Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

Leon-outobiografie bo in genre
Aug 18 2008 03:21:22:533PM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

ON THE CONTRARY

Tony Leon

Jonathan Ball, R250 (sagteband)

R325 (hardeband)

Prof. Ockie  Geyser - emeritus-professor, departement geskiedenis, UV

Dit is te begrype dat daar vir geruime tyd om verskeie redes met afwagting en ook met berekende entoesiasme na die verskyning van Tony Leon se outobiografie uitgesien is.

Maar maak jou daarvoor gereed dat dit veel meer as net ’n outobiografie is. Dis sonder enige noemenswaardige teenspraak die wetenskaplike, in-diepte-ontleding en die daarmee gepaardgaande vertolking van die politieke geskiedenis van Suid-Afrika die afgelope bykans twee dekades. Die titel is nie net beskrywend nie, maar ook uiters gepas; veral die subtitel: Leading the Opposition in a Democratic South Africa.

Leon is akademies-wetenskaplik sterk onderlê en dit word duidelik in die boek weerspieël. Dit kan dan ook nie anders nie, want dit is juis sy stewige akademies gefundeerde toesprake in die parlement, wat deurgaans indruk gemaak het.

Lees maar Hansard en ook sy gepubliseerde toesprake in die breë en jy sal die voortreflikheid daarvan sien. Voeg dan ook nog daarby Leon se wyd belesenheid, wat in ’n sekere sin, bykans legendaries geword het. ’n Kenmerk waarvan sy kollegas in die parlement sal kan getuig. Hy het by meer as een geleentheid sy politieke opponente met sy skerp intellek en gerigte spitsvondigheid ongemaklik in hul sitplekke laat rondskuif.

Hierdie is dié tipe van publikasie wat ’n mens graag van politici sou wou sien. Dit is ’n publikasie wat jou hoop gee dat daar darem nog, alhoewel betreklik dun gesaai, politici is wat die vermoë besit om te dink en te weet waarvan hulle praat.

Wat my as historikus besonder beïndruk, is dat hoewel die boek sterk akademies georiënteer is, dit nie vir slegs ’n handjievol mense toeganklik sal wees nie. Leon raak nie verstrengel in die feite wat hy aanbied nie. Hy vertel sy verhaal op interessante wyse en is onderhoudend. Om hierdie rede sal die omvang (766 bladsye) van die boek nie afskrik nie.

Vanaf die eerste hoofstuk word die leser aangegryp deur die outeur se prakties ingestelde modus operandi wat ’n bewys is van insig, gebalanseerdheid en vaardigheid in die benadering en in die hantering van die feite.

Tony Leon hanteer die uiters moeilike genre van die outobiografie, die moeilikste in die geskiedenis-wetenskap, met groot gemak en met besliste doelgerigtheid. Dit interesseer my dat ek by die outeur in die aanbieding van sy feite ’n vooropgestelde strewe na uitermate gerigte bevoegdheid en professionaliteit vind.

Leon skryf interessant van sy Russiese voorsate, sy groot-groot-ouers aan vaderskant, dr. David Drusinskey, en sy eggenote, Bluma. Hulle het in 1896 na Suid-Afrika geïmmigreer vanaf die Krim via Konstantinopel. Sy groot-moeder Tamara is tydens die reis na Suid-Afrika gebore. Leon se vader, Ramon, het op die ouderdom van 41 jaar regter in die hooggeregshof van Natal geword.

In Februare 1986, ná sy tydperk in die akademie, rig Leon sy oog op die politiek. Hy veg sy eerste verkiesing in die vakante Bellevue-setel in die Johannesburgse stadsraad. Hy wen dié setel met ’n skrale 39 stemme teenoor sy NP-opponent S.G. Bloomberg.

In die tydperk 1986 – 1987 lewer Leon ’n betekenisvolle bydrae in die stadsraad, later ook as leier van die PFP in die raad.

Hy oorleef sy eerste politieke vuurdoop en wel op plaaslike vlak met grasie. Die mense om hom begin toe reeds voorspel dat Tony Leon op pad parlement toe is.

Toe die veteraan-politikus Helen Suzman in 1989 aankondig dat sy ná 30 jaar in die parlement uit die politiek tree, sou die Houghton-kiesafdeling, waarmee Suzman ’n bykans veertig jaar lange verbintenis gehad het, vakant word. Partylede het hul oë op die jong, maar dinamiese Tony Leon gevestig om Suzman in Houghton op te volg. Hiervan wou sy nie hoor nie. As dit van haar afhang, sou Leon haar nié opvolg nie. Hy was eenvoudig nié haar keuse nie. Sy het haar besluit geneem gehad en het daarby gestaan. Irene Menell was haar keuse en niemand sou haar anders kon oortuig nie. Die vermaarde koerant-redakteur Joel Mervis, getroue vriend van Suzman, het dit gewaag om van haar te verskil. Mervis was van mening dat “Mr Leon has the aggression and leadership needed in parliament”.

Tony Leon word eventueel in die benoemingstryd as die PFP-kandidaat vir Houghton aangewys. Hy wen dié setel wat in daardie stadium reeds ’n besondere plek in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika ingeneem het.

Met hierdie betekenisvolle oorwinning vir só ‘n jong man dui Leon in ’n verklaring sy politieke visie duidelik aan: “South Africa was about to enter a new age, and I was sure that the old, noble verities which has sustained the Progressive Party needed refurbishing and reinvigoration”.

Ná Leon se toetrede tot die parlement vertel hy hoe diep ingenome hy in daardie stadium was met sy vinnige, amper meteoriese, opgang in die politiek tot toe. Hy was op die toppunt van sy jeugdige, politieke ambisie. Spoedig sou hy egter met die harde en ongenaakbare werklikhede van die politiek gekonfronteer word. In ’n stadium het die Demokratiese Party (DP) slegs 7 LV’s en drie senatore gehad. In Maart 1996 het die DP-koukus uit slegs 11 lede bestaan. Leon skryf dat hierdie 11 vasberade was om eventueel die grootste opposisiemag in die land te word. Slegs drie jaar later het hulle hierdie getal LV’s vyfvoudig vermeerder! Leon het vir 13 jaar lank die Demokratiese Alliansie (DA) en sy voorganger gelei. Met sy toetrede tot die parlement het Leon aktief betrokke geraak by die kritieke grondwetlike onderhandelinge by Kodesa I en II, wat eventueel tot die aanbreek van ’n demokratiese Suid-Afrika gelei het. Hy neem sy plek in die voorste linies in van nasionale en internasionale gebeure; as vooraanstaande parlementariër, begaafde redenaar én outeur.

Wanneer hy sy parlementêre ondervindinge verhaal, is Tony Leon op sy beste. Daar is talle persoonlike en politieke staaltjies wat lesers interessant sal vind. Ook is daar geen onsmaaklike en kamtige onthulling nie. Wat my opval, is dat Leon in die hantering van sy politieke opponente, nooit platvoers en beledigend na hulle verwys nie. Ja, hy is skerp en op die man af, maar nooit aftakelend en beledigend van aard nie.

Oudpres. F.W. de Klerk het werklik nooit op Leon ’n besondere indruk gemaak nie: As president was hy briljant met die dramatiese aankondigings van tyd tot tyd; hy het al die tooisels van die hoë amp gehad, maar daar was min of niks van die substantiewe nie. Marthinus van Schalkwyk – ’n man met ’n beperkte teenwoordigheid – het, volgens Leon, kort nadat hy in die palement gekom het, voelers na hom begin uitsteek.

Mandela en Leon het groot agting en waardering vir mekaar gehad. Lees maar Mandela se verwysing na Leon op die agterkant van hierdie publikasie se stofomslag. Leon het selfs met Mandela in gesprek getree toe die koue oorlog tussen hom (Leon) en Mbeki op die hoogste vlak was. Leon skryf dat hy verskeie kere na Mbeki uitgereik het, maar sy pogings om ’n glasnost tussen hulle gevestig te kry, het misluk.

Maar dit was vir Tony Leon in die politiek nie altyd maanskyn en rose nie. Daar was die tye toe hy sterk teenstand ook in eie geledere ondervind het. Met vasberadenheid het hy die mas opgekom om ’n wesenlike bydrae op talle terreine te lewer.

Leon publiseer wyd in akademiese joernale, tydskrifte en die media: Time Magazine; The Spectator; Harvard International Review; The Sydney Morning Herald; The Daily Telegraph. ’n Versameling van sy toesprake en artikels is in 1998 in die boek getitel Hope and fear: Reflections of a democrat gepubliseer. Ná sy uittrede as leier van die DA is daar aan Leon ’n genootskap van die John F. Kennedy School of Government, Harvard, Amerika, toegeken.

Die funksionele voetnoete by elke hoofstuk is van groot waarde. Dis volledig en sinvol. Die handige indeks aan die einde van die publikasie rond die metodologie eie aan dié publikasie goed af. Die foto’s wat opgeneem is, vertel ’n interessante verhaal in eie reg.

Ek plaas hierdie boek in die klas van Sir Anthony Eden (Lord Avon) se Memoirs; Sir Alec Douglas-Hume (Lord Home) se The way the wind blows en Dame Margaret Thatcher se The path to power en The Downing Street Years. Vir my is dit een van die bestes, indien nie dié beste nie, wat die afgelope tyd in die genre in Suid-Afrika verskyn het. ’n Waardevolle toevoeging tot die Suid-Afrikaanse historiografie.

Mylpale in Tony Leon

  • Leon ontvang sy skoolopleiding onder meer aan die bekende Kearsney College in Natal. Hy getuig dat Kears-ney ’n diepgaande en rigtinggewende invloed op sy vorming as mens gehad het.

  • Hy het sy opleiding as regsgeleerde aan die Universiteit van die Witwatersrand gekry, waar hy ná sy studies op jeugdige ouderdom as dosent in Konstitusionele Reg, tot die akademiese doseerkorps toegetree het.

  • Aan Wits maak hy nie net op akademiese gebied groot indruk nie, maar ook op die studentelewe in die algemeen en in besonder as lid van die studenteraad vir ’n paar jaar agtereenvolgens.

  • Vir hom, sowel as vir sy vader, was dit ’n besondere geleentheid toe regter Ramon Leon die hoofrede lewer waar sy jongste seun, Tony, sy LL.B.-graad ontvang.

  • Leon tree tot die parlement toe in die laaste kwart van 1989 op die jeugdige ouderdom van 32.

  • Hy het die DA en dié se voorganger van sy marginale posisie, in die stadium wat hy as leier oorgeneem het en dit op die drumpel van uitwissing was, gebou tot die tweede grootste politieke mag in Suid-Afrika.

    Teken in op Volksblad


  • Vind
    Reis en Verblyf
    Direct Axis Lenings
    Werksgeleenthede
    Versekering Vir Vroue
    Top Afrikaanse Boeke
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende


    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer