Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
Natuurroman oortuig nie
ONS EN DIE MAAN M.C. Botha Protea Boekhuis, R150 Pieter Schuurman - Vryskutresensent, boekwinkel assistent, student M.C. BOTHA is die skrywer van ses kortverhaalbundels, ’n drama, die reisboek Zambezi en die romans Sluvoet en Die Arend. Hy is die redakteur van die Hermanus Times en het onlangs sy natuurroman Ons en die Maan uitgereik nadat hy tien jaar daaraan gewerk het. Pa en seun, Cornelius en Blackie Swart, gaan op reis deur Bo-tswana. Cornelius is ’n amptenaar wat werk in die President se kantoor en Blackie werk by die poskantoor op Beaufort-Wes. Die Swarts ontmoet mekaar op Jan Smuts-lughawe (vandag die O.R. Tambo-lughawe) en vlieg van daar na Botswana. Op die lughawe ontvang Cornelius ’n liefdevolle waarskuwing van sy vrou om vanweë sy swak gesondheid, matigheid voor oë te hou. Mev. Swart sweer ook vir Blackie die dood voor die oë as hy toelaat dat sy pa buite sy daaglikse medikasie-roetine tree. Vir Blackie is dit ’n openbaring en ontnugtering as sy pa saans ’n reeks pille moet drink. In Gaborone, die enigste lughawe in Botswana waar ’n Boeing veilig kan land, neem hulle kleiner vlugte saam met private vlieëniers tot by hul eerste basiskamp, Nqoga. Soos wat hulle toer, word die beeldskone natuur en wild in fyn nuanses beskryf. Hulle ontmoet in elke nuwe kamp hordes interessante mense, onder andere wildbewaarders, ornitoloë, drie Amerikaners (genaamd Tom, Dick en Harry). Ook ’n Hongaar genaamd Istvann, wat vroeër jare ’n bekroonde kok in Pretoria was. Maar weens skinderverhale het hy spoorloos saam met sy pragtige, Skandinawiese vrou, Eeva, verdwyn. Elkeen van die onderskeie mense wat oor die Swarts se reispad kom, het unieke en somtyds interessante verhale oor Botswana en sy wild. Noue ontkominge met roofdiere, politiek, evolusie en die Christendom word ook aangeraak. Cornelius is nie lief om oor politiek te gesels nie. Die rede hiervoor is dat sy oudste seun, Cor, deel van ’n opstandige kommunistiese beweging was gedurende die apartheidsregime. Cor het later land-uit gevlug en kontak skaars sy ouers. Die rustige natuur-ervaringe blyk wel vir Cornelius spiritueel te wees. Die verhaal eindig by ’n deftige oord naby die Victoria-waterval waar pa en seun oor die hoogtepunte van hul reis lag en gesels. Die tyd waarin die boek afspeel, is so jaar of wat voor die 1994-verkiesing. Dit word afgelei uit Cornelius se opmerking dat hy geen twyfel het dat Mandela die volgende president gaan wees nie, asook uit die verwysings na ou plekname, soos byvoorbeeld Jan Smuts-lughawe. Dit kom voor asof Botha spekuleer oor die toekoms van die nuwe Suid-Afrika wat nou reeds verlede is. Op ’n manier ontneem dit die boek van sy tydloosheid. Botha se taal is beskrywend en hy volg ’n impressionistiese styl wat emosioneel nie altyd hierdie kuns reg aandoen nie. Maar hy maak die leser tog nostalgies deur wildtuin-herinneringe met intieme en sintuiglike natuurbeskrywinge. Ongelukkig is bogenoemde nie die enigste faset wat ’n boek goed maak nie. Die boek kom soms sleurend en op gedrae trant oor. Soms vind mens dat jou gedagtes eerder na jou eie wildtuin-herinneringe neig as om die verhaal te volg. ’n Verwarrende element is die talle karakters wat deur die storie kom en gaan. Die boek bestaan uit 40 kort hoofstukke waarin daar omtrent in elke derde hoofstuk totaal nuwe karakters op die toneel verskyn en die oues dan net verdwyn. Die enigste twee konstante karakters is darem die hoofkarakters, Blackie en Cornelius. Teen omtrent hoofstuk 30 het Cornelius en Blackie vir my bietjie minder as vreemdelinge begin voel. Vir my voel dit of die boek met ’n oordosis gefragmenteerde temas en storielyne eindig sonder dat dit alles heeltemal voltooi word. ’n Onsmaaklike faktor is die talle, ’n stuk of 13, beskrywings van diere se paargewoontes en ’n bobbejaanwyfie wat haar maandstonde het. Daardeur probeer Botha ’n analogie tussen Blackie se dierlike drange en die natuur trek. Dit dra, volgens my, op geen konstruktiewe wyse tot die verhaal by nie. Die anatomie van elke hoofstuk is letterlik ’n beskrywing van die nuwe kamp, halwe ontmoetinge met die nuwe karakters, diere se paargewoontes, die bespreking van die paargewoontes deur deskundiges (soos besopenes om ’n vuur daaroor gesels), gevolg deur ’n bietjie politiek, evolusie en hier en daar iets oor geloof. Dit gebeur voordat Blackie se gedagtes na die vrouegeslag dwaal en hy en sy pa gaan slaap. En dit alles in die afloop van sewe na agt bladsye! Die boek was ’n teleurstellende kennismaking met die outeur se werk, maar Botha bied tog ’n spirituele element vir die natuurliefhebber wat nie op soek na ’n storie is nie, maar na ’n hunkerende ontsnapping van die werklikheid.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|