Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


‘ ’n Kankerpasiënt moet déélneem’
May 12 2008 06:37:36:797PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Dr. Ivan Cohen sê sy stryd teen adenokarsinoom, een van die aggressiefste vorme van kanker, het hom geleer dat die mens én die siekte behandel moet word. Foto: Loanna Hoffmann
Hoop is een van 'n kankerlyer se kragtigste wapens, sê 'n dokter ná sy stryd teen die siekte. Marzanne van den Berg het met hom gesels.

D r. Ivan Cohen het nie gedink hy gaan lewend wees wanneer sy boek verskyn nie.

Maar toe Fight of my life, Cohen se ongelooflike en emosionele verhaal van sy stryd teen kanker, onlangs bekend gestel is, was die 64-jarige dokter daar. Hy wil nie sê hy is genees nie, want kanker kan lank wegbly en dan weer terugkeer. “Maar ek is in ’n uitstekende toestand en daar is al lank geen teken van kanker nie.”

Cohen sê hy het Fight of my life geskryf om met gesonde mense sowel as kankerlyers en hul families te kommunikeer.

“Ek wil gesonde mense vertel dat ons almal die gevaar loop om kanker te kry en dat daar baie is wat ons kan doen om die gevaar te verminder.

“Aan kankerpasiënte wil ek sê dat hulle hulself kan bemagtig en hul welstand kan bevorder.”

’n Aggressiewe vorm van kanker is in Februarie 2005 by Cohen gediagnoseer.

Cohen vertel sy mediese praktyk in Sandton was suksesvol toe hy in 2004 griep gekry het. Hy was binne drie dae beter, maar het drie weke lank aangehou hoes.

“Dit was ’n vreeslike advertensie vir my mediese praktyk. Daarom het ek bloed getrek en na ’n laboratorium gestuur. Die uitslae het gewys ek het ligte bloedarmoede. My bloedystervlakke was verskriklik laag.”

Vier maande later, ná verdere toetse, het die dokter hom gebel met die voorlopige diagnose dat hy limfoom van die ingewande het.

“Ek was ’n klassieke geval van pasiëntontkenning. Ek het aan myself gesê: ‘Dankie tog ek het net limfoom van die ingewande.’ Dit was ’n belaglike ding om te sê, maar ek het dit vergelyk met erger kankers met laer oorlewingsyfers, soos adenokarsinoom, waarvan 70% van lyers binne vyf jaar sterf.

“Vyf dae later het die finale diagnose gekom. Ek het adenokarsinoom van die ingewande gehad.”

Altesame 16 maande se behandeling het gevolg, waaronder drie groot operasies om twee kankergewasse te verwyder en baie tyd in waakeenhede.

Hy het interne bloeding en ’n obstruksie van die ingewande gehad, een maal byna versmoor toe die asemhalingspyp agter in sy keel opgerol het, sy asemhalingstelsel het byna ineengestort en ’n waakeenheidverpleegster het hom per ongeluk ’n oordosis morfien toegedien, waarna hy drie dae lank bewusteloos was.

Neem verantwoordelikheid

Kanker is ’n ontmagtigende siekte, want dit neem die sin dat jy beheer het, weg, sê Cohen. “Vir my is dit belangrik om aan die lesers (van die boek) te sê hoe meer hulle verantwoordelikheid neem en hoe meer hulle kan beheer, hoe meer word hulle bemagtig om kanker te hanteer.”

Cohen sê hy het verantwoordelikheid aanvaar vir sy gesondheid en het dinge gedoen wat die dokters nie vereis het nie.

“Die meeste van my dokters het nie aan my gesê oefening kan voordelig wees nie. Ek het by Wits in die biblioteek gaan nalees daaroor. Oefening beïnvloed jou gevoel van bemagtiging en help om gewig te beheer. Daar is bewyse dat gewig ’n rol speel in die voorkoms van kanker en oorlewing.

“Om jou fiksheid te sien verbeter, is bemagtigend.”

Cohen beklemtoon dat pasiënte net moet oefen as hul dokter dit goedgekeur het. “Ek het ook begin om die rol van voeding in kanker te bestudeer en dit het ’n groot verskil gemaak.”

Hy het ook verantwoordelikheid geneem vir sy gevoel van ontmagtiging, sê Cohen. Hy wou sy gevoelens oor kanker verstaan en het ’n sielkundige gaan sien.

“ ’n Pasiënt is iemand wat behandeling ontvang. Dit is presies die teenoorgestelde van wat ’n kankerpasiënt behoort te wees. ’n Kankerpasiënt moet ’n participatient wees. Hy moet aktief aan sy behandeling deelneem, onderhewig aan sy dokter se goedkeuring.”

Leef gesond én kankerbewus

Cohen, wat Run/Walk for Life in 1984 gestig het, sê hy word gereeld gevra hoekom sy gesonde leefstyl hom nie teen kanker beskerm het nie.

“My leefstyl was daarop gemik om harttoestande te vermy en ek het sekere dinge verkeerd gedoen om kanker te vermy. Verwerkte vleis is byvoorbeeld geen probleem as jy na jou hart kyk nie, maar dit is een van die sterkste skakels met kanker.”

Hou aan hoop

Hy sê kanker is ’n ernstige siekte en dokters fokus daarop om daarvan ontslae te raak, maar dit is belangrik om ook na die mens te kyk. “Dit is baie belangrik dat die pasiënt hoopvol voel. Dokters moet pasiënte hoop gee, maar nie jok of hulle mislei nie.

“Om hoop te hê, verminder ontmagtiging. Pasiënte wat hoop verloor het, loop die gevaar om nie proaktief te wees nie. Hulle mag dalk nie dokter toe gaan wanneer hulle moet en behandeling ontvang nie.

“As jy hoop wegneem, benadeel jy die stryd teen die siekte.

“Een van die belangrikste dinge wat ek geleer het, is dat ’n mens nie net die kanker moet behandel nie, maar ook die mens.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |