Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Clinton veg nou om Obama se adjunk te word
Washington. – Sen. Hillary Rodham Clinton het ’n $25 miljoen- besluit om te maak: As sy nou haar veldtog vir die Demokratiese Party-nominasie opgee, kan sen. Barack Obama haar skuld betaal. Politieke ontleders bespiegel egter dat Clinton in die wedloop vir die Withuis bly, ondanks die feit dat dit ’n wonderwerk sal verg om die party se nominasie te wen, slegs om as Obama se visepresidentskandidaat aangewys te word. Clinton verkeer ná Obama se groot oorwinning met 14% in Noord-Carolina en haar skrapse wen met 2% in Indiana onder groot druk om die handdoek in te gooi. Haar veldtog is miljoene in die rooi en die geldkraan droog op, maar sy het Woensdag verklaar sy bly veg “totdat daar ’n nominasie is”. Twee superafgevaardigdes wat uit haar kamp na Obama gedros het, is onder vier nuwe superafgevaardigdes wat hy sedert die wen ingepalm het. Sy het nou net 11 superafgevaardigdes meer as hy. Boonop kort Obama net 177 afgevaardigdes om die wentotaal van 2 025 te bereik. In totaal is hy 155 afgevaardigdes voor (1 848 – 1 693). Vir haar om te wen moet sy 70% van die orige afgevaardigdes in ses verkiesings wen – ’n onmoontlike taak. Die Clinton-kamp het bekend gemaak sy het drie lenings sedert die middel van April aan haar-self gemaak. Die totaal beloop $6,9 miljoen. Saam met die $5 miljoen wat sy haarself in Februarie geleen het en die $10 miljoen tot $15 miljoen se onbetaalde skuld is sy sowat $25 miljoen of meer in die rooi. Mnr. Thomas B. Edsall, politieke redakteur van die HuffingtonPost.com, berig dit is “bykans ’n sekerheid” dat die Obama-veldtog al haar skuld sal aflos as sy besluit om halt te roep. Boonop het senior Demokrate aan hom gesê die kans dat sy ’n top-pos in die senaat aangebied sal word, “sal drasties verbeter as sy nou waardig die aftog blaas”. Die kersie op die koek sluit in ’n verbeterde politieke klimaat wat Bill en Hillary Clinton die kans sal bied om die kloof tussen hulle en die swart gemeenskap te oorbrug. “As sy die verhoog waardig verlaat, soos Al Gore in 2000, sal sy haar politieke kapitaal in die party taamlik vinnig kan herbou en oor tyd sal die meeste van haar oënskynlike en regte sondes vergewe en/of vergete wees,” het mnr. Dan Gerstein, ’n Demokratiese konsultant, aan Edsall gesê. Sowel mnre. Chuck Todd, politieke redakteur van NBC News, as George Stephanopoulos, politieke ontleder van ABC News en gewese perssekretaris van Bill Clinton in die Withuis, het gesê Hillary Clinton bly in die wedloop om Obama se visepresidents-kandidaat te word. Todd het egter gesê daar was ’n tyd dat Obama verplig sou voel om dit vir haar aan te bied, maar hy dink Obama is verby daardie oomblik. Stephanopoulos het gesê Clinton se besluit om haar veldtog voort te sit is “gegrond op die feit dat enigiets kan gebeur en dat elke Demokraat dit verdien om te kan stem.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|