Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Raad vir die vraat
May 15 2008 07:27:51:337PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Jy hoef nie alles self te doen nie. Leer om te ontspan en ongesonde beheer uit te skakel. Foto ter illustrasie: Imagesource
Jy dink dalk dis "in" om altyd oor alles te stres en klop jouself op die skouer omdat jy jou lewe met soveel detail kan beheer. Dit kan dalk 'n lewensgevaarlike en teenproduktiewe gewoonte wees, skryf Liezel Joubert.

Jy moet altyd in beheer van situasies wees en jy bekommer jou oor bykans alles. As jy dit nie self doen nie, word dit tien teen een nie reg gedoen nie en so op ’n drafstap probeer jy alles van jou werk en gesin tot jou persoonlike lewe beplan sodat die minimum verkeerd hoef te loop.

Beheervraat? Lees die volgende definisies en besluit self.

Mnr. Kobus Coetzee, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg, beskryf ’n beheervraat as iemand wat poog om situasies of mense te beheer as ’n verdedigingsmeganisme teen angs wat beleef word weens innerlike konflik.

Dr. Arien van der Merwe, mediese dokter en kenner op die gebied van werkplekgesondheid en streshantering van Health Stress Management, verduidelik die konsep verder: “Beheervrate is seker net hulle kan iets reg en goed doen, en glo wat hulle dink en hoe hulle dinge doen, is van toepassing op alles en almal. Ander mense skiet altyd tekort.

“Die beheervraat is ook selde tevrede met werk of ’n projek wat hulle self gedoen het. Perfeksionisme, uitermate prestasie en werkolisme is tipiese kenmerke. Dit laat hulle in beheer van hul wêreld voel.”

Coetzee sê beheervrate voel ironies genoeg meestal nie in beheer van hulself en hul eie lewe nie.

“Hulle is onseker van hulself en probeer konstant hul eie angs demp deur te strewe na beheer van ander mense of situasies.”

Van der Merwe stem saam.

“Uiteindelik is die probleem dat ’n beheervraat innerlik onopgewasse voel vir die lewe se skommelinge en dikwels ’n swak selfbeeld het. Deur dan alles buite te probeer beheer, voel hulle beter oor hulself.”

Omdat dit onmoontlik is om alles te beheer plaas dié individue dus ondraaglike stres op hulself, wat hulle vatbaarder maak vir verskeie siektetoestande, sê Van der Merwe.

Waar meer mans voorheen aan dié sindroom gely het, sê sy vroue is nou ook slagoffers omdat hulle ook hul merk in die werkplek wil maak.

“Beheervrate wil alles goed doen: Kinders, man en huis bestuur; almal veilig en gesond hou; topposisies by die werk beklee, in komitees dien en nog bak vir die basaar. Navorsing wys dat mans se stresvlakke afneem na die einde van die dag toe, waar vroue s’n toeneem, want die volgende sarsie wag tuis!”

Sy sê beheervrate vaar op die oog af goed en is dit ook ’n gedrag wat in ons samelewing aangemoedig word: werk te hard, doen te veel, doen meer, doen beter en word beloon met beter posisies, meer geld en meer goed.

Coetzee waarsku dat dié gedrag nie altyd in die werkplek beloon word nie.

“Dié mense sukkel gewoonlik om take te delegeer, sukkel soms om goed in spanverband saam te werk en verkies om beheer te neem. Hulle mag aanvanklik as sterk leiers voorkom, maar sukkel om raad en hulp van ander te aanvaar.”

Hy sê ’n beheervraat-persoonlikheid kan ook ’n negatiewe invloed op jou verhoudings hê.

“Beheervrate streef na ’n houvas op ander, en veral in intieme verhoudings kan dit ’n negatiewe uitwerking hê. Hulle is soms wantrouig en kan van hul maat verwag om gedurig saam met hul besluite te gaan, wat min ruimte vir individualiteit laat.”

Gee beheer oor

So hoe leer beheervrate om te ontspan?

Van der Merwe sê die eerste stap is selfkennis en erkenning dat jy in ’n mindere of meerdere mate ’n beheervraat is. Deur daagliks te oefen om meer bewus te word van jou denkpatrone, doelbewus die beheergedagtes te laat gaan en deur te soek na ’n gedagte wat effens beter voel en sodoende by ’n plek van oorgawe kan uitkom, kan mense hulself help.

“Daaglikse mediteringsoefeninge kan jou ook help om jou gedagtes te tem om ’n plek van innerlike vrede te bereik, waar jy in die huidige oomblik is en weg van die wroegings oor die verlede of die bekommernis oor die toekoms.”

Coetzee meen dat wanneer mense meer selfversekerd raak en meer vertroue kry in hul eie selfbehoud, hulle ook geneig is om ’n kleiner behoefte aan beheer te hê. Waar gesonde beheer gewoonlik lei tot uitkomste soos geluk en vreugde in die lewe en in verhoudings, lei ongesonde beheer tot die teenoorgestelde, sê Coetzee.

“Wanneer mense hul vrese en die angs van onsekerheid oorkom, kan hulle ontspan en die leisels los.”

Hy sê hoewel dié oorgawe van beheer nie oornag sal gebeur nie, dit die lewe daadwerklik interessanter sal maak.

“Daar moet ’n onderskeid getref word tussen gesonde, aanpasbare beheer en beheer wat angs verhoog. Praat met iemand naby jou en vra hul opinie en hulp om jou bewus te maak wanneer jou behoefte na beheer handuit ruk.”

Ontspan as jy dít wil vermy

Die volgende siektes en kwale is veral algemeen onder beheervrate bo 40 jaar. Al hoe meer jonger mense ly egter ook daaraan.

  •  Hartsiektes, hartaanvalle, hoë bloeddruk, hoë cholesterol
  •  Bloedglukose-wanbalanse soos insulienweerstandigheid, sindroom X, metaboliese sindroom, diabetes mellitus
  •  Chroniese moegheidsindroom of fibromialgie
  •  Distemiese versteuring (laegraadse depressie), depressie- uitbranding (burnout)
  • Is jy ?n tipe A-persoonlikheid?

    As jy "gewoonlik" of "altyd" op die volgende vrae beantwoord, ly jy moontlik aan chroniese stres, wat tipies is van dié persoonlikheid. Tipe A-persoonlikhede word ook geassosieer met siektes soos maag- sere, migraine, diabetes, hartsiektes en endometriose ('n siektetoestand wat 'n mens laat sukkel om swanger te word).

  •  Jy is altyd betyds vir afsprake.
  •  Jy is mededingend as jy speel met jou kinders, by die werk of met volwassenes en ontspan moeilik.
  •  Jy loop altyd gesprekke vooruit en voltooi ander se sinne.
  •  Jy is altyd haastig.
  •  Jy raak ongeduldig in toue, in die verkeer of wanneer jy moet wag.
  •  Jy doen alles vinnig, bv. loop, praat, bestuur en eet.
  •  Jy raak geïrriteerd met ander se sogenaamde "dom" vrae of hul onvermoë om aan jou hoë standaarde te voldoen.
  •  Jy raak kwaad vir jouself as jy 'n fout begaan.
  •  Jy vind fout met en kritiseer ander mense gedurig.
  •  Jy vat die meeste aande werk huis toe.
  •  Jy dink tuis aan werkprobleme.
  •  Jy werk vrywilliglik lang ure.
  •  Jou familie kla oor hulle jou te min sien.
  • Jy sê moeilik nee vir werk-, welsyn- of ander tydrowende versoeke.
  •  Jy delegeer moeilik.
  •  Jou selfbeeld is gegrond op jou werk, jou gemeenskapsbydraes, jou kinders se skoolprestasies of geldinsamelinginisiatiewe

  • Besoek www.healthstresswellness. co.za of www.dannerup.com vir meer inligting oor hulp en terapeute.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |