Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Sinusitis – ’n onbeskryflike pyn
'n Onbeskryflike pyn klop deur jou kop met elke tree wat jy gee. Wanneer jy vorentoe buk, voel dit asof jou kop gaan bars. Dié soort lyding kan vir mense met chroniese sinusitis vir weke tot maande of jare buite aksie stel, vertel Antoinette Pienaar. Jy besoek die een dokter ná die ander, drink pille wat nie werk nie en ondergaan selfs ’n sinusoperasie om jou sinusholtes skoon te kry. Drie maande later is jy terug waar jy begin het, heeltemal verstop en in pyn. Dr. Gustav Joyce, een van die enigste Suid-Afrikaanse oor-neus- keelspesialiste wat ook ’n kwalifikasie in die veld van allergieë het, meen dis omdat baie dokters, onder meer met die chirurgie, die simptome behandel, maar nie die oorsaak van sinusontsteking nie. Joyce sê sinusitis kan akuut of chronies wees. Die rede hoekom waterige of gekleurde afskeidings by jou neus uitkom, is gewoonlik omdat jou liggaam verwoed probeer om ’n virus, bakterie of ander organisme dood te maak en uit te skei. Hy meen mense behoort eintlik te praat van “rinosinusitis” omdat al vier pare sinusholtes in die neus uitloop. Akute sinusinfeksies is dus byna altyd die gevolg van die een of ander neusinfeksie (rinitis), gewoonlik verkoue of griep, wat deur virusse veroorsaak word. Die virus beskadig die slymvliese. Openinge na die sinusholtes in die neus swel toe en die holtes word dan nie goed genoeg belug en gedreineer nie, verduidelik Joyce. Dokters beskou ’n neus- of sinusinfeksie as chronies indien die simptome vir langer as ses weke voortduur. Behandeling Allergieë is van die grootste sondaars, maar dit kan ook veroorsaak word deur anatomiese afwykings (skewe neusseptum), vergrote adenoïede (neusmangels) en selfs ernstige onderliggende siektes, soos tuberkulose, sifilis en sekere swamme. Toegeswelde neusholtes skep die ideale toestand vir ’n sekondêre bakteriële infeksie om vastrapplek te kry. Tipiese simptome is ’n etterige afskeiding en ’n drukkende of kloppende pyn in die kop en gesig. Soms voel mens selfs die pyn in jou wangbene en botande. In gekompliseerde gevalle kan die oogkaste aangetas word en die pasiënt ’n visiesteurnis hê. Joyce sê die rede dat mense ná ’n verkoue dikwels sekondêre infeksies in die longe en middeloor kry, is omdat die keel, longe en middeloorholtes, nes die sinusholtes, met die neus verbind is. Hy sê die eerste linie behandeling van sinusprobleme ná ’n verkoue is pynmedikasie en om die neusafskeidings te steriliseer met byvoorbeeld soutoplossings. Dekongestiewe neussproeie bevat krimpmiddels (fenielefrien en oksimetasolien) en kan met omsigtigheid vir net vyf dae gebruik word omdat dit newe-effekte kan veroorsaak. Wanneer die sinusholtes egter met bakterieë besmet word, moet antibiotika oorweeg word. Om te sny of nie “Chirurgiese behandeling is slegs in uiterste gevalle aangedui nadat mediese behandeling nie suksesvol was nie en komplikasies ontwikkel het,’’ sê Joyce. Dit is wanneer die infeksie buite die sinusholtes versprei na byvoorbeeld die oogkaste en kraniale (skedel-)holte. Dit kan lei tot breinvliesontsteking of ’n breinabses, maar dit is gelukkig relatiewe skaars komplikasies. Hy sê poliepe, wat chirurgies verwyder moet word, is dikwels die eindresultaat van verwaarloosde of chroniese sinusitis of medisyne-intoleransie (byvoorbeeld aspirien). Wanneer iemand chroniese sinusitis het weens ’n onderliggende allergie of obstruksie, stuit antibiotika dikwels nie die bakteriële infeksie behoorlik nie omdat die allergie, wat die sinusopeninge in die neusholtes versper, nie behandel word nie. Sinusoperasies waartydens die holtes endoskopies geopen en die absesse gedreineer word, is om dieselfde rede dikwels onsuksesvol. “Pasiënte ondervind dan tipies slegs korttermynverligting totdat die openinge weer begin stu en poliepe weer vorm, sodat al die simptome herhaal.” Joyce meen iemand met chroniese sinusitis behoort behoorlik ondersoek te word deur ’n oor-neus-keelspesialis om die oorsake vas te stel. Hy sê egter ’n agterneusdrup is nie so abnormaal soos wat sommige mense dink nie, en beteken dus nie noodwendig iemand is allergies vir iets nie. “Sowat 500 ml slym loop elke dag agter in jou keel af om die lug wat jy inasem te bevogtig en te verseker dat dit die longe teen die regte temperatuur bereik. Dit vloei af sonder dat jy weet.” Die vel- en bloedtoetse wat dokters doen om allergieë te identifiseer kan ook nie vir alles toets nie. Joyce glo eerder daaraan om ’n gedetailleerde kliniese ondersoek te doen. Hy vra die pasiënt onder meer uit oor sy eetgewoontes en familiegeskiedenis en ondersoek die neus en sinusse endoskopies in sy kamers. Allergieë, asma en terugvloeiing Chroniese agterneusdrup word dikwels veroorsaak deur suiwelonverdraagsaamheid of allergieë. Binnenshuis is baie mense allergies vir huismiet, stof of dierehare en buite is dit byvoorbeeld stuifmeel van grasse en bome. “Elke tweede ma hou ook vol hul kinders is sensitief vir kleurstowwe in kos, maar net sowat 1% tot 2% van die wêreldbevolking het dié onverdraagsaamheid.” Dis maklik om ’n dieet aan te pas of dalk die kat weg te gee, maar die enigste opsie vir mense met allergieë vir stuifmeel, stof en sade is dikwels om chroniese medisyne in die vorm van ’n neussproei te neem. “Dié neussproeie bevat kortiko-steroïedes, maar nie krimpmiddels nie en is deur 20 jaar se navorsing bewys as uiters veilig as dit teen die regte dosering gebruik word.” Dit is, volgens Joyce, ongelukkig nie iets wat mediese skemas altyd bereid is om te dek uit ’n lid se chroniese voordele nie. “Pasiënte met allergiese rinosinusitis het statisties ’n 50%-kans om ook asma te hê, terwyl 90% van asmalyers allergiese rinosinusitis het.’’ As die sinus- en neusprobleme reg behandel word, verbeter die persoon se longsimptome dikwels, maar volgens Joyce sien die mediese skemas nie altyd dié verband nie. In skaars gevalle word sinusprobleme deur terugvloeiing (reflux) veroorsaak. Dit kan gebeur wanneer probleme met die maagklep veroorsaak dat maagsuur van tyd tot tyd in die slukderm opstoot. Joyce meen egter daar is ’n mate van oordiagnosering van terugvloeiing as oorsaak van sinusitis. Daar word beweer dat tot 70% van die wêreld se bevolking terugvloeiing het, al kla hulle nie van sooibrand nie. Sinusholtes Kitsfeit Tot sowat 40% van die bevolking word die een of ander tyd deur sinusitis geraak. Navorsers in New York meen daar was 'n skerp toename sedert 1990 en hulle vermoed 'n toename in allergieë en besoedeling het iets daarmee te doen.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|