Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Sorg só vir die aarde én jou gesin
May 13 2008 07:31:48:543PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Groen is deesdae 'n leefstyl, maar dit bly ook 'n gewilde modekleur op die loopplank. Modelle vertoon groen modes deur Nicola Finetti gedurende die onlangse Australiese modeweek in Sydney.Foto: Rick Rycroft, AP
Om eko-vriendelik te wees is lankal reeds mode. Al Gore, Stella McCartney, Anna Wintour en Leonardo diCaprio is maar net 'n paar van die bekendes wat daarvoor gesorg het. Dit raak ook al hoe makliker om jou deel by te dra, skryf Liezel Joubert.

Jy knik instemmend terwyl jy Al Gore op in An inconvenient truth hoor praat en jy word gewalg deur artikels oor reënwoude wat verwoes word en die vernietiging van die osoonlaag.

Tog gooi jy jou wynbottels saam met jou plastieksakkies in die asblik en staan jou skoonmaak- en badkamerkassie vol produkte met skadelike bestanddele en eko-onvriendelike chemikalieë.

Jy is bewus van wat gedoen moet word, maar weet nie waar of hoe om te begin nie.

Dr. Sean Gomes, medestigter van die Wellness Warehouse-groep, sê dié groep het juis ontstaan uit die groeiende mark van gesondheidsbewuste mense wat meer balans tussen hul lewenstyl en die omgewing verlang.

Hy sê by Wellness Warehouse moedig hulle klante aan om eko-vriendelike produkte te koop deur ’n verskeidenheid van dié produkte aan te hou.

Vir hom kan die voordele van omgewingsvriendelike produkte nie bevraagteken word nie.

“Bio-afbreekbare produkte se voordele is tweeledig: Jy ondersteun ’n gesonder omgewing én verminder jou gesin se blootstelling aan skadelike chemikalieë aansienlik.”

Hy sê daar is verskeie faktore wat bydrae tot eko-volhoubaarheid, byvoorbeeld herwonne glas, organies gekweekte bestanddele, landboumetodes wat plaaslike gemeenskappe verryk en ’n standpunt teen toetsing op diere.

By die Wellness Warehouse is daar ’n “groen gang” wat klante bekend stel aan eko-vriendelike alternatiewe soos huisskoonmaakmiddels, organiese watte, toiletware en skoonheidsprodukte.

Mooi groen

Elsa Krüger, skoonheidsredakteur van Shape, sê skoonheidsprodukte het die afgelope vyf jaar ook baie gedoen om aan te pas by die groeiende bewuswording van omgewingsvriendelike produkte.

“Die meeste groot internasionale maatskappye het ’n natuurlike of organiese handelsmerk gekoop of ontwikkel naas hul bestaande produkreekse. Skadelike of omgewingsonvriendelike bestanddele word toenemend uitgefaseer.”

Sy sê hoewel dié groen neiging nog vir baie kosmetiese maatskappye in hul kinderskoene is, die openbare mening en neiging druk op hulle plaas om meer te doen.

“Ek dink nie dis ’n neiging wat oornag gaan verdwyn nie, inteendeel. Stella McCartney het byvoorbeeld haar reeks Care by Stella McCartney (’n 100 % gesertifiseerde organiese velsorgreeks) verlede jaar bekend gestel; dis nou sexy en trendy om te wys dat jy omgee vir moederaarde!”

Hoewel daar ’n verskeidenheid skoonheidshuise soos Dermalogica, Elemis en Paul Mitchell is wat aansienlik meer omgewingsbewus raak, sonder Kruger en Gomes albei Dr. Hauschka-produkte uit vanweë die reeks se holistiese filosofie, waaronder ekologies vriendelike metodes om hul bestanddele te bekom, verhandel en produseer.

Volgens Krüger kan vroue help om meer eko-vriendelik te wees deur net op te let na die bestanddele van die produkte wat in hul badkamerkassies is.

“Weet wat is skadelike bestanddele en waarom. En kyk uit na die sertifisering-waarmerk op egte organiese produkte.”

Die wat en die hoe

  •  Organies verwys na die manier waarop landbouprodukte laat groei, gekweek en verwerk word voordat dit in kosmetiese produkte gebruik word.

  •  Om werklik as organies geklassifiseer te word beteken dit die plante moet sonder die byvoeging van chemiese insekdoders en kunsmis, genetiese gevormde sade of bestraling verbou word.

  • Organiese stelsels hou skadelike chemikalieë uit die grond, water en lug. ? Bron: Elsa Krüger, Shape

    Organies of natuurlik?

    Hoewel organies altyd natuurlik is, beteken natuurlik nie altyd organies nie, skryf Krüger in navorsing wat sy vir 'n artikel in Shape gedoen het.

    "Die woord 'natuurlik' word gebruik om 'n produk of bestanddele as 'in harmonie met die natuur', 'gekoppel aan die natuur' of 'verkry uit die natuur' te beskryf. Dit beteken die produk of bestanddele kom uit die aarde (soos plante, minerale) en dat dit nie sinte?tiese of natuur-identiese bestanddele bevat nie."

    Natuurlike produkte is steeds veiliger en gesonder, maar is nie noodwendig volgens organiese metodes vervaardig nie.

    Hoekom groen?

  •  Organiese produkte is gewoonlik beter vir sensitiewe velle. Dit het gewoonlik minder aktiewe bestanddele in wat beteken daar is minder dinge wat jou vel kan irriteer. As gevolg van die tekort aan preserveermiddels is die produkte se raklewe egter beperk.

  •   Baie organiese skoonheidsprodukte is ryk aan anti-oksidante soos olyf- en druifpitolies, pomelo en groen-, wit- en rooitee wat vrye radikale neutraliseer.

  •  Organiese bestanddele bevat nie insekdoders of chemiese kunsmis nie. Dié bestanddele kan die hormone in die liggaam verhinder om hul normale funksies uit te voer.

    Wees só eko-vriendelik

  •  Herwin jou glas, papier en plastiek. Hergebruik inkopiesakke en koop herbruikbare babadoeke. Probeer bruinpapiersakke vir jou inkopies gebruik omdat dit bio-afbreekbaar is.

  •  Verminder vermorsing: Gebruik produkte met minimale verpakking.

  •  Organiese kosafval kan as kompos gebruik word.

  •  Kies organies, natuurlik en bio-afbreekbaar.

  •  Bespaar energie: Skakel onnodige huisligte af; gebruik energiebesparende gloeilampe.

    Bron: Dr. Sean Gomes

    Kyk uit na dié simbole

    Wees op die uitkyk na sertifisering soos die simbole van byvoorbeeld Bio-Org, Afrisco, BDOCA (Suid-Afrika), Ecocert (EU), USDA (VSA), BDIH (Europa) en Aco (Australië), asook BFA (biologiese boere van Australië) en Ifoam (internasionale federasie van organiese landboubewegings) se stempels om seker te maak jou produk bevat organiese bestanddele.

  • Besoek lifeinbalance.co.za; faithful-to-nature.co.za; organicmonitor.com; drhauschka.com of naturalmakeup.ca vir meer inligting.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |