Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Van vandag af kan Volksblad-lesers hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Mense in ouer VSA-buurte is maerder, wys studie
Mense in Amerika wat in ou woonbuurte woon, is minder geneig om vet te word.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           2-20°C

Voorspellings

Sintuiglike vertalings uit Franse poësie
Apr 29 2008 11:56:53:167AM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

INVITATION TO A VOYAGE

Stephen Gray (redakteur)

Protea Boekhuis, R140

Resensent: Prof. Joan Hambidge ? Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk, UK; digter en romansier

Hiedie versameling wil die Suid-Afrikaanse leser bekend stel aan die Franse poësie van die Indiese Oseaan se Afrika-eilande. Plekke soos Mauritius, Madagascar, Réunion, die Seychelle, die Comore en Mayotte kom dus hier aan die bod.

Stephen Gray is self digter en het gebruik gemaak van die hulp van Carole Beckett om die teks te versorg. In vertalings is dit altyd goed as daar so ’n dubbelloop-aksie plaasvind: ’n digter en konsultant; of twee digters wat beloer en bekyk. Min digters is in elk geval so behendig en vlot as Uys Krige wat Afrikaans verruim het met sy skitterende Portugese en Spaanse vertalings.

Wil Nicol Stassen van Protea Boekhuis nie asseblief M.M. Walters se Spaanse dans aan die vergetelheid ontruk nie? Daardie lelike ou geel Perskor-boekie met die pragverse in van Neruda en ander voortreflike digters.

Protea was weer eens hier bereid om ’n vertaling uit te gee soos in die geval van H.J. Pieterse se vertaling van Rilke se Duino-elegieë. Die Franse Instituut van Suid-Afrika het eweneens ’n bydrae gelewer.

Gray plaas ook Roy Campbell se vertaling van Baudelaire en Wilma Stockenström se weergawe van Flavien Ranaivo.

Daar is ’n kaart sodat die leser sigself kan oriënteer en die samesteller verskaf foto’s wat die gedigte verder konkretiseer.

Die titel is natuurlik afgelei van Baudelaire. Daar is die bekende Aan ’n Kreoolse dame wat in 1973 in Rapport verskyn het en deur Gray en Stockenström vertaal is. Die pragvers waar die Kreoolse dame ’n versinnebeelding word vir die kreatiewe prosesse gekoppel aan die besoek van hierdie lande, vertel hoe daar ’n duisend sonnette sou kon ontkiem in die harte van digters (bl. 10).

Joan Neethling het weer op haar beurt probeer om die beroemde Die albatros te vertaal. Dit is oorspronklik in 1975 in Rapport gepubliseer.

Die tweede deel van die boek is geïndekseer met foto’s en verduidelikende tekste. Daar is digters uit Réunion (soos Dayot en Parny), Mauritius (soos Maunick en Carl de Souza), Madagaskar (Flavien Ranaivo, Allain onder meer), die Seychelle (’n tradisionele vers en gedigte van Antoine Abel), die Comore (Salim, Salim Hatubou en andere) en Mayotte.

Uiteraard word die leser deurgaans gekonfronteer met gedigte geskryf in ’n tussentaal: Verse wat huiwer tussen die hartstaal en vertaling deur ’n ander persoon. Wat gaan verlore, maar wat word gewen?

Robert Frost meen dat dit wat in ’n vertaling “verlore” gaan, die eintlike gedig is. Maar sonder vertalings kan geen letterkundige leser bestaan nie. Ons is dus in die hande van die kundige vertaler wat ons soos ’n buikspreker wat namens iemand praat, bekend stel, inlig of vertel.

Met hierdie bundel sou ’n mens na die eilande kan reis en iets kan opteken van die leefwyse aldaar.

Wat ’n frustrasie was dit nie vir hierdie reisiger om geen poësie van Mosambiek te ken nie. Daarom het ek waarskynlik sommer self ’n gedig gekomponeer, Lykdig in die trope, (in Lykdigte) om iets van die huidige bestaansdilemma op te vang.

Vir my is ’n besonderse vers Malay Pantoum (bl. 28), ’n skitterende spel met hierdie nogal moeilike vorm. Dis ’n gedig van Charles René Marie Leconte de Lisle. Ook sy Palanquin is hartgrypend mooi. Hierdie gedig is in 1845 geskryf.

Dan is daar die Love Song van Ranaivo – vertaal deur Stockenström en Gray – en hierdie leser hóór Wilma voordra! A, kyk hoe knap is hierdie vers getransporteer!

Die geliefde is ’n troue gesel: soos ’n kalbas. As dit heel is, ’n skepding vir water. Stukkend: bruggies vir my kitaar! (bl. 104).

Vele van die gedigte wil voorgedra wees. Jy moet dit nie net lees nie, maar hóór. Soms is ’n vertaling hortend, soos Joan Neethling se Die Vrou, Die Man (bl. 47). Of wil die gedig juis die dilemma van die vrou verteenwoordig wat vasgevang is in ’n onmoontlike situasie? ’n Vrou wat nie kan werk vind nie en hierom moet sy by die man bly . . .

Mea Culpa skeer die gek met die Rooms-Katolieke boetedoening (bl. 64), en daar’s ’n gedig van Clifford Ng Kwet Chan, wat in ander verse sterk sosiale kommentaar lewer.

By ander digters is daar woorde wat sing en dans (bl. 57). Van hierdie gedigte het in Contrast en Staffrider ’n publikasie-ruimte gevind, wat opnuut bewys hoé belangrik letterkundige tydskrifte as tydsdokumente is.

En waarom ’n intense belangstelling in hierdie letterkunde? Gray verklap dit in die voorwoord: Die goewernante, Nesta Williams het van ’n stoomboot op Mauritius afgeklim en vir hulle as kinders die wonderbaarlikste stories vertel.

Maar om haar te verstaan, moes hulle haar taal leer ken en hier weet ons hoe die digkuns gekoppel is aan die taal van die moeder.

Die samesteller werp ook lig op die haglike publikasie-toestande (veral in Madagaskar) en die hele postkoloniale debat word aangeraak deur veral Fanon. Begrippe soos negridute, migritude word eweneens behandel.

Gray het belangrike bewaringswerk gedoen vir die leser met ’n belangstelling in die digkuns.

Agter hom staan kundige medewerkers en natuurlik die digkuns. En Gray betrek Irma Stern, Batiss en Alexis Preller.

Hy verwys eweneens na Elsa Joubert se reisbeskrywing, Suid van die wind. Hier is dus ’n koloniale en postkoloniale blik met gedigte, prosa, verklarende tekste en reisbeskrywings.

“Bemin my soos ’n lieflike droom’’ sou die gepaste titel vir hierdie bloemlesing wees.

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer