Sorg só vir die aarde én jou gesin
Om eko-vriendelik te wees is lankal reeds mode skryf Liezel Joubert.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Die einde van h-h-h-akkel
Feb 19 2007 10:17:42:300AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Jy kan dit nie beheer nie en dit neem jou lewe oor. Jy vrees dit om te praat en bly dan eerder stil. Hakkel. Dit is 'n monster wat duisende lewens inperk, weerhou daarvan om hul volle potensiaal te bereik. Liezel Joubert het met twee herstellende hakkelaars gesels en uitgevind hoe húlle besig is om weer beheer te neem.

In vergaderings gee jy nie jou insette nie. Jy vermy dit om met jou baas te praat en tydens konfliksituasies kan jy jouself nie verbaal verdedig nie.

Toesprake of aanbiedings was nog altyd vir jou ’n nagmerrie en jy beplan jou lewe só om so min moontlik te praat.

“Frustrasie, depressie en woede. Dís hoe die meeste hakkelaars voel. Stel jou voor dat jy jou hele lewe lank deur ’n vrees het vir sekere woorde en vir situasies waarin jy moet praat. Jy raak bang vir die wêreld en later het jy nie meer ’n selfbeeld nie.”

Aan die woord is mnr. Hein van der Merwe (25), ’n herstellende hakkelaar. Tydens die onderhoud val hy slegs van tyd tot tyd oor sy woorde, maar ’n mens sou nooit kon raai dié man kon in ’n stadium nie eens sy naam sê nie.

Van der Merwe het 12 jaar lank spraakterapie ondergaan, maar steeds het dit slegs van tyd tot tyd sy spraakkwaliteit verbeter.

“Ek het veral erg gehakkel as ek hoë spanning ervaar het, soos wanneer ek met ’n gesagsfiguur moes praat, voor ’n groep mense en selfs met lede van die teenoorgestelde geslag. Op skool het ek mondeling in klas gehaat en kon ek myself nooit verbaal uitdruk nie.”

Ná sy universiteitstudies, waartydens hy ook vier jaar spraakterapie ontvang het, het hy begin werk. ’n Kollega het toe eendag vir hom ’n koerantuitknipsel gebring wat gehandel het oor die McGuire-program.

Dié program is sowat 13 jaar gelede deur die Amerikaner Dave McGuire gevestig en is in 2005 Suid-Afrika toe gebring deur mnr. Chris Meintjies, ook ’n herstellende hakkelaar.

Dié program het al baie suksesstories opgelewer, soos die een van die Britse Pop Idol-sanger Gareth Gates.

“Ek het hom ontmoet by een van McGuire-kursusse in Ierland en ’n mens kan amper nie eens glo hy was ’n hakkelaar nie,” vertel Van der Merwe.

Meintjies (29) het sowat vyf jaar gelede op ’n McGuire-kursus gegaan en deesdae is daar nie eens ’n huiwering in sy stem as hy met jou praat nie.

“Voorheen kon ek nooit in vergaderings of voor mense praat nie. Nou kan ek.”

Hy beskryf die meer as 20 jaar wat hy met hakkel gewroeg het, as ’n op-en-af-stryd. “Daar sou tye wees wat my spraak goed was en ander kere wat ek verskriklik gesukkel het. Jy het geen beheer daaroor nie en weet nie wanneer jy gaan hakkel as jy jou mond oopmaak nie.”

Hy is tans ’n beleggings-bankier en moet op ’n gereelde grondslag met kliënte werk en belangrike oproepe maak.

“Voorheen sou ek glad nie die selfvertroue gehad het om dit te doen nie. As jy nie kan praat nie, belemmer dit jou werk.”

Hy verduidelik die grondslag van die McGuire-program is ’n nuwe asemhalingstegniek en jy leer om deur dié tegniek te praat. “Daar is ook ’n groot sportsielkunde-element aan die program. Ons sien hakkel nie as ’n siekte nie, maar ’n sport. Ons is net mense wat nie goed is met die sport van spraak nie. Daarom rig ons mekaar af en oefen dié sport, totdat ons beter raak daarmee.”

Wat dié program ook verskillend maak van ander, is dat dit nie slegs deur ’n spraakterapeut nie, maar hoofsaaklik deur herstelde en herstellende hakkelaars aangebied word.

“Ons deel dan ook tegnieke met mekaar oor wat werk en wat nie werk nie en ons verstaan waardeur die ander mense gaan.”

Meintjies verduidelik daar is verskillende soorte hakkelaars. “Sommige ‘ttt’ terwyl ander ‘um en aa’. Sommige praat glad nie, want hulle wil nie die woorde sê nie. Die een ding wat hakkel die ergste maak, is dat jy nie wil praat nie en dis ’n sneeubal-effek. Want hoe meer jy nie praat nie, hoe banger raak jy om dit te doen. Met die McGuire-program besluit ons om die bul by die horings te pak.”

En dis presies wat Van der Merwe gedoen het. Hy sien sy hakkel deesdae as ’n dryfkrag.

Nie net het hy al sukses behaal met Toastmasters nie, maar het ook die wêreld gaan verken en werk gedoen waar hy gedwing was om met mense te praat. Sy nuutste uitdaging is om Engels te gaan gee in Taiwan. “Ek beplan om volgende maand te vlieg. Wie weet, dalk leer ek selfs ’n bietjie Chinees.”

Sy persoonlike leuse is “Face your fear and your fear will disappear.”

“Die McGuire-program is nie ’n kitsoplossing vir hakkel nie, daar bestaan nie so iets nie, maar dis die tegniek wat nog die beste vir my gewerk het. Ons poog ook nie om vlot te praat nie, maar elegant.”

Die oomblik waarop hy die trotste is, is toe hy onlangs seremoniemeester was by sy broer se troue.

“Die woorde het soos botter my mond gesmelt, ek het gevlieg! En ek het soveel komplimente van mense gekry wat my geken hakkel het vandat ek kon praat,” vertel hy trots.

“Om te kan praat, help nie net vir jou selfvertroue nie, maar ook vir selfaanvaarding. Geen mens verdien die pyn om chronies te hakkel nie.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |