Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘Weste moenie oor skouer loer’
Kaapstad. – Die wêreld moet inwoners van Afrika hoog genoeg ag om die uitdagings van Zimbabwe op te los, en dis nie nodig dat die Weste oor Afrika se skouer loer nie. Só het pres. Thabo Mbeki gister in ’n halfuur lange onderhoud op die Arabiese nuuskanaal Aljazeera gesê. Hy is tydens die onderhoud verskeie kere oor Zimbabwe gepols, asook oor Suid-Afrikaanse kwessies soos versoening, die welvaartgaping en die kragkrisis. Op die vraag of stille diplomasie misluk het, het Mbeki geïrriteerd geantwoord dat alle diplomasie stille diplomasie is. “Ek gaan nie deur die media onderhandel nie. As diplomasie nie stil is nie, is dit nie meer diplomasie nie,” het Mbeki gesê. Hy wou niks uitlap oor sy bemiddelingsrol in Zimbabwe nie, en het gesê die rol van die bemiddelaar is om die strydende partye se standpunte aan mekaar oor te dra; nie om kant te kies nie. “Net soos met Suid-Afrika se onderhandelingsproses die geval was, moet die oplossing van binne Zimbabwe kom. “Dit kan nie van buite afgedwing word nie. Dit moet die wil van Zimbabwe verteenwoordig, soos die pas afgelope verkiesing gedoen het.” Die president het benadruk dat, hoewel daar ’n dispuut oor die presidentsverkiesing is, die parlementêre en munisipale verkiesings goed afgeloop het. “Die wêreld moet Zimbabwe nou ruimte gee. As enigiemand, ook Suid-Afrika, nou vir Zimbabwe wil voorskryf, sal Zimbabwe se mense sê: Wie is julle?” Op ’n vraag of die VSA en Brittanje se kritiek op die Mugabe-regime geregverdig is, het Mbeki gesê dit sal beter wees as almal dieselfde deuntjie sing, naamlik om die Zimbabwiërs kans te gee om die kwessies op te los. Oor wêreldwye hulp met die proses was Mbeki uitgesproke. “Ek is ’n Afrikaan. Die Afrika-Unie, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en andere het waarnemers na die verkiesing gestuur. “As Afrikane is ons by magte om behoorlik te moniteer en bestek op te neem. Afrikane kan die kwessie oplos. Ons het nie hulp van andere nodig nie. Mense moet Afrikane se vermoë om kwessies op te los, respekteer.” Mbeki het daarop gewys dat waarnemers van Rusland, die Karibiese eilande, Asië en Latyns-Amerika ook die kiesproses gemonitor het. “Hierdie mense is nie onbeholpe of oneerlik nie. Daar blyk ’n mening te wees dat ons as Afrikane nie opgewasse is vir die taak nie,” het hy gesê. Oor versoening in Suid-Afrika het hy gesê gegewe die verlede, en die algemene verwagting van ’n rasoorlog, gaan dit beter as verwag. Lewensgehalte het volgens hom verbeter vergeleke met die verlede. Op ’n vraag oor die welvaartgaping het Mbeki dit oombliklik in rasterme geskets as dat die nalatenskap van 350 jaar se kolonialisme en apartheid nie vinnig ongedaan gemaak kan word nie. Oor misdaad het hy gesê sowel wetstoepassing as maatskaplike opheffing is nodig. Hy meen grondhervorming moet versnel en nasorg aan nuut ontluikende boere moet verbeter word.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|