Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
Ruim gids tot SA natuurlewe
THE WILDLIFE OF SOUTHERN AFRICA Vincent Carruthers (redakteur) Struik Uitgewers, R199,95 Resensent: Jaybee Roux - Skrywer en boekeliefhebber OM ’n staptog deur die natuur aan te pak is die heel beste manier om ’n naweek of ’n paar vakansiedae om te kry. Is daar nie juis volgende week ’n paar heerlike vakansiedae aan die kom nie? Dis wonderlik, veral as jy bevoorreg genoeg is om aan die suidpunt van Afrika te woon. Enige Eskimo of Europeër sal jou sê dis malligheid om op ’n mooiweersdag voor die televisie te sit of in ’n winkelsentrum rond te slenter. Ons het so bederf geraak met sonskyn dat ons verleer het om die beste daarvan te maak. En swerms toeriste lê elke jaar duisende kilometers af om ons beroemde natuurskoon te beleef. Daar is ontelbare staproetes en stapklubs oor die lengte en breedte van die land. ’n Staptog in die Laeveld is, byvoorbeeld, ’n unieke ervaring in vergelyking met ’n fynbosroete in die Suid-Kaap. Die Karoo, Kalahari en Wildekus het min in gemeen en elkeen het sy eie skoonheid. In die meeste wêrelddele sal toeriste met visas en paspoorte moet sukkel om ’n paar keer ná mekaar in die natuur te gaan stap en elke keer ’n heel nuwe biodiversiteit te ervaar. Staptogte is goedkoop en boonop goeie oefening; en dis besonder opvoedkundig, veral vir kinders. Om een of ander vorm van wildlewe in ’n boek, op televisie of selfs in ’n dieretuin te sien, is nie dieselfde as om ’n voël, dier of seldsame plantsoort in hul natuurlike habitat aan te tref nie. Maar hoe gemaak as Boet of Sus opgewonde raak oor ’n diertjie wat vlak voor hul voete wegskarrel of ’n voëltjie wat bo hul koppe verbyswiep, en by ’n (soms onkundige) Ma of Pa wil weet wat die voëltjie of dier of ’n gogga se naam is? Die antwoord lê natuurlik in veldgidse: ’n goeie, geïllustreerde gids oor die voëllewe aan die subkontinent, nog een oor soogdiere, een oor insekte en ’n ander oor ongewerweldes. En natuurlik ook een oor inheemse boomsoorte en varswatervisse, veldblomme en reptiele. Maar ’n rak vol veldgidse kan ’n aardige bedraggie kos. En om ’n stapel boeke in ’n rugsak te moet saamdra, sal selfs die ywerigste stapper se pret bederf. Die alleroplossing is The Wildlife of Southern Africa, ’n pragtige volkleurboek wat vanjaar deur Struik uitgereik is. Dié boek is ’n bygewerkte heruitgawe en verskyn in groter formaat as sy voorganger, maar sal steeds maklik in ’n rugsak pas en weeg nie veel meer as ’n blikkie boeliebief of ’n waterbottel nie. The Wildlife of Southern Africa se groot voordeel is sy volledigheid: daar is afdelings vir laer ongewerweldes; die spinnekopfamilie; insekte; varswatervisse; paddas; reptiele; voëls; soogdiere; grasse, biesies, varings en swamme; veldblomme en bome. Elke afdeling is behartig deur ’n kenner op die gebied. Meer as 2 000 plant- en diersoorte word genoem en daar is meer as 1 200 illustrasies. Hierdie gids is verder voorsien van kleurkaarte wat byvoorbeeld die subkontinent se reënval, topografie en spesie-verspreiding aandui. Kleurkodes maak dit maklik om ’n spesifieke dier- of plantsoort na te slaan. Natuurlik is hierdie boek nie net vir staptogte bedoel nie: dis ’n moet vir elke huishouding. Hoe dikwels gebeur dit nie dat daar ’n onbekende voëlsoort op die vensterbank kom sit, of dat ’n vreemde padda of spinnekop sy opwagting in die tuin maak? Met dié boek in die hand word selfs ’n wandeling deur die tuin of die naaste speelparkie ’n ontdekkingstog.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|