Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Monnas skraap deur na eindronde
Die Hoërskool Monument se eerste rugbyspan het verlede Saterdag naelskraap gewen teen die HTS Middelburg in die halfeindstryd van die NuPower Tuks-reeks. Die wedstryd het goed begin vir Monnas toe hulle vleuel Jaco Taute sommer vroeg al agter die doellyn besoek afgelê het en Christo Potgieter twee punte bygevoeg het. Nadat Monnas ’n drie aan Middelburg afgestaan het, het hulle voortgegaan met hulle meedoënlose aanslag op Middelburg se doellyn. Monnas se kaptein, Whestley Moolman, was weer prominent met sy kenmerkende breekslae om net kort voor die doellyn die bal aan sy spanmaat Charl Jooste uit te gee en nog sewe punte aan te teken. Die flank Jimmy Hughes het kort voor lemoentyd met ’n afgeronde dryfbeweging nóg ’n drie aangeteken en Christo het die drie verdoel. Teen halftyd was Monnas met 21-8 voor. Met die aanbreek van die tweede helfte het Monnas egter hulle rieme styfgeloop. “Ons het net verdedigende rugby gespeel en nie genoeg aangeval nie,” het Whestley gesê. Die vleuel van Middelburg Jacques Badenhorst het kort ná die afskop agter Monnas se doellyn gaan druk. Middelburg se losskakel, Neil Janse van Rensburg, het met twee strafdoele geslaag, wat hulle twee punte van Monnas se telling af gebring het. ’n Minuut voor die eindfluitjie geblaas het, het Middelburg ’n strafskop gekry wat hulle met een punt kon laat wen het, maar die skop het regs verby die pale getrek en hulle het met 19-21 verloor. Die Hoërskool Dr. EG Jansen sal hierdie Saterdag met Monnas kragte meet vir die eerste en tweede plek in die eindstryd van die NuPower Tuks- reeks. Die wedstryd vind op die LC de Villiers-stadion by Tukkies plaas. Whestley sê: “Ons is almal baie opgewonde en sien uit na Saterdag se eindstryd.”
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|