Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Van vandag af kan Volksblad-lesers hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Hansie-fliek se eerste vertoning in Bfn
Die eerste van twee SA premières van die rolprent, Hansie, gegrond op die lewe van die oorlede SA krieketkaptein, Hansie Cronjé, gaan in Bloemfontein vertoon word.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           -1-13°C

Voorspellings

Etienne léés die lewe
May 05 2008 03:12:29:370PM  - (SA)  
DANILA LIEBENBERG



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Gegewe dat Van Heerden hom midde-in Bloemfontein bevind het vir die Boeke-Insig- tafel, moes die eerste vraag darem wees wat hy regtig van Bloemfontein dink...

Die stad ruik vir my lekker vroeg soggens as mens wakker word. Daar is iets helders aan die winter wanneer jy uitstap buitentoe. Ek hou van die kliptekstuur van die ou geboue en ek het al in ’n gastehuis in ’n straat met pragtige ou huise en massiewe bome gebly; teen ’n koppie. In die oorlogsmuseum se besoekersboek het ek destyds iets geskryf oor mans en oorloë, en is agterna deur ’n kwaai omie tot by my motor agtervolg. Bloemfontein ruik ook, in my herinnering, na duimgooiende dienspligtiges. En ek onthou die krake in die mure van Naln.

Jou studeerkamer is ’n navorsingsentrum van “fetisjobjekte” soos daar in die Lente 2007-uitgawe van Boeke-Insig staan. Daarin word vertel van die vierkantige vergrootglas op jou boekrak wat die “kristalglas” in Asbes?middag genoem word. Eens het dit glo aan jou ma se vriendin, tant Leen Schoeman, wat in Hennie Aucamp se Bly te kenne figureer, behoort. Daar is selfs ’n fiets wat in jou studeerkamer staan waarmee die karakter, Christian Lemmer, teen Stellenboschberg uitgeswoeg het in jou boek In stede van die liefde. Ook is daar die skedel, uitgekook uit die kop van “Die Dier”, wat in Kikoejoe diens doen. Watter “fetisobjek” figureer in Dertig nagte in Amsterdam wat in Oktober verskyn?

Die Napeleonborde... Maar dis al wat ek nou eers daaroor sê.

Waaroor handel Dertig nagte in Amsterdam?

Dis ’n roman waarin ek my weer laat verlei het deur storie. Asbesmiddag noem ek graag my “thought pause”. Dit is ’n baie ingedagte roman. Dis ’n teks wat sigself verset teen die ontvlugting van storie – telkens word die vloei van die verhaal onderbreek deur die hoofkarakter se gedagtes. Dit hoort by daardie boek. Dis so beplan. Maar nou wou ek weer soos die wind laat waai. En ek het Dertig nagte in Amsterdam met vlerke aan my voete geskryf. Dit het begin tydens twee verblywe in Amsterdam verlede jaar; een in Junie en een in Augustus. In Junie het die verhaal al aan my begin pluk-pluk, maar in Augustus het dit my oorrompel en binne ses maande was hy klaar. Ek hoop maar lesers gaan die storie ook so uitasem uitlees soos wat ek dit uit my uitgeskryf het!

Hoe hanteer jy terugslae in die lewe, soos blindheid in een oog en ’n viervoudige hartomleiding?

Geen lewe word ongeskonde gelei nie. Niemand word sonder letsel begrawe nie. Die twee dinge wat jy noem, is kleiner terugslae in vergelyking met ander dinge waardeur ek moes beur. Maar ek glo ’n mens buk in teen die wind. The dogs may bark but the caravan moves on. En as ek om my kyk na mense van my ouderdom, dan het relatief min ongeskonde deurgekom. Is die lewe nie maar bedoel om ’n soort loutering te wees nie? Solank jy kan vashou aan die avontuur van groei. Solank jy bybly. Solank jy elke dag opstaan en die son en die vlaktes of berge of gewoel van die stad merkwaardig vind. Elke dag het ’n laggende rooi tong, nes ’n geel labrador. God slaap nie.

Wat het die ambivalensie tussen Afrikaans en Engels in jou kinderjare?(deur ’n ouer uit elke taal) na jou gebring?

Dit was nie soseer twee mooi tale wat teen mekaar stoei nie; eerder twee leefwêrelde. My pa se mense is diepgewortel in landskap, geskiedenis en bloed. Ek voel bevoorreg om uit daardie geslag van mense te kom. My ander seëning was die Engelse familie van my ma met sy eksentrieke vroue en mense uit die Wes-Kaap. Ligter, minder betrokke by kwessies en vryer. Ek kon twee benaderings tot ons land en sy probleme belewe. Ek kon verskriklik wroeg en terselfdertyd ook vry voel.

Beskou jy jou as ’n alternatiewe skrywer? Of hoe sou jy jouself as skrywer tipeer?

Alle kunstenaars moet “die ander kant” verken. “Alternatief” is ’n erg gestigmatiseerde term. Maar as jy iets nuuts wil skep en vreemd wil maak, moet jy teen konvensies ingaan en die alternatiewe anderkant die voor-die-hand-liggende ondersoek. Dit spreek vanself dat dit baie risiko’s dra, baie inspanning verg en jou ook erg kan isoleer, maar dit kom met die terrein.

Hoe bring jy stilswye tot woorde?

Ek doen dit nie. Karakters wat in my boeke opdaag, doen dit. Ek skrywe neer wat ek uit hul monde hoor.

Wat sou jy wou sê oor die verskeie stemme wat oor Asbesmiddag opgegaan het?

Kyk, dis my voorreg om die boek in die publieke sfeer te plaas, en dis ander mense se voorreg om hulle daaroor uit te laat. Of ek die boek goed geskryf het, is een vraag, maar die ander vraag is natuurlik of hulle die boek goed gelees het. En ek sien daaroor is daar omstredenheid.

Jou liefde vir die kabaret en die skryf daarvan – waar kom dit vandaan?

Die kabaretgenre was ’n lekker manier om politieke protes mee aan te teken in veral die jare tagtig. Waar die roman of die literêre kortverhaal meer verskuild en kompleks met dinge omgaan, en die politieke pamflet of toespraak of koerantbrief dalk te skril is, was kabaret ’n lekker vuis om te bal. Ek het my kabarette Onder ekstreme provokasie en Ekskuus vir die wals, wat in die jare tagtig opgevoer is, baie geniet – ook toe ons byna uit die ou Nico Malan (nou Kunstekaap) gegooi is weens die een song met die naam Kwela vir Mandela.

Wat van die regsberoep het jou geslyp om skrywer te wees? Watter bydrae het dit tot jou skrywerskap en menswees gelewer?

Ek het in die tyd in ’n prokureurspraktyk geweldig baie insig gekry in mense. Dit was ’n intense en belangrike leerskool. Ek was ’n kadet van die lewe. Ek was nie soseer in die jurisprudensie geïnteresseerd of in die bewysmateriaal nie. In plaas van om te vra “In watter hand het hy die mes vasgehou?” wou ek eerder vra: “En hoe’t jy gevoel toe die mes by vlees insak?” Dit was dus die oog van die romanskrywer, die duiwelsadvokaat, waarmee ek gekyk het, en nie die oog van die staatsaanklaer of advokaat vir die verdediging nie.

Watter genre; romans, kortverhale, poësie?of samestellings trek jou die meeste en sal jy na terugkeer as jy net een een genre-keuse sou hê?

Die roman boei my eindeloos. Wat my bly lok, is die volmaakte roman wat ek nog altyd wil skrywe. Van probeerslag na probeerslag trek ek op na die heilige graal – daardie een, volkome inpalming van die genre. Gaan ek Everest se kruin bereik? Natuurlik nie. Die roman is ’n geheimsinnige, ontglippende kunsvorm. Dis ’n gedaante wat jou ontgaan. Dis gedoem tot onvolmaaktheid.

Hoe sinchroniseer jy jou besige lewe met die van jou vrou, wat ’n praktiserende dokter is? Vertel meer oor jul twee dogters...

My vrou praktiseer hier veertig tree van ons huis af, in die historiese kern van Stellenbosch. My twee dogters studeer albei op Stellenbosch. Ons is ’n erg besige gesin, en dis veral LitNet, my werk aan die Universiteit van Kaapstad en ook die administrasie rondom my skryfwerk en die baie reise wat daarmee gepaard gaan, wat my besig hou. Ek gryp egter skryftyd waar ek kan soos wanneer ’n storie soos Dertig nagte in Amsterdam my oorrompel en alles wegdruk, byna soos ’n virus op ’n rekenaar se hardeskyf wat als wegdu en selfsugtig spasie opeis. My kinders het grootgeword met ’n pa wat selfs op Nuwejaarsdag werk. Maar ek werk altyd met ’n oop deur, en hulle mag my enige tyd in die rede val.

Die Karoo is...

...weemoed, kaalte, toeverlaat en nederigheid.

Wat het jou laat besluit om LitNet te begin en waar sien jy LitNet oor ’n paar jaar van nou af?

Ek wou Afrikaans die kuberruim inneem. Ek voorsien dat taal uiteindelik gaan losmaak van geografiese gebied. Dat dit belangriker gaan wees dat Afrikaans in die kuberruim gepraat word as in die Vrystaat. Ek praat van ver vorentoe. En LitNet is die voorste Afrikaanse virtuele gemeenskap. Dit verg daaglikse bestuur van my kant en ek moet veral naweke skouer aan die wiel sit om als gedoen te kry. Ek is dus nog betrokke by die mikrobestuur en detail van alle aspekte van hierdie virtuele gemeenskap. Dis vir my ’n fassinerende projek. Maar hy vreet aan my tyd en energie!

Wat is jou mening oor die grense tussen werklikheid en fiksie??Kan daar ooglopende?ooreenkomste tussen fiktiewe karakters en werklike persone in ’n publikasie gehuisves word?

Die grens tussen taal en wêreld is iets wat poreus is. Osmose. Werklikheid voed fiksie, en andersom. Die een teer op die ander. Dis een van die temas – dalk die hooftema – van Asbesmiddag. En dan veral die etiese aspekte daaraan verbonde.

Hoe sou jy sê moet ’n wel-funksionerende universiteit daar uitsien?

Die administratiewe masjinerie van ’n universiteit moet die akademiese komponent ondersteun. In die ou dae het die administrateurs vir die akademici gewerk, deesdae voel mens dat die akademici eerder vir die klerke werk! Daar was ’n magsverskuiwing. A nee a!

Wat wil jy nog skryf en wat laat jou aanhou skryf?

Daardie werklike groot roman, ek gaan hom nog skrywe! Patalogie – dit laat my aanhou skryf!

Ek lees jy sê jy werk bewustelik aan ’n oeuvre. Wat is jou rasionaal daaragter?

My oeuvre is ’n stelling van my persoonlikheid. Elke boek is ’n meubelstuk wat ek in die kamer van my gees neersit. Vorige boeke staan ook as meubels daar rond. Die nuwe ene moet ’n gesprek aanknoop met die ouer stukke. Hy laat my my ouer meubels só skuif en só. Als lyk anders wanneer jy hom indra. Elke nuwe boek wil staanplek hê en deel wees. As jy die kamer instap, moet dinge saamhang. Ek is ’n binneversieder wat bly torring aan sy binnekamer.

Wil jy in volgende boeke nog spesifiek téén iets skryf?

Elke boek besluit vir homself waarteen hy dit het.

Wat lees jy graag?

Ek lees wyd, ook nie-fiksie. Ek lees graag CD-omslae, mense se gesigte, die oggendkoerant en Slate.com. Ek lees die N2 wanneer ek Kaap toe jaag en ek lees die Stellenbosse berge wanneer ek terugry uit die stad. Ek lees Amsterdam se water en ek lees my herinneringe. Ek lees my honde se gesigte en ek lees veral die gesig van die dood. Om gretig te lees, is belangrik. Maar belangriker is dat mens self ook iets wat gelees kan word, skep. Jy moet merke maak. Nie noodwendig op papier nie. Maar in olieverf, in iemand se gemoed, in jou hond se lojaliteit. Jy moet jou naam op die boombas van jou dae skrywe, en jou handtekening maak. Die mens is mos homo significans, die een wat tekens skep. Wat betekenis gee. Wat homself oral inlees.

Watter geregte nuttig jy graag?

Ek is ’n bok vir die restaurantlewe. Ek eet graag in hotels, al het my pa gesê mens eet nie in ’n hotel en slaap nie in ’n restaurant nie. Ek eet bykans enigiets, solank dit goed bedien word. Ek hou van blomme op die tafel en eet tuis altyd middag- en aandete en dikwels ontbyt ook met ’n kers. My vrou is uit ’n Duitse Katolieke agtergrond en kerse is groot in ons huis. Kerse laat jou fokus. Soms is die huis, voel ek, een groot vlam. En dan kan mens mos lekker eet. En wyn en kerse, wat gaan beter saam?

Wat is suurlemoentee, motorbande en blou vir jou?

Suurlemoentee is, stomend en geurig soos dit wel is, vir my iets wat my aan ’n maagaandoening laat dink. Jammer. Motorbande herinner my oombliklik aan die alsation Monty, wat ’n fetish met motorbande gehad het en nooit kon ophou kou aan motors se wiele nie. Blou is Picasso se blou kitaarspeler, ’n afdruk wat lank in ons huis gehang het. Blou is ook my vrou se oë. En blou is die Napoleonborde, waaroor ek in Dertig nagte in Amsterdam skrywe, die borde wat als begin het...

En só wil jy nie ’n einde aan antwoorde, wat soos ’n storie verwoord word, verklaar nie..

Maar “the caravans move on“ en uiteindelik moet jy “buk in die wind”.

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer