vaart – sonder perke
Daar is miljoene mense wat nie take kan voltooi of instruksies kan uitvoer nie, heeldag dagdroom of aan die gang is, maar niks gedoen kry nie. Marzanne van den Berg het meer oor aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom uitgevind. ‘As dit nie help om tot by tien te tel nie, tel tot by honderd.” Dít is die raad van Saskia (11) wat ly aan aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom, bekend as AAHS (of die Engels Attention-Deficit Hyperactivity Disorder of ADHD), aan ouers, onderwysers en terapeute. Saskia se ma, me. Edith Kriel, was een van die sprekers by ’n seminaar oor AAHS wat onlangs in Midrand deur die Kindertraumakliniek aangebied is. Kriel se man, Pieter, en hul seun, Fabian (10), het ook AAHS. Prof. André Venter van die departement van pediatrie en kindergesondheid by die Universiteit van die Vrystaat sê AAHS kan veroorsaak word deur verskeie faktore, soos die samestelling van die brein, koptrauma, genetiese faktore en omgewingsfaktore, maar beklemtoon dat dit nie deur dieet of allergieë veroorsaak word nie. Dieet of allergieë mag dit vererger, maar hul dieet het net ’n invloed op ongeveer ’n derde van mense met AAHS, sê hy. Daar is verskeie dele in die brein van iemand met AAHS wat nie behoorlik werk nie, verduidelik Venter. Die “ligskakelaar” wat ’n mens wakker maak, laat besef wat om jou aangaan en boodskappe na die regte dele van die brein herlei, werk soms glad nie en soms net gedeeltelik. Die dele wat jou trots laat voel, waar impulsbeheer gesetel is, wat verantwoordelik is vir geheue en hoërordefunksie en wat emosionaliteit of gevoeligheid beheer, werk ook nie na behore nie. In die brein van iemand met AAHS word boodskappe ook nie suksesvol tussen breinselle oorgedra nie, verduidelik Venter. As ’n impuls of boodskap ’n breinsel binnekom, laat die sel neuroversenders vry om die spasie tussen die selle oor te steek en aan die reseptors van die volgende sel te heg. Daar mag geen versenders in die area tussen selle agterbly nie en daarom het selle neuroversendervervoerders, of wat Venter “stofsuiers” noem, wat die versenders wat nie aan reseptors geheg het nie, weer in die sel opneem (sien grafika). ’n Normale mens het een miljoen van hierdie “stofsuiers”. Iemand met AAHS het drie miljoen. Dié “stofsuiers” neem die neuroversenders weer in die oorspronklike sel op voordat enige van hulle aan die volgende sel se reseptors kan heg (sien grafika). Dit is hoekom dit lyk asof mense met AAHS nie onthou wat jy vir hulle gesê het of wat hulle moet doen nie, sê Venter. Die boodskappe raak eenvoudig in hul breine weg. Medikasie soos Ritalin blokkeer van die stofsuiers en die regte dosis behoort twee miljoen van hulle te blokkeer. Daar is ook ’n skaars vorm van AAHS waar daar fout is met die reseptors en die versenders nie daaraan kan heg nie, sê Venter. Kriel sê die diagnose van AAHS is ’n verligting omdat jy uiteindelik weet wat fout is met jou kind, maar dit is ook pynlik om te aanvaar. Sy moedig ouers aan om hul kinders oor AAHS te leer – te leer om in hulself te glo, om kreatief te wees en om altyd te weet iemand is lief vir hulle. “En onthou dat jy die kenner is wanneer dit by jou kind kom – vertrou jou instink en verstaan jou kind se sterk en swak punte.” Kind moet voor in klaskamer sit Mnr. Terry Wilke, ’n opvoedkundige sielkundige, sê ’n kind met AAHS moenie agter in ’n klaskamer sit nie, want al die leerlinge voor hom trek sy aandag af. “Voor in die hoek van die klaskamer is die beste plek. Die meeste afleiding moet agter hom wees, sodat hy net op die onderwyser kan fokus. “Hy moet ook nie naby ’n venster sit nie, want die reuke en klanke van buite kan sy aandag aftrek.” Helderkleurige mure, baie helderkleurige plakkate of ’n onderwyser wat helder, ongewone klere dra, kan sy aandag aftrek. Wilke sê die onderwyser kan ’n kontrak met die kind sluit, soos dat jy aan sy skouer sal raak as jy iets belangriks gaan sê en dan moet hy aandag gee. “Vra vir die kind wat jy gesê het om seker te maak hy verstaan. Laat hom neerskryf wat hy moet doen. “Jy kan ’n moet-doen-lysie op sy lessenaar vasplak waar hy of jy neerskryf wat hy moet doen. Herinner hom om seker te maak dat hy alles gedoen het.” Beklemtoon die kind se sterk punte en prys hom gereeld as hy iets reg gedoen het. Erken sy pogings met klein belonings. Hulp met huiswerk Me. Jane Jarvis, ’n opvoedkundige sielkundige, sê “herhaling” is die ergste vloekwoord vir die kind met AAHS. Dié kinders leer nie deur herhaling nie. Hulle raak gou verveeld en fokus net wanneer iets nuut of interessant is. Hulle gee aandag as iets pret is en is lief vir verskeidenheid. Dié kinders vind baat by vertraagde herhaling. “As hy tien somme vir huiswerk het, doen die eerste vyf somme. Doen dan twee ander vakke se huiswerk en neem ’n breuk voordat julle die ander vyf somme doen. Hy sal dan die laaste vyf net so goed soos die eerste vyf doen.” Jarvis sê om pret en verskeidenheid tot die kind se huiswerk te voeg, kan jy hom sy huiswerk laat doen op gekleurde papier of met gekleurde kryte, penne, bordkryt of witbordpenne, gegeurde penne of selfs op jou yskas met magneetletters of nie-permanente penne. Só is die werk wat hy moet herhaal elke keer anders. Die kinders leer ook beter as meer sintuie, veral gevoel, betrek word. Laat hom sy somme of spelwoorde skryf in ’n boks gevul met sand, sout of meel, in die skuim op ’n spieël, op skuurpapier of fluweel. “Hy leer dit deur dit te sê, te sien en te voel. Laat hy woorde leer deur sy ouer ’n toets te laat skryf. “Die ouer maak dan foute en die kind moet die toets met ’n rooi pen merk en die foute regmaak. “Jarvis sê jy kan bordspeletjies gebruik om herhaling pret te maak. “Laat die kind vyf van die woorde wat hy moet leer elk op ’n kaartjie skryf. Elke keer as dit die kind se beurt is, moet hy eers die woord op die boonste kaartjie in die hopie spel. “Spel hy verkeerd, verbeur hy sy beurt. Hy gaan gou leer om die woord te spel, want hy weet dit kom oor ’n paar beurte weer.” Wanneer is dit AAHS? AAHS kan gediagnoseer word wanneer daar ’n volgehoue patroon van onoplettendheid of hiperaktiwiteit is, sommige simptome voor die ouderdom van sewe verskyn het, die simptome teenwoordig is in twee of meer omgewings, die mens sosiaal, akademies en beroepsgewys beduidend benadeel word en die simptome nie te wyte aan ’n ander geestesgebrek is nie. Die simptome van onoplettendheid is onder meer dat die kind: Die simptome van hiperaktiwiteit en impulsiwiteit is onder meer dat die kind: – Bron: Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, vierde uitgawe (DSM-IV) Kry hiér hulp Kontak die Kindertraumakliniek in Garsfontein, Pretoria, by 012 998 1364 of e-pos Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige van die kliniek, by mrademeyer@medi.co.za. Besoek www.childtrauma.co.za vir inligting oor toekomstige seminare.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|