Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
G8 verwerp ‘Mugabe-klug’
Pres. Robert Mugabe se besluit om, ten spyte van hewige internasionale druk daarteen, voort te gaan met gister se verkiesing gaan vir hom en sy land verdere verwerping én internasionale sanksies beteken. Een van die eerste stappe gister teen Zimbabwe was toe die Duitse regering die maatskappy in München wat Zimbabwe se papiergeld druk, gevra het om daarmee te staak “omdat dit die Mugabe-bewind aan die gang hou. Dis onaanvaarbaar,” het ’n woordvoerder van die Duitse minister van ontwikkeling gesê. Daar is duidelik aanduidings dat die voorste Westerse lande en Rusland van rat verwissel het in hul tot dusver redelik versigtige houding teenoor Zimbabwe. Die ministers van buitelandse sake van die G8-lande het gister in Kioto, Japan, amptelik verklaar dat hulle die uitslag van die eerste Zimbabwiese verkiesing van 29 Maart onderskryf. Daarmee het die G8 gister Mugabe se waarskynlike herverkiesing tot president onomwonde as ’n klug verwerp. Die verkiesing van 29 Maart, wat die leier van die beweging van demokratiese verandering (MDC) met 47,9% van die stemme teenoor Mugabe se 43,2% gewen het, word nou deur die VSA, Brittanje, Rusland, Japan, Duitsland, Frankryk, Kanada, Italië en die Europese Unie as die enigste wettige uitslag aanvaar. In reaksie op berigte dat die G8-groep van nywerheidslande vir skerper sanksies teen Zimbabwe vra en weier om vandag se uitslae te erken, het mnr. Simon Moyo, Zimbabwe se ambassadeur in Suid-Afrika, gesê: “Dit is hulle (die G8 se) saak. Zimbabwe is nie ’n lid van die G8 nie.” Dr. Condoleezza Rice, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het aan die einde van die G8-beraad gesê die volgende stap is om die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies byeen te roep “vir verdere stappe teen Zimbabwe”. Die veiligheidsraadsitting, onder die VSA se voorsitterskap, word vir Maandag in New York beplan. Mnr. Frank-Walter Steinmeier, Duitsland se minister van buitelandse sake, het gesê sanksies teen die Mugabe-bewind sal beslis op die tafel wees. Mnr. David Miliband, sy Britse ampsgenoot, het gesê die wêreld kan die “wreedheid van die Mugabe-regering” nie langer verduur nie. Vyf van die G8-lande – die VSA, Brittanje, Rusland, Frankryk en Italië – is lede van die veiligheidsraad. Rusland se ondersteuning van die G8-standpunt oor Zimbabwe is veelseggend aangesien dié land, een van permanente lede van die veiligheidsraad, dusver traag was om optrede teen Zimbabwe te steun. Die G8 het toestande in Zimbabwe skerp gekritiseer. “Ons veroordeel die optrede van die Zimbabwiese regering – die stelselmatige geweld, die belemmering en intimidasie van kiesers – wat ’n vry en regverdige verkiesing onmoontlik gemaak het. “Ons doen ’n ernstige beroep op die regering om met die opposisie saam te werk ten einde ’n vinnige en vreedsame oplossing van die krisis te vind. Dit moet gedoen word in ooreenstemming met die demokratiese wil van die mense van Zimbabwe. “In die lig daarvan moet die uitslae van die verkiesing op 29 Maart eerbiedig word. Enige dialoog moet gevoer word met die oog op die daarstelling van ’n wettige regering (ingevolge die 29 Maart-uitslag). “Ons sal nie die wettigheid van enige regering aanvaar wat nie die wil van die mense (van 29 Maart) weerspieël nie,” lui die G8-verklaring. Die Europese Unie het in ’n verklaring in Brussel gesê die EU sal nie die uitslag van die klugverkiesing aanvaar nie. Die verkiesing self is “ongeldig, hol en betekenisloos”, het ’n woordvoerder gesê.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|