' 'n Kankerpasiënt moet déélneem'
Dr. Ivan Cohen het nie gedink hy gaan lewend wees wanneer sy boek verskyn nie.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Sowat 40 000 op plase werkloos ná Zim se verkiesing
May 08 2008 09:26:12:337PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Alet van Zyl


In die maand ná die Zimbabwiese verkiesing op 29 Maart is nóg sowat 40 000 permanente en seisoenale plaaswerkers se inkomste afgesny deurdat nog minstens 142 kommersiële plase beset is.

Dít is luidens ’n verslag wat gesamentlik deur die Zimbabwiese landbou-en-bosbouwerkersvakbond (Gapwuz) en die Justice for Agriculture-trust (JAG) in Braamfontein, Johannesburg, bekend gestel is.

Die meeste van die werkers wat geraak word, is in die suidelike Masvingo- (10 120) en sentrale Chegutu-distrik (10 500). Die Mashonaland-provinsies, waaronder die Chegutu-distrik net wes van Harare, het die ergste deurgeloop: 95 plase is beset. In die Masvingo-provinsie is 19 plase ingeval.

Die meeste van dié besettings het gebeur tussen 6 en 12 April – sowat ’n week ná die verkiesing.

“Oor die laaste agt jaar het ons ons werke verloor, ons enigste bron van inkomste verloor en is ons lewensaar afgesny. As jy (as plaaswerker) jou werk verloor, verloor jy ook jou huis,” het me. Getrude Hambira, sekretaris-generaal van Gapwuz, namens die plaaswerkers gesê.

Sy het voorts gesê dat Gapwuz tans met die “nuwe boere” onderhandel vir beter lone vir die werkers wat tog nog werk.

Tans verdien dié werkers die ekwivalent van ’n skamele 60c per dag en die boere weier om meer te betaal.

Volgens Hambira reken dié boere dat dit genoeg is om elke dag vir die werkers ’n stuk brood en tee en soms ’n sak meel te gee, maar moet die werkers ook onder meer mediese koste en skoolgeld betaal.

Verder saai ’n groep jong burgermagte in weermaguniforms amok onder plaaswerkers wat hulle sommer self besluit het het vir die opposisieparty (MDC) gestem, het Hambira gesê.

Volgens haar kies dié groepe hul teikens deur na die verkiesingsuitslae te kyk om te sien watter streke teen Zanu-PF gedraai het.

Mnr. John Worsley-Worswick van JAG het beweer dié jongmanne is met AK47-aanvalsgewere gewapen, maar dat hulle nie meer ammunisie het nie.

“Dít wys net weer hóé belangrik daardie skip (met wapens vir Zimbabwe) is,” het Worsley-Worswick gesê.

Hy het net lof gehad vir almal wat tot dusver geweier het om die skip te laat vasmeer en die wapens na Zimbabwe te vervoer.

Verder meen hy dit is tyd dat die lande om Zimbabwe standpunt teen Zanu-PF inneem.

“As die leiers in Suid-Afrika niks gaan doen nie, moet die mense iets doen omtrent dié leiers,” het Worsley-Worswick gesê.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |