Nuwe matriek-foto's
Baie nuwe matriek-foto's is gepubliseer. Gaan kyk daarna. Stuur jou foto vir die JIP/Glitz-kompetisie na jip@beeld.com.
Beeld
Ons rugbyskrywers blog!
Lees Morris Gilbert se Blou Bul, Liam Del Carme se BoHaai, Hennie Brandt se Uit die Leeukuil en Gert van der Westhuizen se Langs die kantlyn.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Zim op 'n nuwe pad
Jul 21 2008 09:48:40:963PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe (links) skud blad met die MDC-leier, mnr. Morgan Tsvangirai, ná die historiese ondertekening van 'n ooreenkoms wat die weg baan vir gesprekke oor 'n regering van nasionale eenheid vir dié geweldsgesteisterde land. Foto: Reuters
Verwante Berigte
  • Die volledige memorandum van verstandhouding
  • Hul moet dié sake in 2 weke uitpluis
  • Hoofartikel: Deurbraak
  • Lig aan einde van 'n tonnel
  • Zim: Die begin van 'n begin?
  • André le Roux
    Media24-Afrika-kantoor

    Die strydende partye in Zimbabwe het twee weke om ooreen te kom oor die samestelling van ’n regering van nasionale eenheid vir dié land.

    Dít is danksy ’n memorandum van verstandhouding (MV) wat gister in Harare deur pres. Robert Mugabe en die opposisieleiers mnre. Morgan Tsvangirai en Arthur Mutambara onderteken is en wat die land op ’n nuwe pad kan plaas.

    Die onderhandelings skep hoop vir ’n nuwe era in Zimbabwe deurdat onder meer die land se grondwet herskryf kan word.

    Die gesprekke sal waarskynlik in Pretoria plaasvind en kan selfs môre al begin. Die presiese plek moet ingevolge die ooreenkoms nog bepaal word.

    Die doelwit is om ’n finale ooreenkoms te bereik vóórdat die spitsberaad van leiers van die Suider-Afrikaanse ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) op 16 en 17 Augustus in Johannesburg gehou word. Pres. Thabo Mbeki neem op dié datum die roterende voorsitterskap van die SAOG oor by Zambië se pres. Levy Mwanawasa.

    Sukses vir Mbeki as hoofbemiddelaar voor dié spitsberaad sal vir Mbeki en Suid-Afrika van die grootste belang wees.

    Mugabe, namens Zanu-PF, en Tsvangirai en Mutambara as leiers van die twee faksies van die beweging vir demokratiese verandering (MDC), het hulle met gister se ondertekening verbind om binne twee weke ’n einde aan die politieke krisis in Zimbabwe te maak.

    Die drie Zimbabwiese leiers het ook formeel die agenda en die reëls vir die onderhandelings in die teenwoordigheid van Mbeki goedge- keur.

    Die drie partye sal nou ook elk slegs twee verteenwoordigers in hul onderhandelingspanne aanwys. Die hoofstroom-MDC sal deur mnr. Tendai Biti, die sekretaris-generaal van die party, gelei word.

    Mutambara sal sy eie faksie lei, maar dis onduidelik wie Zanu-PF sal verteenwoordig. Tans is mnr. Patrick Chinamasa, minister van justisie, Mugabe se hoofonderhandelaar.

    Die “funksionele onderhandelings” sal waarskynlik plaasvind onder die voorsitterskap van mnr. Sydney Mufamadi, die Suid-Afrikaanse minister van plaaslike regering. Die hoofrolspelers – Mugabe, Tsvangirai en Mbeki – sal “van tyd tot tyd self betrokke wees, veral wanneer ’n skikking op hande is,” is aan Beeld gesê.

    Mbeki en Mufamadi word ook bygestaan deur die “verwysingspan” bestaande uit mnr. Jean Ping, voorsitter van die Afrika Unie (AU)- kommissie, en mnr. Heile Menkerios, spesiale gesant van die Verenigde Nasies in Harare, asook die politieke en veiligheidskomitee van die SAOG, tans onder die voorsitterskap van pres. Eduardo dos Santos van Angola. Mugabe, Tsvangirai en Mutambara sal regstreekse toegang tot hulle hê.

    Die verwysingspan sal self senior amptenare aanwys om op grondvlak beskikbaar te wees sou haakplekke opduik. Die basis van die span VN-, AU- en SAOG-amptenare sal vir die duur van die onderhandelings in Pretoria wees.

    Die MV het vier hoof-agendapunte (sien hiernaas) en sluit verskeie reëls in vir die samesprekings, waaronder dat besluite deur konsensus geneem sal word en dat daar nie met die media gekommunikeer word vir die duur van die samesprekings nie.

    “Ons sit hier sodat ons ’n nuwe weg kan vind, ’n weg na nuwe politieke interaksie,” het Mugabe volgens Sapa-DPA in ’n onkenmerkende toon van versoening gesê kort nadat hy Tsvangirai vir die eerste keer in ’n dekade van aangesig tot aangesig ontmoet het.

    Mugabe het onder gelag van verslaggewers Mbeki geprys vir sy “positiewe onsensitiwiteit vir kritiek” oor sy bemiddelingsrol, en gesê sulke kritiek is “misplaas, oningelig en onverdiend”.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

    vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |