Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Meisie hang haar ná ‘seun’ haar op internet afsê
Washington. – ’n Ma wat haar op die internet as ’n 16-jarige seun voorgedoen en ’n skynromanse met ’n 13-jarige meisie aangeknoop het, gaan aangekla word nadat die meisie selfmoord gepleeg het. Me. Lori Drew (49) van die deelstaat Missouri is vandeesweek amptelik in ’n federale klagstaat uitgewys nadat sy haar in wat as ’n internetbedrogspul beskou word, op die MySpace-webtuiste as ’n 16-jarige seun voorgedoen het. Die meisie, Megan Meier, het haarself in haar kamer opgehang nadat die liefde wat sy aanlyn ontmoet het, haar skielik gelos het. Luidens die klagstaat het haar “geliefde” aan haar geskryf “die wêreld sal ’n beter plek wees sonder haar”. Drew kon tot 20 jaar tronkstraf kry as sy skuldig bevind word op die aanklagte van sameswering en toegang tot beskermde rekenaars met die doel om inligting te bekom om iemand emosionele leed aan te doen, berig CNN. Die klagstaat, wat in ’n hof in Los Angeles, Kalifornië, ingedien is, lui dat Drew en ander – insluitend glo ’n tienermeisie – op MySpace geregistreer het as “Josh Evans” en ’n romanse aanlyn met Megan aangeknoop het. Die owerhede het vroeër verklaar Drew het die profiel geskep om te probeer uitvind wat Megan oor haar dogter verkondig. Hulle voer aan Drew het MySpace se reëls oortree deur vals inligting te gebruik om ’n rekening te begin om Megan “lastig te val, die teister of te skaad”. Drew en die ander het sowat vier weke lank met Megan gekorrespondeer voordat die verhouding verbreek is. Sy het haarself ’n uur later opgehang en is die volgende dag dood. Drew het klaarblyklik nie self die laaste boodskap gestuur wat gelui het die wêreld sal ’n beter plek wees sonder Megan nie, maar luidens die klagstaat het sy die MySpace-profiel geskrap en aan kinders opdrag gegee om stil te bly daaroor nadat sy van Megan se selfmoord gehoor het. Me. Tina Meier het gesê haar dogter het met ’n swak selfbeeld gesukkel en toe “Josh” aan haar geskryf het sy is mooi, was sy in die wolke. Toe die verhouding verbreek is, was sy platgeslaan. Ná ’n uitval oor Megan nie afgemeld het van die rekenaar nie, het sy haar dogter gekry waar sy aan ’n lyfband gehang het. “Dit is asof my dogter haar met ’n vuurwapen doodgeskiet het. En dit is asof hulle die vuurwapen vir haar gelaai het,’’ het haar pa, Ron, gesê. Adv. Thomas P. O’Brien van die prokureur-generaal se kantoor voer in sy verklaring aan: “Hierdie volwasse vrou (Drew) het na bewering die internet gebruik om ’n minderjarige meisie te teiken – met skrikwekkende gevolge. “Enige volwassene wat die internet of ’n sosiale aanlynforum soos MySpace gebruik om ’n ander persoon te boelie of te teister, veral ’n jong tienermeisie, moet besef hul dade kan ernstige gevolge hê.” Drew moet in Junie in die hof verskyn.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|