Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

Lewensherinneringe draai ver
Jul 21 2008 12:28:53:397PM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

SONKYKER – AFRIKANER IN DIE VERKEERDE EEU

J.C. Steyn

Tafelberg, R254

Resensent: Dr. Annette Jordaan,- senior lektor, departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria

Dit was met innige vreugde dat ek J.C. (Jaap) Steyn se “lewensherinneringe” – aangevul deur gegewens uit “koerante, tydskrifte, boeke en dokumente in argiewe en biblioteke, asook dokumente in (sy) besit, soos briewe en dagboeke” (aldus die woord vooraf – bl. ix) – ter hand geneem het.

Die hardebandboek is besonder keurig uitgegee deur Tafelberg met twee pragtige foto’s – van ’n mooi, ernstige klein Japie op die voorblad en die ouer, steeds ernstige akademikus en skrywer en denker en taalfilosoof, Jaap Steyn, op die agterblad.

Die skrywer self beskou sy boek nie as ’n outobiografie of volksbiografie sonder meer nie, maar as ’n “tussen-inner”.

Nietemin sal die leser, geïnteresseerd in die vorming, invloede, werkwyse en taalpolitieke denke van ’n markante navorser, skrywer, biograaf en “taalstryder” op die Afrikaanse en groter Suid-Afrikaanse taalpolitieke toneel, soos wat Jaap Steyn vir etlike dekades reeds is, “tussen-in” tog antwoorde op sekere tergende vrae kan “raak lees”.

Reeds in die eerste afdeling, “Fragmente van ’n voorgeskiedenis”, waarin vertel word van “voormense” en van ouer familielede se herinneringe, loop daar ’n goue draad deur: Manie Steyn, broer van die skrywer se oupagrootjjie, was “dit hart en siel eens met die manne van die Eerste Taalbeweging” (bl. 15) en terselfdertyd was hy iemand van wie ds. J.D. Kestell gesê het dat sy “intellektuele krag” die jong predikant met “verbasing” vervul het; Manie en sy broer, Jacobus Frederik Arnoldus, oupagrootjie van die skrywer, was die agterkleinseuns van Hermanus Steyn, wat met ’n opstand van Swellendamse burgers teen die Vereenigde Oost-Indische Compagnie in 1795 gekies is tot “praesident” of voorsitter van die nuwe nasionale vergadering.

Nietemin word hy getipeer as iemand wat “ietwat bedeesd was” en “begerig om mense te behaag” – volgens die skrywer “ ’n tipiese Steyn” (bl. 22).

In die “driejarige oorlog” was die Steyns van die Kaapkolonie republikeins-gesind en het van hulle ter wille van “het lot van het Afrikanerdom” (soos ’n biljet wat deur die Vrystaters in die Noord-kaap versprei is, aangemoedig het) as “rebelle uit eie beweging” by die republikeinse strydmagte aangesluit.

Ten tyde van die 1914-rebellie was vier van die ooms van die skrywer deel van genl. De Wet se rebellekommando en een van hulle, Koos, is dodelik gewond in ’n aanval deur regeringsmagte en het gesterf terwyl sy broer Hendrik by hom gekniel en uit magteloosheid “stukke gras afgepluk of uitgetrek het” (bl. 44). Die goue draad?

Die Steyn-voormense was idealiste, mense van oortuiging, lief vir hulle volk en taal, bereid om selfs die hoogste prys te betaal vir dit waarin hulle geglo het. (Maar tog ook “ietwat bedeesd” en begerig om te behaag!)

Kortweg kan van die voorgeslag gesê word wat J.C. Steyn later in die slothoofstuk van sy MER-biografie so treffend aanhaal: Dit is woorde van P.A. Joubert, by die begrafnis van sy swaer, wanneer hy laasgenoemde tipeer as “ ’n treffende voorbeeld van boereadel”.

Boere-adel word verduidelik met verwysing na Theo Haarhoff se proefskrif oor die opvattings rondom die Romeinse “landman”: iemand met pietas (’n liefdevolle lojaliteit aan familie, land en gode), gravitas (morele waardigheid), virtus (manlikheid en moed) en simplicitas (eenvoud) (bl. 374).

En myns insiens is dit dieselfde “goue draad” – die klem op lojaliteit, morele waardigheid, moed en eenvoud (maar nié in die sin van “plat Boers” nie) – wat ook al die ander afdelings van hierdie aangrypende teks kenmerk: die Fragmente van ’n skoling – as kind op die plaas en met eie verantwoordelikhede, aangenaam maar ook minder aangenaam, die plaasskool, hoërskool op Petrus Steyn, universiteitsjare aan die UOVS en nagraadse studie aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam en ook die eerste jare as joernalis; Ontmoetings en afskeide oor die afskeid van die plaas, die ervarings as dosent aan die UPE en die RAU, ’n tydlank as Rapport?-joernalis en die “tuiskoms” na Bloemfontein in 1984 as professor-navorser.

In die laaste afdeling, Eindes en beginne, gaan dit veral oor die skryf van die NP van Wyk Louw-lewensverhaal, die produktiewe en gelukkige jare in Bloemfontein en die veertien jaar ná die vader se dood, toe die merkwaardige en blymoedige moeder, Ma, by die skrywer in sy meenthuis ingetrek en hulle kosbare lees- en kuiertye saam gedeel het tot met haar dood in 2003.

Weggesteek tussen die vertellings oor die doen en late en prestasies van talle ander mense op die skrywer se pad – familie, vriende en kollegas na wie deurgaans met respek, vriendelikheid en dikwels deernis verwys word – kom daar darem (gelukkig!) ook iets van Jaap Steyn se eie lewensgeskiedenis en prestasies uit die verf: Oor die skryf van sy verskeie belletristiese en taalpolitieke of taalhistoriese werke, die talle pryse wat hiervoor toegeken is (soms onvriendelike resensies ten spyt, en waarna hy, terloops, nie huiwer om te verwys nie), en die drie grootste biografieë oor drie groot Afrikaners.

Die skrywer maak geen geheim daarvan nie dat hy in die sewentigerjare ’n kampvegter teen die apartheidsbeleid was en “gewaagde artikels” in Rapport geskryf het (aldus Rykie van Reenen) (bl. 255).

Andersyds egter maak hy ook geen geheim daarvan nie dat sy passie vir Afrikaans en sy taalpolitieke navorsing (soos onder meer vir Tuiste in eie taal rondom die behoud of verlies van minderheidstaalregte in ’n “eenheidstaat”) hom sedert die tagtigerjare een van die sterkste kampvegters vir die behoud van Afrikaans se status in die nuwe bedeling gemaak het.

Ten spyte van heelwat “feite” oor mense en gebeure, is dit ’n hoogs leesbare en boeiende teks, met erns en luim goed afgewissel.

Die menslike element het hierdie leser deurgaans gevange gehou.

Die briewe wat Ma namens die kuikens aan “baas Japie” skryf, is kostelik, en haar eie vertelling oor die ou “groen trommeltjie” wat soveel treinreise en wel en wee saam met haar voorgeslag en later met haar saam meegemaak het, kosbaar.

Aangrypend is ook dié woorde op die voorlaaste blady (bl. 383): “Onberekenbaar was die opofferings van ’n hele geslag Afrikaners vir hul kinders se ‘geleerdheid’.

“Vir geleerdheid, en veel meer.”

Dit is dus ook nie vreemd nie dat die laaste woorde as’t ware Van Wyk Louw se “sterwende soldaat” teëspreek en lui: “Miskien sal iemand later tóg ‘mooi dinge van ons weet’ ” (bl. 384).

Elkeen met ’n belangstelling in die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, elkeen met ’n passie vir Afrikaans – maar ja, ook elkeen wat wil weet hoe ’n belangrike en onmisbare segment van die Suid-Afrikaanse bevolking se kop werk – behoort Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu onverwyld te koop én te lees.

Teken in op Volksblad


Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer